Nathan Dorian Bartman (24) is ‘n boorling van Eersterivier, Kaapstad. Hy werk en woon nou al sedert 2015 in Londen, as ‘n permanente lid van ACE Dance and Music se toergeselskap.
Dié kunstegeselskap is al 20 jaar lank in Birmingham in die Verenigde Koninkryk gevestig en toer wyd in die buiteland.
Nathan het in Desember huis toe gekeer om weer die hoofrol in die Cape Dance Company se dansproduksie A Thousand Shepherds, met regie deur Debbie Turner, te vertolk.
Nathan het al in talle teaters in Suid-Afrika opgetree (Artscape, Baxter, Oude-Libertas) by die Grahamstad- en KKNK-kunstefeeste – en in die buiteland: onder meer in die Millenniumteater in Wallis, ook in San Francisco, New York en talle Europese teaters.
Hy peins oor die welstand van dans in Suid-Afrika. “Dis redelik gesond danksy die groep mense daarby betrokke. Ons ondersteun mekaar almal. Die enigste ongesonde deel is die gebrek aan geleenthede. Daar is nie genoeg mense wat die inisiatief wil neem om hul eie volhoubare projekte te begin en werk te skep nie. Die grootste uitdaging is die gebrek aan befondsing in die land vir dans.”
Nathan skep sy eie werk.
Hy het wel nie vanjaar ‘n Europese Kersfees met sneeu kon ervaar nie, maar hy verruil die Kersfees van 2016 en die Nuwejaar onder die Afrika-son nie daarvoor nie. Dié tydjie tuis het hom opnuut aan sy kinderdae herinner: “My pa het pyp gerook en ek het kleintyd, wanneer hy nie daar was nie, die pyp opgetel en gemaak of ek dit rook. My ma was ‘n snaakse karakter. Sy sou dikwels verskonings maak sodat ek nie skool toe hoef te gaan nie en eerder tyd saam met haar kon deurbring. Ek mis hulle. Dit was goed om saam met familie, vriende en my meisie te kon kuier, te braai en tussendeur my optredes te ontspan. Nooit té veel nie, want jy moet gefokus bly. Ek is opnuut begeester om myself deurentyd te verbeter. Ek wil kan terugkeer Suid-Afrika toe om my vaardigheid en kennis met my mense te deel!”
Loer gerus na sy werk by: https://www.youtube.com/watch?v=N9mbUTTtJDs
Nathan se gunstelinge
- Blou
- As ‘n hond met blydskap “gesels” wanneer hy my sien.
- Die reuk in die lug ná reën.
- Lemoene, soesji, kaaskoek, sodawater met lemmetjiesap
- Leeus, honde en katte
- Die protea, Aloe Vera en ‘n geelhoutboom.
- Ek geniet ‘n verskeidenheid musiekstyle en kunstenaars Die Antwoord, Michael Jackson en The Two Cellos.
- Die fliek 42 Ronin, geregisseer deur Keanu Reeves. My gunsteling-akteur is Dwanye “The Rock” Johnson
- Ek is versot JK Rowling se Harry Potter-boeke.
- Trevor Noah se The Daily Show
- Amanda Baldwin se choreografie van The Ocean
- Sokker, Christiano Ronaldo en FC Barcelona