Matthew Krone is die 12de generasie-wynmaker van ´n familie wat al vir meer as 300 jaar in Suid-Afrika wyn maak. Hy glo wynmaak is in sy bloed en bring hulde aan sy pa, Nicky en oorlede oupa, NC, wat sy leermeesters was.
Deur Maryke Roberts
Foto verskaf
Die familie het in 2012 hul familieplaas verloor, maar Matthew gaan voort met sy eie wyn-handelsmerke en wynmaatskappy.
Hy spesialiseer die afgelope 16 jaar in bottel-gefermenteerde vonkelwyne (Methode Cap Classique), en is ook ’n MCC-konsultant vir verskeie ander wynlandgoedere. Hy is tans die eienaar en wynmaker by MK Vintners en ook mede-eienaar en wynmaker by Aristea Wyne.
Matthew en sy vrou, Sarah, wat vir ’n wyn-uitvoermaatskappy werk, en hul jaar oue dogtertjie, Alexandra de la Marque, het onlangs in hul huisie in Muizenberg ingetrek. Soggens kyk hy oor Valsbaai uit terwyl hy sy eerste koppie koffie drink.
Hoe voel dit om nou vir jouself te werk?
Dit is beslis een van die beste EN moeilikste besluite in die lewe om vir jouself te werk. Aan die een kant het jy die vryheid om jou passie te volg en jou eie toekoms te maak, maar dit is ook sommige dae baie moeilik om jouself te motiveer en dissipline te hê. Jy kan net jouself blameer as dinge nie reg uitwerk nie, maar dis ’n ongelooflik gevoel as alles mooi bymekaar kom.
Is die druk groot omdat jy uit ’n wynmaak-familie kom?
Daar is definitief meer voordele as nadele. My oupa was een van die groot legendes in die wynbedryf, en my pa is ’n wynmeester wat ongelooflik baie kennis het. Hulle het my van ’n jong ouderdom die passie vir wyn geleer, maar nooit enige druk op my geplaas om wynmaker te word nie. Inteendeel, toe ek begin wynmaak het, het hulle my aangeraai om my eie foute te maak en daaruit te leer. Dit is ’n groot eer om te besef dat ek in hul voetstappe volg, maar dit voel tog eintlik vir my meer asof ek op hul skouers staan.
Vertel meer van jou eie MCC – Alexandra de la Marque?
Ek het oor die afgelope bykans twee dekades al baie MCC’s gemaak, maar hierdie was die eerste wat ek onder my eie handelsmerk bekendgestel het, na ons van ou ons ou familieplaas weg is. Ek het op 29 Februarie (skrikkeljaar) 6 000 bottels MCC vrygestel, wat ek na ons babadogtertjie vernoem het. Sy is laas Oktober gebore en ek en Sarah was onmiddellik só verlief op haar dat ons al by die hospitaal besluit het om die MCC na ons dogter te vernoem. Die Alexandra de la Marque MCC het ongelooflike goeie ontvangs van wynkenners en wynskrywers gekry.
Waar dink jy lê SA wynbedryf se toekoms – in ’n spesifieke styl/variëteit?
Ek dink die toekoms vir SA se wynbedryf is om topgehaltewyn te maak, met integriteit. Daar is soveel wynlande en almal maak ’n groot verskeidenheid wyne, maar daar is deesdae ook soveel aardighede soos kunsmatig-gegeurde wyndrankies en so meer. Ek voel dit verloor dan die essensie van wat wyn veronderstel is om te wees.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Die eerlikheid – dis ’n 100% natuurlike produk. Jy sal altyd uitkry wat jy in die wynmaak-proses insit.
Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?
Die eerste jaar toe ek die kelder oorgeneem het en ek daardie jaar “teksboekstyl”-wyn gemaak het, het my oupa vir my die beste raad gegee. Alhoewel die finale produk mooi was, was daar steeds iets wat net nie heeltemal die passievolle dimensie gehad het nie. My oupa het gesê: “Moenie alles self probeer doen nie – God wil ook wynmaak.” Wat hy vir my wou sê, was dat ek nie in die natuur se pad moet staan nie, maar liefs saam met die natuur moet werk.
Wat was tot dusver jou grootste uitdaging as wynmaker?
Toe my familie ons 300 jaar oue famile-wynplaas verloor het, was ek kop in die grond en wou ek eers nooit weer wynmaak nie. Ek het vir ’n hele paar maande selfs nie eers wyn gedrink nie! My vriende en familie het my aanhou probeer oortuig dat ek nie kan wegstap van my passie (en myself) nie, en dit was eers toe ek die besluit gemaak het om weer na wynmaak terug te keer dat my lewe weer op dreef gekom het. Jy kan nie vir altyd van jouself weghardloop nie.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Ek voel ongelooflik trots dat ek tot vandag toe nog saam met my pa kan werk en op ´n daaglikse basis van hom kan leer. Hy is een van my grootste helde en dis ’n voorreg vir enige seun om by sy pa te kan leer en saam met hom te kan groei.
Wat is die uitdagings om in 2017 ’n wynmaker in Suid-Afrika te wees?
Klimaatsverandering speel ’n groot rol in hoe wynmaak-prosesse toegepas word, veral in ’n jaar soos 2016, waar die bedryf ’n groot droogte gehad het en ons gesukkel het met volume en kwaliteit. Elke jaar het sy uitdagings, sommige jare meer as ander, maar ek dink vorentoe gaan ons meer van hierdie moeilike klimaatsomstandighede ervaar en ons sal ons wynmaak daarby moet aanpas.
Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Wyn word baie keer nog bemark as ’n eksklusiewe produk wat net deur kenners gedrink kan word en ek voel dit intimideer baie mense wat graag wyn sou wil probeer. Veral die nuwe generasie wyndrinkers wat nou begin wyn drink, vind dit baie intimiderend.
Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak as hulle wyn bedien?
Moenie die glas te vol gooi nie! Daar moet altyd genoeg ruimte wees om die wyn te ruik en te swaai sonder om dit te stort (wat maklik kan gebeur as dit glas te vol is). Persoonlik verkies ek ’n groter glas, met minder wyn daarin, sodat die wyn makliker kan asemhaal en al die aromas uitkom.
Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?
Baie wyndrinkers is bang om nuwe wyne te probeer, of nuwe style/kultivars te ervaar.
Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Champagne Salon. Dit word net in besonder goeie oesjare gemaak, van 100% grand cru chardonnay-druiwe en word vir ten minste 10 jaar op gismoer gehou voor dit vrygestel word. Dit is (vir my) die beste wyn ter wêreld. Dit is ook die sjampanje wat ek gebruik het toe ek vir Sarah gevra het om te trou.
Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?
My oupa en pa was natuurlik nog al die jare my groot wynmaakhelde, en dan ook van die ou groot wynlegendes soos oom Jan “Boland” Coetzee van Vriesenhof, wat ’n wonderlike diepte het in hul wynmaak en persoonlikheid.
Die wonderlike ding van wynmaak vandag is dat raad net ’n selfoon-oproep ver is. Ek voel bevoorreg om bevriend te wees met ongelooflike goeie wynmakers, soos Pierre Wahl (Rijks Privaatkelder), Boela Gerber (Groot Constantia), Duncan Savage (Savage Wines) en baie ander – en hulle help altyd met raad en idees wanneer ek na hulle gaan.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
My dogtertjie, vrou en my familie is my hele wêreld; en my droom is om te sien hoe my dogter (en hopelik nog kinders) hul lewe kan lei met “passie, doel en integriteit”, die lewensleuse wat ek volg en wat ek by my oupa gekry het.
Waaraan werk jy volgende?
Dit is bietjie van ’n oop geheim, maar ek het ’n paar jaar terug ’n projek begin met ’n Britse en Franse vennoot (Aristea Wines). Hulle het vir my die vryheid gegee om sonder enige beperkings die absolute beste van alles te kan maak. Hulle gee vir my die begroting om die beste druiwe van die top-plase aan te koop en die beste vate te bekom, sodat ek net kan fokus op die wynkwaliteit. Dit sal eers laat in 2017 vrygestel word, maar ek is ongelooflik opgewonde oor die kwaliteit waarmee ons besig is…