Dis ses jaar sedert The Test Kitchen in The Old Biscuit Mill, Woodstock, Kaapstad sy deure geopen het en dié beste restaurant in Afrika en die 22 beste restaurant in die wêreld, het ‘n algehele ontwerp-metamorfose ondergaan.
Die restaurant spog nou met ‘n nuwe sensoriese “donker”kamer en ‘n 40-sitplek “ligte”kamer wat oop is vir aandete. Luke Dale-Roberts het nou ook Suid-Afrika se beste brandewyne by The Test Kitchen se aanbieding gevoeg.
Die restaurant se nuutste aanbieding sal ‘n intieme eet-ervaring wees, wat Luke hoop ‘n omvattende belewenis sal wees. “Die beginsel van The Test Kitchen is ‘n alles-in ondervinding,” sê hy. “Dis soos om na iemand se huis genooi te word,” het hy by die bekendstelling van die nuwe voorkoms en ‘n oulike brandewyntrollie, gesê. Die trollie is deel van daardie alles-in ervaring wanneer gaste die unieke geure van Suid-Afrikaanse brandewyne kan geniet.
“The Test Kitchen is voortdurend onder die wêreld se Top 50 restaurante en Luke se algehele fokus op plaaslike uitmuntendheid, maak dit die ideale pasmaat vir ons top Suid-Afrikaanse brandewyne. Ons brandewyne vertoon ook gereeld uitstekend op die wêreld-verhoë en The Test Kitchen is die perfekte ruimte waarin ons fynproewers aan ons produkte kan bekendstel,” het die Suid-Afrikaanse Brandewyn Stigting-direkteur, Christelle Reade-Jahn, gesê.
“Brandewyn is die perfekte manier om enige maal af te sluit,” sê sy. “Dis ‘n natuurlike digéstif en die perfekte pasmaat vir nagereg en sjokolade. Die aroma in ons brandewyne sal enige nagereg aanvul en aan gaste ‘n klein kykie gee in die wêreld van brandewyn-uitmuntendheid.”
Die brandewyne word op ‘n spesiale trollie uitgestal en deur sommelier Tinashe Nyamudoka aan gaste bedien om hul maal af te rond. Die aanbieding sluit beide die top Suid-Afrikaanse brandewyne én die Karoo Craft-handelsmerke in.
“Om dinge interessant te hou, gaan ons voortdurend nuwe produkte op die trollie vertoon,” sê Christelle. “Vir die loodsgeleentheid sluit die keuse vanjaar se wenners van die Beste Brandewyn-trofees by beide die International Wine and Spirits Competition (IWSC) en International Spirits Challenge (ISC) in Londen; en ook ‘n seleksie kleiner produsente in.”
Bespreek by 021 447 2337, e-pos [email protected] of www.thetestkitchen.co.za
Selfs die spyskaart se aanbieding was stylvol en onverwags.
André Simonis van Oude Molen, Lorraine Geldenhuys, keldermeester van Elsenburg en Danie Pretorius, bestuurder: SA Brandewyn Stigting.
Die bekroonde sjef, Luke Dale-Roberts en Christelle Reade-Jahn, die Suid-Afrikaanse Brandewyn Stigting-direkteur.
Die Dark Room.
Die Light Room.
Kobus Gelderblom vertel meer van die Oude Molen XO brandewyn.
Die brandewyne word op ‘n spesiale trollie uitgestal en deur sommelier Tinashe Nyamudoka aan gaste bedien om hul maal af te rond.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.