Voel dit asof julle deesdae pal vassit of net oor brood, melk en die kinders gesels? Wat van ‘n lekker romantiese uitdaging om nuwe lewe in jul verhouding te blaas?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
As jy weer sien, stry jy en manlief – en oor die simpelste goed. ‘n Tandepastaproppie wat nooit opgedraai word nie, jy wat vergeet van ‘n storie wat hy al vertel het of die kinders wat gil en skree. Verhoudings kan in ‘n groef beland, maar ‘n lekker uitdaging kan weer die vonke laat opvlam.
Die blog “ProFlowers” het met hierdie 30-dae-verhoudingsuitdaging vorendag gekom. Van die uitdagings mag dalk net te soetsappig vir jou klink, maar jy kan dit bloot met jou eie idees vervang. Kyk hoe julle vorder.
Dag 1
Staar vir minstens drie minute in mekaar se oë. Klink dit simpel? Wel, ‘n UC Davis-studie het glo gewys dat as paartjies in mekaar se oë staar, hul hartslag sinchroniseer. ‘n Bietjie oogkontak kan ook help om beter te kommunikeer – dit wys dat jy na hom luister en hy na jou.
Dag 2
Gaan stap iewers en hou hande vas. Dis goed vir jul bui en gesondheid.
Dag 3
Hou ‘n piekniek vir aandete. As julle nie buite kan sit nie, sit op ‘n kombers op die vloer en eet saam. Gereelde etes saam versterk jul verhouding en om ‘n bietjie die roetine te verbreek, kan wondere vir jul gemoed doen.
Dag 4
Los ‘n spesiale nota vir jou geliefde iewers. Sê dankie vir wat hy of sy vir jou beteken. Dit is al bewys dat erkenning veral baie belangrik in ‘n verhouding is. Jou maat wil raakgesien word.
Dag 5
Doen saam iets aan die huis. Om ‘n huisverbeteringsprojek saam aan te pak, sal jul verhouding goed doen, al is dit net om foto’s uit te sorteer of jul boekrak saam reg te pak.
Dag 6
Gaan uit op ‘n afspraak. Gereelde afsprake kan jul band versterk. Doen iets lekkers saam en vergeet vir ‘n aand van wasgoed, jou moeilike baas en die kinders se mondeling.
Dag 7
Stuur vir jou maat ‘n grappie of maak ‘n snaakse persoonlike “meme”.
Die waarde daarvan om saam te lag, is al telkemale bewys. Humor kan menige situasie verlig.
Dag 8
Dans saam op jul gunstelingliedjie of trouliedjie. Dans bring julle nie net fisiek nader aan mekaar nie, maar verlig terselfdertyd ook sommer stres.
Dag 9
Gaan op ‘n bier-, kaas- of wynproe. Of koop net nuwe happies en probeer dit by die huis. Só verlei julle ʼn bietjie die sintuie.
Dag 10
Verras mekaar vandag met ‘n klein geskenkie. Dit kan ‘n blom vir haar of ‘n voetmassering vir hom wees.
Dag 11
Hou hande vas – of julle sit en TV kyk of om die blok stap.
Dag 12
Stuur vandag tien komplimente vir hom of haar. Dink mooi en verras jou maat.
Dag 13
Brand die kerse vanaand om ‘n tikkie romanse in die huis in te bring.
Dag 14
Gaan kyk na die son wat sak of opkom. Het jy geweet die natuur kan depressie verlig en jou energie ‘n hupstoot gee?
Dag 15
Doen vandag iets vir jou maat se gesondheid. Gaan gim saam, draf of probeer ‘n gesonde dis. Paartjies wat saam oefen, is energieker en glo gelukkiger.
Dag 16
Gaan op ‘n weeksdag saam vir middagete. As julle te ver van mekaar af werk en dis net nie moontlik nie, bel jou maat en gesels ‘n bietjie. Stel belang in sy of haar dag.
Dag 17
Koester die herinneringe. Kyk saam na ou foto’s en lag lekker oor al die onthou-oomblikke.
Dag 18
Speel ‘n bordspeletjie. Speeltyd is nie net goed vir kinders nie, maar ook vir volwassenes.
Dag 19
Gaan saam biblioteek of boekwinkel toe en kry vir elkeen ‘n boek. Dis nog beter as julle dieselfde boek kan kry en dit bespreek.
Dag 20
Probeer iets nuuts in die kombuis. Kook saam of vra jou maat om te kook met dit wat in jul koskas is. Dit doen ‘n verhouding goed om nou en dan iets nuuts te probeer.
Dag 21
Luister saam na ‘n podcast of nuwe liedjie. As julle saam aktief luister, versterk dit jul band en verbeter dit kommunikasie.
Dag 22
Soen jou maat in die oggend en aand. Het jy geweet, soen is selfs goed vir jou gesondheid?
Dag 23
Ry ‘n halfuur verder as gewoonlik en kyk wat in daardie buurt gebeur. Ontdek saam ‘n nuwe plek en koester mekaar se teenwoordigheid.
Dag 24
Maak ʼn lys van jou maat se eienskappe wat jy die meeste waardeer. Deel die lys nou met mekaar.
Dag 25
Help iemand anders vandag en laat jou maat betrokke wees.
Dag 26
Kyk saam na ʼn interessante fliek of program en bespreek dit ná die tyd. Studies dui aan dat mense wat dieper besprekings het, gelukkiger is.
Dag 27
Vier ‘n mylpaal van die week al is dit hoe klein. Paartjies wat gereeld hul verhouding vier, is gelukkiger en het hoër vlakke van intimiteit.
Dag 28
Maak ‘n tydkapsule van jul verhouding. Skryf op die papiertjie byvoorbeeld waar julle nou in jul verhouding en lewe is en maak dit in ‘n latere stadium oop – dalk tien jaar later.
Dag 29
Daag mekaar uit met ‘n speletjie. Probeer dalk Sudoku, ‘n blokraai of ‘n nuwe legkaart.
Dag 30
Doen iets op jul eie. Wat? vra jy, jy dog julle moet juis iets saam doen! Studies wys egter dat mense in verhoudings steeds hul stokperdjies en vriende buite die verhouding moet hê om gelukkig te wees.
BRON: www.proflowers.com