Die Pretorianer Corli Botha het ‘n ruk gelede as wenner van die tweede seisoen van Koekedoor weggestap.
Mari-Louis Guy, een van die reeks se drie beoordelaars, het gesê: “Corli het haarself deur en deur bewys as die survivor van die bakwêreld om ná 35 uitdagings in 13 episodes steeds met soveel grasie staande te bly.”
Corli het aanvanklik in die korporatiewe wêreld gewerk, maar bak en kosmaak was nog altyd haar grootste liefde. Dié liefde is versterk toe sy en haar gesin ‘n rukkie in Frankryk gewoon het, waar sy daagliks by elke kafee, bakkery of koffiewinkel in die dorp ingeloer het.
Waar kom jou passie vir bak vandaan en hoekom is passie belangrik?
Ek glo as jy met liefde bak, ‘n mens dit in die gebak kan proe. Ek kry my passie vir bak van my ouma Corrie. Bak het my nog altyd goed laat voel. Dit gee uiting aan emosie, dit stimuleer die sintuie, dis kreatief en natuurlik is dit ‘n plesier om iemand met my gebak te bederf.
Hoe het jy Koekedoor geniet en wat was die lekkerste aspek – behalwe die wen?
Koekedoor was ‘n reis wat ek definitief altyd diep in my hart sal dra. Dit was ‘n platform en suksesdeur wat vir my oopgegaan het. Alhoewel ek ‘n private mens is, is ek gek oor mense en sosialiseer, en om nuwe mense te kan ontmoet is vir my altyd heerlik. Die feit dat Koekedoor ‘n mens in die diepkant ingooi met uitdagings en bak is een ding; maar om ook met nege vreemde mense met uiteenlopende persoonlikhede oor die weg te kom was vir my ‘n heerlike en lekker aspek. Jy word gedwing om vriendskappe en verhoudings te bou. Bakvriende is vriende vir altyd.
Wat het Koekedoor jou van jouself geleer?
Ek het gedink die lewe het al ‘n paar draaie met my gegooi, hoe erg kan Koekedoor wees? Vandag kan ek sê dit het my net verryk as mens. Die Koekedoor-reis het my na hoogtes en laagtes laat gaan wat ek nie sommer in normale omstandighede sou doen of bereik nie. Dit het my geleer niks is onmoontlik as jy jou hart, saam met harde werk, daarop sit nie.
Jy droom al lank van Corli’s Kitchen – vertel ons daarvan?
Ek wou so graag ‘n koffie- of koswinkel hê, en nou is dit asof my eens onbereikbare drome stadig ‘n werklikheid word. Ek sien uit om binnekort my winkel met julle te deel by Corli’s Kitchen & Road Café in Pretoria.
Vertel my hoe jou ouma Corrie jou liefde vir bak gekweek het?
My bakpoeier in die lewe is die inspirasie wat ek by my ouma Corrie gekry het; sy was die een wat die bakgogga aan my laat byt het. Alhoewel ek so baie by haar geleer het, wens ek ek kon nog meer tyd saam met haar deurgebring het.
Hoe het dit gevoel om jou eie kookboek te skryf?
Onwerklik, en nog meer oorweldigend om dit in my hande te kan hou en my gesig op my eie resepteboek se voorblad te sien. Dit gee my nog meer waagmoed en laat my kans sien vir meer onmoontlike dinge wat ek voorheen gedink het is nie bereikbaar nie. Dit was lang ure en harde werk, tog was als só die moeite werd.
Waar kom die resepte in die boek vandaan?
Ek het al oor tyd en jare soveel uitknipsels, resepteboeke, resepte van ouma, familie en vriende en selfs allerhande ander prentjies bymekaargemaak en resepte probeer dat dit nie moeilik was om idees en resepte van my eie bymekaar te kry vir wat ek in ‘n resepteboek sou wou hê nie. Ek het begin skryf aan maklike en eenvoudige elkedagdisse of eethappies wat enigiemand in sy eie kombuis kan maak. Ek het so twee maande lank oggend en aand aan al die resepte geskryf en getoets. Elke resep het vir my ‘n herinnering of betekenis aan iets.
Vertel my van jou grootste bakflater?
Vir seker my roomyskoekflater op die Koekedoor-program. Ek het hierdie absolute meesterstuk in gedagte gehad en nooit die tydfaktor in gedagte gehou nie. Toe ek die een oomblik hierdie fantastiese roomys toring uitbeeld en die volgende oomblik was dit meer soos ‘n cookies ‘n cream- melkskommel op die toonbank!
Wat was jou gunstelingverjaardagkoek as kind?
Ek onthou my sesde verjaardagkoek en ek dink amper die koek kom nog uit my mededeelnemer Suretha du Toit se boek Gelukkige verjaarsdag. Ek onthou daardie koek soos gister: die feetjiekasteel. As ek nou terugkyk, is dit snaaks hoeveel meer veeleisend ‘n kinderpartytjie geword het. Toe ek ‘n kind was, was ons in die sewende hemel oor ons so bevoorreg was om die oggend wakker te word net met ‘n koek wat tuisgemaak is en jou gesin wat jou wakker sing. Vandag is dit steeds die tradisie in ons huis. Jy word wakker met ‘n vals vroegoggend-gesing van almal in die huis: “Veels geluk liewe…” en jy moet die kersies op die koek uitblaas.
Watter bestanddeel kikker vir jou enige bakwerk op?
As jy bang is vir botter, gebruik room. Room, botter of regte vanieljepeul… solank dit als die ware Jakob is.
Wat was jou grootste bak-uitdaging tot dusver?
Iets wat in afgelope vier jaar ‘n uitdaging was, was makrolletjies. In Frankryk was dit vir my maklik, want ek glo die bestanddele daar is perfek en presies. Terug in Suid-Afrika het ek so ‘n baksel maklik twee tot drie keer oorgemaak om ‘n suksesvolle makrolletjie te kry. Maar ek het nou die kuns bemeester en makrolletjies is ‘n weeklikse gebak in my eie kombuis.
Watter gebak streel alle hartseer weg?
Ek kry skaam, want myne is nie iets wat ek self bak nie: ‘n vars broodjie met grondboontjiebotter en stroop of ‘n dik laag Nutella. Dit vat vir my enige hartseer weg.
Wat is jou gunstelingbakboek?
Dit sal onregverdig wees om een tussen my honderde bak- en resepteboeke te moet kies. Alhoewel my ouma Corrie se handgeskrewe resepte, panne en spuitpunte definitief van my kosbaarste besittings is.
Na wie gaan jy vir bakraad?
Om eerlik te wees is my heel eerste grypslag die internet. Die moderne eeu het als soveel makliker gemaak en kan jy onmiddellik enige tyd van die dag of nag vele verskillende hulpmiddels of oplossings verkry van verskillende mense en metodes. Hoewel ek agterkom dat ek altyd heel eerste ‘n boereraat of gesoute oplossing sal gebruik.
Watter internasionale bakkers bewonder jy?
Daar is ‘n hele paar – Jamie Oliver, Nigella, Rachel Khoo, Anna Olson.
Mooiste woorde oor gebak al gehoor?
“Gebak is liefde in eetbare vorm.”
Raad aan mense wat dink hulle kan nie suksesvol bak nie?
Ek glo aanhouer wen – hoe meer jy iets probeer, repeteer en aanhou oefen, hoe makliker gaan dit word en hoe vinniger gaan jy dit regkry.
Corli se ouma Corrie se suurlemoentert uit Corli se kombuis wat pas by Human & Rousseau verskyn het:
Lewer een groot tert of ongeveer 12 kleiner tertjies
Hierdie is ‘n liplekker-teetert wat my ouma Corrie al die jare Sondae ná kerk vir ons gesin gemaak het. Die Royal Albert-teestel is uitgehaal en kind en kraai is bederf met haar heerlike suurlemoentert en ‘n koppie tee.
Tertdop
190 g botter
325 g koekmeel
45 ml strooisuiker
2 eiergele, geklits met 75 ml koue water
of
1 pakkie Tennis-beskuitjies, gekrummel en gemeng met 125 g botter en in die tertbak vasgedruk
Vulsel
4 eiers, geskei
1 blikkie kondensmelk
250 ml klapper
100 ml suurlemoensap
‘n knippie sout
Metode vir tertdop
Plaas die botter, meel en suiker saam in ‘n voedselverwerker. Verwerk tot alles goed gemeng is; dit sal soos fyn broodkrummels lyk. Voeg die eiergeelmengsel by terwyl die voedselverwerker loop en meng tot ‘n deeg vorm.
Haal die deeg uit, maak toe met kleefplastiek en laat rus vir 15 minute in die yskas. Voorverhit die oond tot 180 °C en spuit ‘n tertbak van 24 cm goed met kleefwerende kossproei.
Rol die deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlak en voer dan die tertbak daarmee uit. Bak die tertdop blind vir ongeveer 15 minute tot redelik gaar.
Metode vir die vulsel
Skei die eiers in twee mengbakke. Klits die eiergele en voeg die kondensmelk, klapper, suurlemoensap en knippie sout daarby. Meng alles saam.
Klits die eierwitte tot goed styf en vou met ‘n metaallepel by die mengsel in. Giet die mengsel in die tertdop en bak vir 20–25 minute.
Garneer met pistasieneute, suurlemoengarnering, kruisementblare of ‘n paar tertdopkrummels.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.