Talle studente skryf vir verdere studie in. Die kursusse is taai, veeleisend en nie almal maak klaar nie … Jannet Davel gee raad
Wil jy opskop?
Jannet Davel, ‘n bedryfsielkundige gee die volgende raad.
Vra jouself eers die volgende af:
1. Hoekom wil ek opskop?
2. Wat is vir my so sleg dat ek voel ek wil dit nie meer doen nie. Dalk is dit net ‘n vak of dosent wat my onderkry en nie die rigting nie.
3. As ek nie meer hierdie wil studeer nie, is daar iets anders wat vir my aanlokliker lyk? Hoekom lyk dit na ‘n beter opsie?
Sy sê as jy bloot wil opskop omdat die kursus nie meer lekker is nie, is dit dalk tyd om te leer om vas te byt. As jy egter eerder iets anders wil doen, moet jy ook verantwoordelik genoeg wees om jouself vry te maak en opskop nie as ‘n mislukking te sien nie.
Wenke vir verantwoordelike beroepskeuse
Jannet sê navorsing bewys dat belangstellings eers gevestig raak as ‘n mens 17 jaar oud is. Dit is dus onregverdig dat skoliere al die groot vraag van wat hulle met die res van hul lewe wil doen, moet beantwoord. Selfkennis is ongelooflik belangrik. Kliënte verwag van my dat ek vir hulle moet sê wat om te studeer. As bedryfsielkundige sien ek ‘n persoon gemiddeld vir drie sessies. Juis daarom kan ek nie die besluit namens iemand neem nie. Ek ken die persoon nie goed genoeg nie. Dis die persoon se eie verantwoordelikheid en nie myne nie. Daar is dan soveel meer as wat psigometriese assesserings op swart en wit vir ons gaan sê – jou waardestelsel, jou geloof, jou gesin waarin jy grootword. Dit maak alles jou wie jy is. My wenke vir jongmense wat voel dat hulle by ‘n kruispad staan, is om eers genoegsame inligting oor voorgenome beroepskeuses bymekaar te maak. Dit is baie makliker om eerder vroeër die “regte vrae” te beantwoord as om later te wil opskop omdat jy oorhaastig besluit het.
1. Beste aspek van die werk
2. Slegste deel van die werk
3. Dag-tot-dag-aktiwiteite
4. Tipiese organisasies wat mense met hierdie graad aanstel
5. Hoe lyk die res van die bedryf – wat sal bevorderingsgeleenthede kan wees?
Die beroepsveld is partymaal ongenaakbaar, maar studente moet ook besef dat ‘n universiteitskwalifikasie nie jou sukses gaan bepaal nie. Dit mag dalk deure oopsluit, maar sukses in die beroepsveld hang af van dit wat jy bereid is om in te sit, harde werk en veerkragtigheid.
Is jy ‘n kandidaat vir opskop?
Beantwoord die onderstaande vraelys om uit te vind of jy ‘n kandidaat is vir opskop:
1) Is jy ongelukkig met jou kursus?
2) Is jy verward en onseker oor wat jy met jou lewe wil doen?
3) Het jy bloot ‘n kwalifikasie gekies om iets te hê om te studeer sonder om die voordele en nadele deeglik in oorweging te neem?
4) Studeer jy om iemand anders te plesier?
5) Wil jy eerder iets anders doen?
6) Voel jy dat die kursus met jou persoonlike waardes en belangstellings bots?
7) Is jy bloot op universiteit om “in” te wees en omdat al jou vriende daar is?
8) Voel jy asof die kursus bokant jou vermoë is?
9) Voel jy onvervuld met dit wat jy doen?
10) Is jy emosioneel op ‘n slegte plek en voel dit asof jou lewe uitmekaarval?
As jou antwoord op bogenoemde vrae meestal “ja” is, is dit tyd om jou situasie te heroorweeg. Bespreek dit met jou ouers en ‘n beroepsvoorligter.
Vir meer inligting: Jannet Davel: [email protected]
Besoek www.spinefoot.co.za vir meer inligting