Die Fontini’s se huis is modern, maar het ook ‘n tikkie nostalgie waar items van die goeie ou dae vertoon word
DEUR: MARYKE ROBERTS
FOTO’S: JAC KRITZINGER
Arina Fontini van die Strand is mal oor haar binnebraai wat uit haar kombuis vloei, maar hier is niks lelik aan hierdie ruimte nie! Dis nie ’n onooglikheid met geroeste skarniere of skewe deksels nie. Die braai is ’n reuse vuurherd met ’n staalarm binne, waaraan sy potte hang vir sop, potjiekos en potbrood en as daar klaar gebraai of gekook is, word daar nog hout op die kole gegooi en die kuier duur voort.
Ander idees as jy ’n binnebraai – sonder die ooglikheid – wil inrig:
- As jy ’n voorafvervaardigde braai installeer, maak die swart deksel van jou braai toe met ’n oulike deurtjie uit dryfhout of ou hout in verskillende kleure geverf.
- Sit deurtjies wat daarby pas onder die braai en stoor jou braaitange, roosters, handskoene en ander benodighede daar en skep die illusie van twee kassies, in plaas van ’n binnebraai.
- Wanneer jy die braai ontwerp, laat bou twee sement- of baksteenrakke onderin. Vul dit met hout en gebruik die kante van die braai om ’n ou koffiemeul, vleismeul, ou plaasimplemente of kosbare kombuisitems uit te stal.
- Bou vir jou binnebraai ’n oulike kaggelrak en stal allerhande versamelgoed daarop uit. Dit trek die oog weg van die lelike braaideksel.