Willie Burger kyk na Dan Sleigh se roman, 1795
Die roman 1795 is in manuskripvorm reeds in 2015 as die wenner van die Groot Romanwedstryd aangewys. Dan Sleigh het sedertdien verder aan die manuskrip gewerk en die boek het pas eers verskyn. Lesers koester dus hoë verwagtings, veral ook omdat Sleigh hiermee terugkeer na die Kaapse VOCgeskiedenis waaroor hy so boeiend in Eilande geskryf het.
Die roman voldoen aan die verwagtings! 1795 is ‘n historiese roman oor die laaste paar maande van die Kaap onder VOC-beheer en die Britse besetting van 1795. Die verhaal word vertel uit die perspektief van baron William van Rheede van Oudshoorn tot Nederhorst, seun van die voormalige goewerneur Pieter van Oudtshoorn (na wie die dorp vernoem is). William het die rykdom, voorregte en titels waarvan sy lang van getuig, geërf. Hy was in diens van die VOC en een van sy briewe is die heel laaste dokument wat opgeneem is in die VOC se dagregister waarin elke dag se gebeure, van 1652 tot 1795, in fyn besonderhede opgeteken is. Van Oudtshoorn was verbete teen die Britse besetting gekant en het geweier om ná Britse oorname die eed van getrouheid aan die Britse koning af te lê.
Die verhaal is meesleurend. Ek het soms skuldig gevoel as ek die boek moes neersit om my werk te doen. Dit was asof ek William en sy vriende op hul perdekar iewers langs Valsbaai in die steek laat en in tyd laat stol terwyl die perd nog na ‘n graspol hap en William deur sy verkyker na die Britse oorlogskepe tuur, totdat ek weer verder lees. Hierdie gevoel is vir my ‘n teken dat ek buitengewone fiksie lees. 1795 is egter nie bloot ‘n romanmatige weergawe van historiese gebeurtenisse Willie Burger kyk na Dan Sleigh se roman 1795 wat as ’t ware tasbaar gemaak word deur die vaardige aanwending van fiksietegnieke nie.
Die roman word ‘n stimulerende interpretasie van die verlede, asook ‘n ondersoek van menslike strewe en sinsoeke, juis ook in ons eie tyd. Dit is die verhaal van William se ongeloof en skok as magtelose toeskouer van die halfhartige verset deur die korrupte VOC-bestuur teen Britse besetting. Volgens William (en talle van die vryburgers en boere) “verraai” goewerneur Sluysken en die bevelvoerder van die garnisoen, Robert Gordon, die Kaapse inwoners deur voete te sleep en met die Britte saam te werk. 1795 is enersyds ‘n vertolking van hierdie deurslaggewende historiese gebeurtenis maar andersyds ook ‘n ondersoek van hoe enigsins oor die verlede gedink en geskryf word. William lê klem op die belang van die optekening van die gebeurtenisse, voordat hulle in die geheue vervaag.
Hy verwys instemmend na Cervantes se Don Quixote waarin geskiedskrywing as “getuie van die verlede, ‘n voorbeeld vir die hede en ‘n waarskuwing vir die toekoms” beskryf word, maar hy besef ook: “Jy kan geen geskiedenis verander nie, jy kan net sy dokumente ontleed en vertolk.” 1795 is só ‘n ontleding en vertolking van die VOC se dokumente wat van die verlede getuig, en wat as voorbeeld vir ons huidige situasie en as waarskuwing dien. William droom van ‘n onafhanklike strokie van Afrika tussen die Bergrivier en die Breederivier waar ‘n onafhanklike “Afrikanervolk” vry van die korrupte VOC of Britse koloniale onderdrukking woon.
Hierdie strokie land moet vir hom nie soos Afrika wees nie. Dit moet ‘n demokrasie wees soos in die VSA, deurtrek van die gees van die Franse Revolusie en met skole en ‘n universiteit. William is ‘n kind van die Europese Verligting. In ‘n eeu waartydens groot tegnologiese en filosofiese verskuiwings in Europa plaasvind, sit daar in die Kaap, volgens sy vriend Thibault, “net ‘n seemeeu op ‘n klip”. William beywer hom vir demokrasie, vroueregte en die afskaffing van slawerny, asook vir uitbreiding van wetenskaplike kennis, deur middel van sy besprekingsgroep, die “Kring Athenaeum”. Die menslike gees moet deur kuns verfyn word. (Hy laat sy ou klavier restoureer en die Franssprekende onderwyseres Francine de Remony speel Mozart daarop.) Na aan die slot bekom William ‘n romanmanuskrip wat deur ‘n Kaapse inwoner in Afrikaans geskryf is – vir hom ‘n bewys van die moontlikhede wat die spesifieke taal (en taalskeppings in die algemeen) kan inhou.
Die roman, met die titel Grense, handel oor bloedige verkenningstogte in die binneland (wat aan Willem Anker se Buys herinner). 1795 is ook ‘n roman oor die liefde. William raak op Francine verlief en dit word duidelik, soos in vorige Sleigh-romans, dat ‘n mens nie in die groot afloop van die geskiedenis geluk vind nie, maar in weerwil van die omringende korrupsie, geweld en verraad is menslike geluk slegs in verbintenisse met ander te vind. ‘n Strewe na liefde, na skoonheid en waarheid, is al wat duur.
Die roman is vol humor en aforistiese lewenswyshede. ‘n Mens kan die kritiek teen huidige magsmisbruik, teen die oorheersing van Engels, en die “verdomming” van ons samelewing, nie miskyk nie. Hierdie kritiek is egter nie ondubbelsinnig nie. ‘n Bepaalde veelstemmigheid kenmerk die roman. William se kritiek uit die bevoorregte posisie van ‘n vermoënde man stimuleer interessante nadenke oor die huidige dekoloniseringsdebatte.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.