Picasso, ‘n vriend van Chagall, het byvoorbeeld opgemerk: “As Matisse sterf sal Chagall die enigste skilder oor wees wat kleur verstaan.”
Hoewel talle kunswerke, wat die Duitse Nasionaal-Sosialistiese Party gesien het as dekadente kuns en wat nié aan die ideologie van die Derde Ryk voldoen het nie, vernietig is, het dié werk van Chagall behoue gebly toe die Duitsers besluit het om dit te verkoop en met die opbrengs eerder kuns aan te koop wat strook met die Nazi’s se skoonheidsideaal.
Die skildery is gemaak in opdrag van die Joodse vereniging vir die bevordering van kunste in ‘n Joodse skool in Petrograd (deesdae St. Petersburg) in Rusland. Chagall het vir dié skool, gekoppel aan die hoofsinagoge in die stad, ‘n reeks muurskilderye beplan wat elk ‘n Joodse fees uitbeeld.
Die purimfees herdenk die oorlewing van die Joodse volk ná die verdrukking van die Persiese koning Ahasveros. Dié fees word jaarliks heuglik gevier met die uitruil van kos en lekkernye – soos dit blyk uit Chagall se skildery. Die volledige muurskildery-reeks is nooit voltooi nie.
Dit was egter nie Chagall wat die grootste protes teen die Tweede Wêreldoorlog verbeeld het nie. Dit het Picasso met sy Guernica en Felix Nussbaum met talle uitbeeldings van die haglike omstandighede in die konsentrasiekampe gedoen. Nussbaum is in Auschwitz dood nadat hy uit aanhouding ontsnap het en wéér aangekeer is.
Chagall is al verkwalik dat sy werk nie feller kritiek lewer op die gebeure van die 1930’s en die 1940’s nie. In antwoord hierop word gewoonlik aangevoer dat Chagall van meet af die verlore wêreld van die Jode in Oos-Europa verbeeld het – en dat dit ‘n rede was dat die Nazi’s Chagall se werk gesien het as ‘n bedreiging van die Duitse droom.
Chagall (1887-1985) is in Vitebsk in die hedendaagse Belo-Rusland gebore as Moishe Segal. Dit was eers as tiener dat hy op skool kennis gemaak het met tekenkuns en daar en dan besluit het hy wil ‘n skilder wees. Op 19 het hy begin klas neem by ‘n skilder in sy geboortedorp.
In dieselfde jaar, 1906, is hy egter St. Petersburg toe waar hy aan ‘n vooraanstaande kunsskool gestudeer het. In 1907 het hy reeds naturalistiese selfportrette en landskappe begin skilder.
In 1910 is hy Parys toe waar hy ‘n eie stem ontwikkel het, droomwêreld aan die hand waarvan hy sy geliefde Vitebsk beskryf het. Hy is terug na dié dorpie om sy geliefde, Bella, om haar hand te gaan vra en om van sy werk daar te vertoon. Die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het sy terugkeer na Parys verhinder.
Tot en met 1923 het hy en Bella in Moskou gewoon waarna Chagall en sy vrou hulle in Parys gevestig het – met ‘n kort onderbreking van 1941 tot 1948 in die VSA. Bella is in 1944 dood aan ‘n virusinfeksie.
In 1952 is hy getroud met Valentina (Vava) Brodsky.
Benewens Chagall se eiesoortige vormgewing en voorstelling van fantasieryke tonele, is dit sy kleurgebruik wat ‘n mens opval. Picasso, ‘n vriend van Chagall, het byvoorbeeld opgemerk: “As Matisse sterf sal Chagall die enigste skilder oor wees wat kleur verstaan.” Sy kommentaar het verder gestrek: “Sedert Renoir was daar niemand wat ‘n aanvoeling vir lig gehad nie, behalwe Chagall.”
Marc Chagall, Purim, 1916/17, olie op doek. Dié skildery is in die versameling van die Philadelphia Museum in die VSA.
In dié kleurryke tafereel vervleg Chagall herinneringe uit sy kinderdae, Ou Testamentiese gegewens, Russiese volksverhale en eietydse gebeure. Die titel verwys na die Joodse Purimfees soos dit opgeteken is in die boek Ester. Die twee hooffigure in die skilderye ruil geskenke (eetgoed) terwyl ‘n nors handelaar besig is om ‘n klant te bedien. In die agtergrond is daar ‘n klein ruiter en perd teen ‘n blou agtergrond. Hoewel die omgewing lyk soos dié van ‘n Russiese dorpie, is daar klein figuurtjies wat aan pale hang – desnoods ‘n verwysing na Haman se seuns wat gestraf is vir hul misdade. Die teks bó in die regterkant is Hebreeus vir purim.
‘n Video gemaak in 1985, die jaar van Chagall se dood, waarin die verhaal van Chagall se lewe vertel word.
Die regisseur is Kim Evans.