Verlede week het ek Deon Meyer se Koors op hierdie blad as ’n “post-apokaliptiese roman” beskryf. Hoewel dit die eerste keer is wat Meyer só ’n boek skryf, is post-apokaliptiese fiksie oor die afgelope paar dekades baie gewild.
Post-apokaliptiese fiksie is verhale waarin die bestaan op die aarde soos ons dit ken, as gevolg van ’n katastrofiese ramp tot ’n einde gekom het. Die ramp self is selde die fokus van hierdie verhale. Dit gaan eintlik oor wat daarná gebeur, oor hoe mense oorleef nadat die bekende wêreld verbygegaan het. Meestal skets hierdie soort fiksie ’n besonder donker wêreld. Die tegnologie en hulpmiddels wat menslike bestaan voorheen makliker gemaak het, is as gevolg van die ramp verwoes of nutteloos. Lewensmiddele is skaars en die klompie oorlewendes veg verbete daaroor. Nie slegs fyn tegnologie en fisieke strukture is verwoes nie, ook die samelewingstrukture is vernietig – geen regerings, geen wet en orde bly oor nie. Daarom is daar dikwels moorddadige roofbendes wat op die allerwreedste maniere na willekeur en ongestraf plunder en boelie en uitbuit en op ander teer.
In ’n post-apokaliptiese wêreld kan slegs die sterkste (en gemeenste) oorleef. Dikwels het ’n kernoorlog tot die uitwissing gelei en soms is die ramp selfs deur ruimtewesens veroorsaak, maar deesdae is dit ook dikwels te wyte aan ’n ekologiese ramp, veroorsaak deur die mensdom wat sy planeet verwoes. Telkens word die ramp selfs doelbewus deur mense veroorsaak in ’n poging om die aarde van oorbevolking te red (soos in Richard Matheson se I am Legend). Willie Burger kyk na ’n paar post-apokaliptiese verhale Die ramp self, hetsy veroorsaak deur ’n kernramp, ruimtewesens (The Pod deur Stephan Wallenfels), of deur ’n virus (The Passage, deur Justin Cronin en in David Patneaude se Epitaph Road), is meestal bysaak.
Eintlik is post-apokaliptiese fiksie meestal gemoeid met hoe mense in die wettelose omgewing ná die ramp oorleef en wat hulle aan of vir mekaar doen (byvoorbeeld in Cormac McCarthy se The Road). In Salvation City (Sigrid Nunez) word ’n groot deel van die bevolking deur ’n griepvirus uitgewis en ’n seun wat oorleef, beland in Salvation City by ’n groep fanatiese Christene wat slegs die Bybel (op hul unieke manier) lees. Sodoende ondersoek die roman eerder godsdiens as wat die fokus op die ramp val. In Patneaude se Epitaph Road wis ’n virus byna die hele manlike bevolking uit en laat vroue in beheer, van die planeet. Met vroue in beheer word geld aan gesondheidsorg en welsyn in plaas van aan oorlog bestee. Só val die fokus op geslag. Dit is egter nie slegs populêre fiksie wat by post-apokaliptiese avonture aansluit nie.
Ek het reeds na die skrikwekkende The Road deur Cormac McCarthy verwys. ’n Ander gevestigde skrywer van “literêre fiksie” wat al post-apokaliptiese romans geskryf het, is Margaret Attwood. Haar romans Oryx and Crake en The Year of the Flood het sterk feministiese trekke en waarsku teen die korporatisering van die samelewing en ekologiese bedreigings. In Suid-Afrika het Andrew Miller in 2015 die Dinaane Debuutfiksie-toekenning vir sy roman Dub Steps, ontvang. In Dub Steps word ’n man op ’n dag in Johannesburg wakker en kom agter dat hy alleen oorgebly het – al die ander mense en troeteldiere is skoonveld. In ’n onderhoud het Miller gesê dat hy wou ondersoek wat sal gebeur as al die kommoditeite waarmee ons ons menswees vul, sou wegval en slegs menseverhoudings oorbly.
Aan die een kant kan post-apokaliptiese fiksie dus kritiek op die huidige samelewing lewer: op die vernietigende effek van korporatisering en ’n ongebreidelde verbruikerskultuur op die ekologie, of op ekonomiese, godsdienstige of sekere politieke stelsels en op etiese aspekte van wetenskapsbeoefening. Aan die ander kant bied post-apokaliptiese fiksie die geleentheid om te ondersoek hoe ’n samelewing opnuut herbou kan word, hoe mense in ’n nuwe wêreld ’n “skoon” begin kan probeer maak, in ’n poging om al die foute en probleme van ons huidige samelewing van die begin af uit te skakel (en hoedat sulke pogings tot paradysskepping by voorbaat gedoem is).
Benewens hierdie twee moontlikhede, bied post-apokaliptiese situasies ook ideale stof vir spanningsverhale: mense wat in ’n vyandige omgewing vir oorlewing teen skurke veg. Deon Meyer benut byna al hierdie moontlikhede in Koors. Miskien is hierdie soort post-apokaliptiese literatuur so gewild omdat ons aan die begin van die 21ste eeu nie meer so optimisties soos voorheen is nie. Die euforie van ’n tydperk van ekonomiese en tegnologiese vooruitgang het by baie tot optimisme gelei wat nou getemper word deur ’n bewuswording van ekologiese bedreigings en deur voortslepende vlugtelingkrisisse wat tot die besef lei dat ekonomiese groei en ongebreidelde verbruik nie op volhoubare manier vir almal op aarde beskore kan wees nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.