Vinnige feite oor Maria Callas, een van die wêreld se mees gevierde soprane
“Diva” is ‘n beskrywing wat tradisioneel vir ‘n operasangeres van formaat gereserveer word – en feitlik altyd vir ‘n sopraan. “Godin” sou die vertaling wees vir diva. En divas sou sangeresse soos Birgit Nilsson (1918-2005), Leontyne Price (1927), Beverly Sills (1929-2007) en Maria Callas (1923-1977) wees.
Maar daar was maar een La Divina, die bynaam vir die Callas, soos daar ook na Maria Callas verwys word: Die vrou wat gebore is as Maria Anna Sophie Cecilia Kalogeropoulos en in die naamrol in Puccini se Tosca die aandag van die wêreld op haar gevestig het. Haar debuut in Italië was in Verona in 1947 en haar Met-debuut in New York het in 1954 gekom met Bellini se Norma. Sy het jare lank die operawêreld aan haar voete gehad.
Wat ‘n mens onmiddellik moet byvoeg, is dat, soos wat jy geswore Callas-aanhangers kry, jy eweneens dié kry wat koud gelaat word deur haar stem en vertolking.
Wat het haar dan tot La Divina verhef?
In ‘n neutedop:
- Callas het die rolle wat sy moes sing, anders as haar voorgangers benader. Sy het die rol met die volledige orkespartituur instudeer sodat sy haar uitbeelding van die karakter kon laat saamval met die klankwêreld wat in die musiek tot stand gebring word. Daarby was sy ‘n voortreflike aktrise wat die dramatiese aspek van opera nie net verstaan het nie, maar ook besonder ekspressief daaraan uiting gegee het.
- Callas was ‘n gehoorliefling. Sy was mooi, stylvol en sjarmant en haar verhouding met die Griekse magnaat Aristoteles Onassis het later tot haar openbare statuur bygedra. Sy het in die 1950’s aandag getrek toe sy besonder baie gewig verloor het en uit ‘n plomp sangeres in ‘n elegante skoonheid ontluik het. Sy was temperamenteel en nie beskroomd nie.
- Callas se stem en benadering was nie perfek nie, maar sy het dit wat tot haar beskikking was, ten volle benut.
Daar is mense wat meen die radikale gewigsverlies het tot haar stem-agteruitgang en die gepaardgaande voortydige beëindiging van haar verhoog- en opname-loopbaan bygedra.
Ná haar verhouding met Onassis in 1968, toe hy met Jacqueline Kennedy getroud het, het Callas haar in haar woonstel in Parys teruggetrek, waar sy in 1977 dood is.
Kort biografie
Toe George Kalogeropoulos, ‘n Griekse immigrant, in 1927 ‘n apteek in ‘n Griekse buurt in New York open, het hy ter wille van sy Amerikaanse klante sy van eers na Kalos verander en later na Callas. Maria is in 1923 in New York gebore en op drie was daar die eerste aanduiding dat dié kind wil sing.
Haar sangopleiding het sy in Athene gekry.
In 1941 het sy haar professionele debuut in ‘n klein rol in Von Suppé se Boccaccio gemaak. In 1945 is sy terug na die VSA. Die volgende jaar het sy Turandot in Chicago gesing voordat sy Verona, Italië, toe is waar Tullio Serafim ‘n dramatiese sopraan vir La Gioconda gesoek het. In Verona het sy Giovanni Battista Meneghini ontmoet met wie sy later getroud is. Die verhouding het geduur totdat Onassis op die toneel verskyn het.
Rolle waarin Callas uitgeblink het
Die naamrolle in Norma (Bellini) met Serafim as dirigent in 1954; teenoor Nicolai Gedda in Carmen (Bizet) in 1964; in Anna Bolena (Donizetti) in 1957; in Lucia di Lammermoor (Donizetti) in 1955 en teenoor Giuseppe di Stefpano en Tito Gobbi in Tosca (Puccini) in 1953.