Alle paartjies stry nou en dan, maar hoe jy dit doen, is belangrik vir verhoudingsgeluk. Hier is 10 maniere om konflik gesond te hanteer
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
1 Behou jou respek vir jou maat
Jy het vir ʼn rede vir jou maat lief geword en hy of sy verdien om gerespekteer te word. Moenie afbrekende dinge sê wat jy gaan berou nie.
2 Wees oop vir ʼn ander standpunt
Jy dink jy’s reg, jy weet eintlik jy is reg, maar luister steeds na jou maat se standpunt. Wat probeer hy of sy sê?
3 Pasop vir aanval
Sielkundiges sê dit altyd, maar ons vergeet dit eintlik verbasend gou. In plaas van “Jy het al weer dit en dat gedoen” sê liewer “Dit voel vir my asof … of “Ek ervaar dit as …”
4 Probeer om nie die argument te laat “oorstaan” nie
Praat dit uit en handel dit af. As jy eers kwaad gaan slaap en dan moet gaan werk, gaan alles erger voel en dinge kan dan lelik handuit ruk.
5 Moenie voor die kinders of enigiemand anders baklei nie
Dit ontstel gewoon ander mense en niemand wil van ander se vuil wasgoed hoor nie. Dis boonop erg ongemaklik vir ander mense as hulle na jul stryery moet luister. Kinders voel onveilig en ontspoor as hul ouers baklei. As julle wel voor jul kinders van mekaar verskil, doen dit hoflik en laat hulle besef dat julle steeds mekaar liefhet, maar ouers verskil nou en dan van mekaar.
6 Moenie dreig nie
Dis maklik om te sê “kom ons skei eerder net” of “ek gaan my goed vat en loop”, maar dis nie die volwasse manier van konflikoplossing nie. Probeer kalm bly.
7 Vat ʼn blaaskans
As jy sien dinge raak te hittig, vat ʼn blaaskans. Sê: Kom ons koel eers af en dink ʼn bietjie na voor ons die kwessie verder bespreek.
8 Sê wat jou pla
Moenie dinge opkrop nie, praat dit eerder uit. Onthou ook dat stilstuipe nooit help om konflik op te los nie; inteendeel, dit vererger dinge net.
9 Sê jammer
Daardie woordjie is belangriker as wat jy dink. Sê jammer vir jou aandeel en probeer om die konflik doeltreffend uit te sorteer.
10 Moenie agterna vir almal van jul argument vertel nie
Jy gaan dalk al lankal van die kwessie vergeet het, maar jou ma gaan onthou en dalk nog vir ʼn ruk ook vir jou maat kwaad wees.
BRONNE: www.foryourmarriage.org