As jy van brandkos hou, is jy gelukkig, want volgens ‘n nuwe studie kan dit die geheim vir ‘n langer lewe wees
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Navorsers aan die Universiteit van Vermont het meer as 16 000 Amerikaanse mans tussen 1988 en 1944 geanaliseer. Hulle het gevind dat oor ‘n tydperk van 19 jaar het ongeveer 34% gesterf, maar toe die data beperk is tot dié wat brandrissies eet, het die syfer tot 22% geval.
Die resultate is in die joernaal Plos One gepubliseer en hulle glo dit het iets met die “capsaicin” te doen wat in rissies voorkom. Capsaicin word gebruik om artritis te behandel en is ‘n doeltreffende pyndoder.
Dr Benjamin Litternberg sê dit wil voorkom asof die capsaicin ook inflammasie in die liggaam verlaag. Die sterftes wat die minste in die brandrissiegroep voorgekom het, was sterftes weens vaskulêre siekte, hartaanvalle en beroertes.
Hierdie resultate ondersteun die resultate van ‘n 2015-studie wat brandkosse met ‘n verminderde sterfterisiko verbind het.
Die studieleiers erken wel dat verdere studies vir konkrete resultate nodig is en dat daar wel baie beter maniere is om jou gesondheid te verbeter as om op ‘n brandrissiedieet te gaan.
BRON: www.telegraph.co.uk