Die belastingseisoen skop weer af met die indiening van belastingopgawes vir die 2013-belastingjaar wat 1 Julie begin en 22 November ten einde loop. Hierdie belastingjaar dek 1 Maart 2012 tot 28 Februarie 2013. Hier is ’n paar wenke om jou met so min stres en hartseer as moontlik deur hierdie belastingseisoen te help.
1. Begin nou, of so gou moontlik
Dit kan verbasend baie werk behels om ’n belastingopgawe in te dien. Daarom moet jy liefs vroeg begin sodat jy jou opgawe kan indien voor die stormloop begin. Hoe vroeër jy jou opgawe indien, hoe vinniger kry jy jou geld terug indien jy ’n terugbetaling verskuldig is. En as jy jou belastingbydrae onderskat het, kan jy dalk heelwat bespaar op boetes en rente indien jy jou opgawe vroeg indien.
Moenie tot op die absolute spertyd wag om jou opgawe in te dien nie, aangesien die SAID-kantore dan baie besig kan wees en die eFiling-stelsel ook soms onder die druk van spertyd swig.
2. Gebruik eFiling
Die SAID-eFiling-diens is gerieflik, veilig en maklik om te gebruik. Dit bespaar jou tyd en die beslommernis van ’n papieropgawe en die gestaan in lang rye. Jy kan jou opgawe sonder enige probleme sewe dae van die week, 24 uur van die dag, indien.
Daarbenewens het jy tot 22 November om jou opgawe in te dien as jy eFiling gebruik. Indien jy jou opgawe met die hand invul en pos of by SAID se bussie ingooi, moet jou opgawe teen 27 September ingedien wees. As dit die eerste keer is dat jy eFiling gebruik, kan jy gerus nou al registreer en intussen uitvind hoe dit werk. Sodoende sal jou eFiling-profiel gereed wees wanneer die opgaweseisoen begin en sal jy weet wat om te doen.
3. Maak seker jy het al jou aanvullende dokumente gereed
Kry al jou aanvullende dokumente bymekaar sodat jy dit byderhand het om jou opgawe in te dien en dit kan toon indien SAID daarvoor vra as hulle ’n oudit doen. Aanvullende dokumente kan insluit:
• Jou IRP5-belastingsertifikaat van jou werkgewer
• ’n Inkomstebelastingsertifikaat van jou mediesefondsskema
• ’n Lys van die kwitansies van mediese uitgawes wat nie deur jou mediesefondsskema gedek is nie
• ’n Belastingsertifikaat vir jou bydraes tot ’n aftreeannuïteit
• ’n Gedetailleerde logboek van jou sakereise en reiskoste vir die tydperk
4. Wees 100% eerlik
Dit is onwettig om leuens op jou opgawe te vertel deur jou uitgawes te vergroot of nie jou ware inkomste te verklaar nie. Daar is ’n noemenswaardige toename in die aantal willekeurige oudits wat deur SAID uitgevoer word sedert die aanvang van eFiling, en dit gaan gepaard met swaar boetes vir vals verklarings op belastingopgawes. Die boetes, rente en stres omdat jy ’n bietjie op jou belastingrekening wou bespaar, is eenvoudig net nie die risiko werd nie, aangesien die kanse dat jy uitgevang kan word baie groter is.
5. Nie seker van iets nie? Vra ’n belastingkundige
SAID het probeer om die lewe van die belastingbetaler te vergemaklik deur die papierwerk en die betaalproses te vereenvoudig, maar belastingsake kan steeds ingewikkeld wees. Kontak liewer die SAID-inbelsentrum by 0800 00 7277 (0800 00 SARS) of ’n belastingkundige om seker te maak dat jou opgawe die eerste keer reg ingevul is en jy nie die risiko loop om iets verkeerd te doen nie. ’n Professionele belastingkonsultant kan jou ook help om wettige maniere te identifiseer waarop jy die hoeveelheid belasting wat jy elke jaar betaal te verminder.
*Johan Swart is ’n belastingbestuurder by Legal & Tax. Vir meer inligting oor Legal & Tax, besoek http://www.legalandtax.co.za, skakel 0860 LTS LTS (587 587) of [email protected].
Volg ons @LegalandTax op Twitter of sluit by ons aan op Facebook om die jongste nuus en beskouings te kry van Legal & Tax.