Bederf jou gesin en bak vir hulle hierdie heerlike meringuevlakoek
Deur: Burgerd Botha en Zita Pretorius
1 koek
KOEK
115 g sagte botter
125 ml (½ k) strooisuiker
3 ekstragroot eiers, geskei
2,5 ml (½ t) vanieljegeursel
250 ml (1 k) koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
1 ml sout
80 ml (1/3 k) volroommelk
200 ml suiker
50 g (½ pakkie) pekanneute, grofgekap
VLAVULSEL
60 ml (4 e) vlapoeier
250 ml (1 k) volroommelk
250 ml (1 k) room
125 ml (½ k) suiker
1 ekstragroot eier
knypie sout
Stel oond op 180 °C.
1 Spuit twee ronde koekpanne van 20 cm deursnee met kossproei en voer met bakpapier uit.
2 Room botter en suiker tot liggeel. Voeg eiergele by en klits weer. Voeg vanieljegeursel by en klits weer.
3 Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam. Roer gesifte bestanddele en melk beurtelings by eiermengsel tot gemeng.
4 Skep deeg in koekpanne en maak gelyk bo-op.
5 Klits eierwitte tot skuimerig en klits suiker geleidelik by. Klits tot dik, glansende meringue vorm. Skep lepels vol meringue op beslag (moenie dit gelyk maak nie) en strooi neute oor.
6 Bak koek vir 25 minute of tot gaar en ligbruin. Laat koeke vir 15 minute in koekpanne afkoel.
7 Maak koek langs kante los indien nodig en keer versigtig uit sodat meringue nie te veel breek nie.
8 Verwyder bakpapier en laat koeklae op afkoelrakkie verder afkoel.
9 Vlavulsel Meng vlapoeier met helfte van melk tot glad.
10 Verhit res van melk saam met room en suiker tot kookpunt.
11 Klits vlamelk, eier en sout saam en klits van kookmelkmengsel geleidelik hierby. Roer vlamengsel by oorblywende kookmelkmengsel en kook oor matige hitte tot dik. Pasop vir aanbrand.
12 Bedek gaar vla met nat waspapier – dit voorkom dat ’n vel bo-op vorm. Laat dit afkoel.
13 Plaas koeklaag op bord of koekstander en skep vlavulsel bo-op. Sit oorblywende koeklaag bo-op.
14 Sit voor soos verkies, byvoorbeeld met vars aarbeie en ekstra neute.