Neem hierdie vakansie die jaar in oënskou, stel nuwe doelwitte en behou sommer daardie vakansiegevoel vir die jaar wat kom, skryf Ansja Ferreira
Jy sien al heeljaar na jou vakansie uit. Jy wil van jou roetine wegkom, tyd saam met jou geliefdes deurbring en met jou voete in die koel seewater sit.
Jy kom by jou bestemming, pak jou tasse uit en begin vakansie hou. Wanneer jy terug is by die huis, voel dit egter vir jou of jy nooit weg was nie.
Stres is deel van ons gejaagde bestaan. Wanneer ‘n mens se welverdiende vakansie aanbreek, is dit eintlik nie vreemd hoe daar skielik nuwe vorms van stres opduik nie. Het ek alles ingepak? Sal my huis en diere oukei wees terwyl ek weg is? Wat as iets op pad of op vakansie skeefloop? Het ek daardie laaste dokumente weggestuur?
Jy sal egter moet leer om jou werk agter te laat sodat jy kan ontlaai en jou af tydjie kan geniet, anders gaan jy net so gedaan en vol stres van jou vakansie af terugkom.
Ontlaai in fases
Maak nie saak hoe mooi die natuurskoon of heerlik die branders is nie, die realiteit is dat miljoene vakansiegangers net nie kan afskakel nie, al probeer hulle hoe hard.
Volgens kenners ontlaai sommige mense vinnig terwyl ander daarmee sukkel. Die rede lê dalk in die brein. ‘n Breinstudie deur die Case Western Reserve-universiteit in Cleveland, Ohio, het bewys net soos wat energie verbruik word om te dink, word energie ook verbruik as ‘n gedagte geblokkeer word.
“Dit verklaar miskien waarom dit so uitputtend is om te ontspan en aan niks te dink nie,” sê dr Daniela Calvetti, ‘n wiskundige en mede-outeur van dié breinstudie.
“Soos wat daar fases van rou is, is daar ook fases van ontspanning, sê Rozanne Raath, ‘n lewenstylgids van Bloemfontein. “Wanneer ‘n mens ’n week of twee se verlof neem, moet jy nie verwag om op die eerste dag al te ontspan nie.”
Sy verduidelik dat mense baie verskil in hoe hulle afskakel en gee die volgende riglyne om jou te help ontspan:
· Fase een: Laat jou brein rus. Gaan kyk ’n lekker fliek, pak jou kaste reg en kry genoeg slaap. Jou liggaam het dit nodig.
· Fase twee: Lei jou aandag af. Maak ‘n lys van 50 dinge wat jou gelukkig maak – eenvoudige dinge, soos ‘n drukkie van jou kind, ‘n heerlike cappuccino, om blomme te kry of ‘n heerlike stappie. Doen dinge wat vir jou regtig lekker is. As jy heeljaar te besig was vir ‘n stokperdjie, kry nou een. Google en lees op. Dit gaan jou gedagtes van jou gewone roetine aflei sodat jy stelselmatig kan begin ontspan.
· Fase drie: Luister na daai stem. Ons almal se behoeftes verskil, maar luister na jou innerlike stem en gun jouself gehaltetyd. Neem aan ‘n avontuuraktiwiteit deel, skep ‘n rustige omgewing of gaan na ‘n plek met ‘n mooi uitsig. Fokus meer op jouself as op ander en gaar energie op. Só verskuif jou aandag na ontspanningsaktiwiteite.
· Fase vier: Versterk jou verhoudings. As jy gehaltetyd met jouself deurgebring het, gaan jy nou so vars wees dat jou ander verhoudings vir jou pret, geluk en vreugde sal verskaf. Belê nou in ander om jou en versterk jou ondersteuningstelsel.
Hoe lyk jou lewe?
Alexandra Massey, lewenstylgids en skrywer van Life’s a beach: Keep that holiday feeling all year round, skryf jy moet jou vakansie in twee dele verdeel.
“Die eerste deel is waar jy moet ontspan en net laat gaan. Jou roetine word gebreek en jou denke word meer buigsaam. Jy is weg van jou normale lewe en dus kan jy alles in ‘n nuwe perspektief sien – jou werk, waar jy woon, familie en vriende. Nou is dit tyd om introspeksie te doen: Hoe kan jy beter balans kry?
“In die tweede gedeelte, ‘n paar dae voor jy huis toe gaan, moet jy beplanning doen en doelwitte stel vir dinge wat jy wil regstel of verander as jy weer by die huis is. Teen die einde van jou vakansie moet jy ‘n lys van prioriteite opgestel hê.”
“’n Vakansie is die ideale geleentheid om jou lewe te beplan,” sê kliniese sielkundige dr Cecilia d’Felice, skrywer van die boek 21 days to a new you. “Wanneer jy uit jou alledaagse roetine weggeruk word en jouself in ‘n nuwe ontspanne omgewing bevind, is dit makliker om jou lewe in oënskou te neem en aan nuwe doelwitte te werk en drome te beplan.”