Verlede week het Willie Burger na enkele van die digbundels uit 2016 gekyk. Hier is nog ’n paar wat sy aandag getrek het
In Vloeibare middelpunt kom ’n mens in vers ná vers onder die indruk van Martjie Bosman se meesterlike vakmanskap en die sorgvuldige afgewerktheid van haar gedigte. Elke woord is versigtig geweeg en elke beeld en metafoor met sorg gekonstrueer.
Haar verse troon tegnies bo baie tydgenootlike digters se werk uit en haar fyn waarnemings word só raak verwoord dat ’n mens sommer lus kry om die verse weer en weer te lees. Soos ’n mens van goeie poësie verwag, steek beelde en beskrywings uit haar gedigte onwillekeurig in ’n mens se geheue vas. Kyk byvoorbeeld na hierdie beskrywing van die jakarandas in Pretoria – ek is seker jy sal van nou af nooit weer die pers bome sien sonder om aan hierdie beeld herinner te word nie: Soos tantes van vroeër, mollig en mild, staan die jakarandas langs die strate, hul koppe, vars gewas en ligpers ge-rinse, na vore gebuig om die jongste nuus oor en weer te fluister op die bries.
Bosman tree in haar gedigte met ander digters in gesprek en dit is duidelik dat haar vaardigheid as digter uit ’n diepsinnige kennis van voorgangerdigters se werk spruit. In Vloeibare middelpunt word die ongenaakbare werklikheid van bestaan in ons land en spesifiek in Pretoria dikwels onthutsend verwoord, maar telkens is daar ook hoop. Kyk maar na hierdie strofe uit “Meibrief uit Pretoria”: Hier gedy die goeie nie. Hier is min genade Vir al die baie swakkes, die lagie grond is vlak Waarin jy ’n blom wil plant, die rots is naby. Maar kyk, Daar vlieg ’n duif hoog in die wolkelose blou.
Deur benutting van ’n ruim woordeskat en wye verwysingsveld kry Bosman se poësie ook ’n klankrykheid wat ’n mens laat voel jy wil die gedigte hardop lees. Soos in haar vorige bundels is ’n bewustheid van die aarde en natuur telkens opvallend. Dit is pretensielose en kragtige poësie wat ook van kennis oor mense en liefde, teleurstellings en dankbare ervarings getuig. Uit ’n digbundel is ’n aanhaling dikwels meer werd as enige bespreking:
Les liaisons dangereuses
Vir Richard Strauss
Ons, die marchallins, die vroue sonder skadu, ons is ook nog hier, ons, die ouer vroue met die highlights in gryswordende hare, te veel rouge op die onderlaagbedekte wange, te veel ringe aan gemanikuurde vingers: Statig noem die vriendelikes ons, maar voor die spieël weet ons van wat ingegord of opgestoot word onder ons goudborduurde tabberds. Ons kyk jaloers na die vleklose velle, die slank figure van die jonges aan wie ons mans en minnaars afstaan. Maar soms vang ons nog die vertederde blik van seuns wat te vroeg hul moeders verloor het, ons wissel graag slim woorde, waag dit nog soms in bedenklike verbintenisse met skarminkels van uitgelese kringe. Ons wag nog op eilande vir die koms van ’n jong, onnosel god wat ons kortstondig sal verlos: Nogtans, desnieteenstaande, habe Dank.
Ilse van Staden se debuutbundel, Watervlerk, is in 2003 met die Ingrid Jonkerprys en die Eugène Marais-prys bekroon. Sy het intussen na Australië verhuis, maar dig steeds in Afrikaans en waar die oog van stil word is ’n bundel waarin sy die moontlikhede van taal om klank, visuele waarnemings en herinnerings vas te vang, ontgin. In “oopmaakgedig”, die eerste gedig in die bundel, staan:
snags loop die hart van woorde vol wat met wakkerword verdwyn, die sagte potloodlyn van drome gewis tot vuilerige merke van grafiet, mompelings wat op die lippe stol, maar soms sypel ’n herinnering deur die winkende hande van onthou
’n Debuutbundel wat verdien om raakgesien te word, is dié van Juanita Louw: In die grot van die sibille (uitgegee deur Queillerie). Soos Daniël Hugo tereg oor hierdie bundel opgemerk het, beïndruk die bundel met die afwisseling van style en die ryk woordeskat, asook ’n fyn aanvoeling vir klank en ritme. Ek volstaan met een voorbeeld:
naweek
ons projekteer op mekaar se naakte vel wie ons wil wees, die heel eerste keer voor ons die werklikheid se fokus instel projekteer ons op mekaar se naakte vel en nooit is die gaping groter tussen beeld en self – voor ons die valkleppe laat sak en verweer, projekteer ons op mekaar se naakte vel wie ons wil wees, daardie heel eerste keer
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.