Al die gaste word bo na die wingerde teen die Helderberg geneem, waar die enkel-wingerde gesien kan word. Die Stellenzicht Golden Triangle Sauvignon Blanc is daar bo geniet.
Stellenzicht Vineyards, in die hartjie van die bekende Goue Driehoek tussen Somerset-Wes en Stellenbosch, het pas hul nuwe spesialiteitsreeks onthul – ’n vertoonstuk van die landgoed se beste terroir.
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Die nuwe wyne, The Ratio, The Vine Post Pinotage en The Mistaken Identity, sluit by die immergewilde Plum Pudding Hill Syrah aan, om ’n vlagskip wyn-kwartet wat Stellenzicht se grond en terrein én die passie en vaardighede van die lang-dienende wynmaker, Guy Webber, te vertoon.
Binne Stellenzicht se spesialiteitsreeks is twee nuwe versnitte, een rooi en een wit. The Ratio 2015 is ’n wit Bordeaux-styl versnit van Sauvignon Blanc en Sémillon, gegrond op die Goue Ratio van 1:1,618 wat in die natuur gevind word en deur kunstenaars en wiskundiges soos Da Vinci en Fibonacci, gebruik is. Druiwe uit ouer wingerde word saam gefermenteer – gedeeltelik in vlekvryestaaltenks en gedeeltelik in groot, nuwe eikehoutvate – voor dit versny en dan vir 15 maande op die moer gelos word vir dieper rykheid en tekstuur. Deur die Goue Ratio te gebruik, word enige van Guy se persoonlike voorkeure in die versnyding verwyder en verleen dit ’n reinheid aan die proses, om die ware vrugtegeure en die wyn se ingewikkelde kompleksiteit, te ewenaar.
The Mistaken Identity 2013 rooi Kaapse-versnit, is baie na aan Guy se hart en een wat hy beskryf as “die toppunt-uitdrukking van kragtige elegansie”. Die versnit – 50% elk Pinotage en Shiraz – het per ongeluk gebeur, toe Guy by ’n handelskou in Bordeaux gedink het hy is besig om twee verskillende Shiraz-komponente te versny. Toe hy agterkom hy versny eintlik Pinotage en Shiraz, was hy verbaas oor die wyn se intensiteit en kompleksiteit; en het hy besef dat die twee variëteite se gedeelde oorsprong in die Rhône-vallei, mekaar perfek komplementeer. Hy het deur die jare verskillende proporsies probeer, maar het elke keer gevind dat die troue tussen gelyke vennote, hom die geure en tekstuur bied wat hy in hierdie volronde, dog elegante wyn, soek.
Die twee geregistreerde enkel-wingerd wyne – The Vine Post Pinotage 2014 en die Plum Pudding Hill Syrah 2011 – bied unieke studies in Stellenzicht se wisselende- en spesifieke terroirs. Die Vine Post Pinotage-wingerde lê hoog teen die hellings en is onderhewig aan die sterk winde van Valsbaai, en word gewoonlik in die stok-by-paaltjie metode geplant. Opbrengs is belaglik laag, wat ’n intens-gekonsentreerde vrug meebring, wat vir meer as twee jaar verryk word deur nuwe eikehout-kontak. Die Plum Pudding Hill Syrah-wingerd is bykans 30 jaar oud en kyk ook uit oor Valsbaai, waar die winde langer as gewoonlike rypwording tot gevolg het. Die Plum Pudding Hill word in ’n sterk, vrug-gedrewe styl gemaak en verkry oor tyd sy kompleksiteit, wat interessante lae en intrige na elke glas bring.
Guy Webber gaan nou sy 20ste jaar as wynmaker op Stellenzicht tegemoet en hierdie reeks is die verpersoonliking van alles waarna hy in sy loopbaan op die plaas gestreef het. “As jy my 20 jaar gelede gevra het watter tipe wyne ek in my lewe sou maak, dink ek die antwoord sou wees dat dit die wyne is wat nou in hierdie reeks tot uiting kom,” sê hy. Die wyne word elegant verpak met ’n gelykvormige handelsmerk-identiteit, maar is elkeen verskillend, hoewel almal dieselfde aandag aan detail en die sterk gevoel van plek – wat deur al Stellenzicht se wyne gedeel word – dra.
Hy het gaste op ’n trekkerrit hoog bo die proelokaal geneem, waar van die enkel-wingerde besigtig kon word.
Hy glo dat wyn op balans geskoei is: balans in die wingerde, balans in die bottel en balans in jou glas. “Jy kan nie die goeie wyne in die wingerde uitken, deur net so te kyk nie, maar ons weet al waarvoor om uit te kyk vir goeie kwaliteit wyne,” het hy vertel.
Die nuwe spesialiteitsreeks van Stellenzicht.
Guy beduie aan gaste waar die verskillende wingerde op die plaas lê.
Wynmaker Guy Webber en Maryna Strachan van WOSA.