Nog vrae aan Hester Kruger wie se boek, Een nag en ’n bietjie, oor die plaasaanval en ontvoering van haar en haar man, pas by Human & Rousseau verskyn het
Hoekom verkies jy om nie na die gebeure as ’n plaasaanval te verwys nie?
Ek wil nie dit wat met ons gebeur het, iets anders maak as ooreenkomstige gebeure in dorpe, stede en townships nie.Dat die omstandighede op plase verskil van die ander gevalle waarna ek verwys, is wel waar. Plase is gewoonlik afgesonder en hoewel daar goed georganiseerde buurtwagte in plek is, is hulp nie met die druk van ’n knoppie beskikbaar nie. Die rowers het dus baie tyd tot hul beskikking wat tot erge aanrandings of natuurlik die dood van die slagoffer lei. Die persepsie bestaan klaarblyklik ook by rowers dat daar vuurwapens en baie kontantgeld op plase gevind kan word. Ek dink roof en nie vergelding nie, is die motivering vir die “aanval”.
Was daar ’n tyd wat jy skuldig oor of aandadig aan die aanval gevoel het – jy skryf oor mense se gefluister oor hoe beter sekuriteit, of diefwering, dit kon verhoed het?
As rowers die voornemens het om te roof, sal niks hulle keer nie. Dit gebeur in veiligheidskomplekse in digbewoonde gebiede. Ons het ’n bepaalde lewenstyl gekies deur op die plaas te kom bly. Gevolglik is daar steeds geen diefwering voor die vensters nie, hoewel ons ná die rooftog ’n behoorlike alarmstelsel laat installeer het.
Wat het jy met hierdie voorval van jouself en van jou man geleer?
Gedurende die nag van die gebeure, het ek besef ons is ’n goeie span as daar ’n krisis opduik. My man het die leiding geneem deur kalm te bly en ek het, al is dit teen my aard, probeer om daarby in te val. Elke mens het sy eie manier om pyn en trauma te verwerk. Uit die aard van my en my man se uiteenlopende persoonlikhede, het ons ons emosies daarna uiteraard verskillend hanteer. Genadiglik het ons dit na só ’n lang getroude lewe besef en mekaar die ruimte gegun, weliswaar soms met wedersydse aanpassing. Die liefde oorwin alles.
Het julle ooit oorweeg om te emigreer?
Emigrasie het nooit in ons gedagtes opgekom nie. Ons het met tye in prentjiemooi plekke in Duitsland gebly, maar Afrika se stof is in ons are. Soms, wanneer die verlang in die buiteland te groot geword het, was my grootste behoefte om van die woude plat te stoot en ’n Wes-Transvaalse mielieland voor my te sien.
Het hulle ooit enige van jul besittings teruggekry waaroor jy sentimenteel was?
Ongelukkig het ons nooit enige besittings teruggevind nie. Die les wat ek geleer het, is dat aardse besittings nie so belangrik is as wat ons daarvan maak nie.
Jy het met empatie oor die mans geskryf en is deur bure en vriende gekritiseer. Het jy simpatie met hierdie soort misdadigers omdat hulle die produk van ’n verrotte bestel is?
Misdaad kan nooit verskoon word nie en ek het nie simpatie daarmee nie. Misdaad moet gestraf word. Maar agter ’n misdadiger lê daar dikwels ’n stuk menslike tragiek, hetsy persoonlik, sosio-ekonomies of wat ook al. Daarmee het ek empatie. ? Mens kan nie die tragiek wat mense tot misdaad dryf, ignoreer nie. Maar terselfdertyd maak elkeen van ons keuses en moet die gevolge daarvan dra. Gevolglik het ons almal ’n rol om te speel – vanaf die regering regdeur tot by die persoon op straat. Soms gaan dit net oor ’n houding wat ons openbaar.
Hoe voel jy oor ons misdaadsyfers in 2016 en wie faal vir wie in die nuwe bedeling?
Die misdaadsyfers is ontstellend hoog. Ons leef in ’n geweldige en aggressiewe land, of dit nou padwoede, kindermishandeling, verkragtings of rooftogte is. Natuurlik is dit baie ontstellend, maar het ons hier in Suid-Afrika nie maar van altyd af ’n geskiedenis van oorloë en gewelddadigheid nie? Lees maar net Buysvan Willem Anker.
Wat is jou wens vir jou vier kleinkinders?
Kinders moet die geleentheid gegee word om met sterre in hul oë oor hul toekoms in hul geboorteland drome te droom.