Tokara buite Stellenbosch het onlangs hul nuwe oesjare op ‘n ekslusiewe middagete aan gaste bekendgestel.Die landgoed se Wine Made Art-projek se 11de uitstalling is ook bekendgestel.
Die landgoed se nuwe bestuurder, Karl Lambour, is aan gaste bekendgestel.
Aidan Morton, wingerdboukundige, het vertel dat dit só lekker is om die wyne te proe waaroor die Tokara-span meer as tien jaar terug om ‘n tafel sit en droom het.
Tokara se eienaar GT Ferreira, se filosofie dat goeie kos, goeie wyn en goeie kuns saam ‘n goeie leefstyl verseker, kom tot uiting op die plaas. Kuns was nog altyd belangrik vir die Ferreira’s en hulle het ‘n projek ontwikkel – Wine Made Art – waarvolgens hulle kuns in die verskeie ruimtes op die landgoed, aan die publiek kon bemark. Vandeesmaand stel die wynlandgoed sy 11de jaarlikse seleksie van hul Wine Made Art beskikbaar.
Studente van die Marié Stander Kunsskool het letterlik hul wyn in kuns omskep, toe hulle hul verfkwasse in TOKARA Shiraz gedoop het om hul interpretasie van vanjaar se tema: “My forté” visueel weer te gee.
Om die ryk wynrooi kleur wat Shiraz in ‘n glas vertoon, op doek weer te gee, is geen maklike taak nie; as die wyn net so gebruik word, is dit ‘n ligte lila, maar Marié en haar studente het mettertyd die metode om wyn as kunsmedium voor te berei, vervolmaak. Ná baie eksperimentering het hulle op ‘n ou Voortrekker resep vir ink afgekom wat die wen-oplossing gebied het – die wyn word met ‘n geroeste spyker en wit Proteablaar gekook, wat dan die wynrooi-aftreksel waarmee die kunstenaars verf, tot gevolg het.
Die top 11 kunswerke van vanjaar se ‘Wine Made Art’-projek is tot die einde Januarie 2017 in die galery op TOKARA vir die publiek op uitstalling.
Die vier nuwe oesjare, die Tokara Elgin Sauvignon Blanc 2016, Tokara Reserve Collection Cabernet Sauvignon Blanc 2013, Tokara Stellenbosch Reserve Collection Shiraz 2013 en Tokara Sauvignon Blanc Noble Late Harvest 2014 is by die proelokaal te koop.
Tokara produseer ook sedert 2000 bekroonde ekstra suiwer olyfolie en dis by Woolworths, Checkers en uitgesoekte Spar-takke en delikatessens, sowel as direk van die plaas se proelokaal, beskikbaar.
Tokara landgoed se wingerde buite Stellenbosch.
Die gaste by die geleentheid in Tokara se wynland-restaurant wat uitkyk oor die landgoed se wingerde.
Aidan Morton wingerdboukundige van Tokara by Miguel Chan, groep sommelier vir Tsogo Sun en Miles Mossop, wynmaker by Tokara.
Karl Lambour, nuwe bestuurder by Tokara, by Wade Bales van Wade Bales Wine Society.
Helene Visser se kunswerk as deel van Wine Made Art