Willie Burger kyk na die Hertzogpryswenner Elisabeth Eybers se werk
Elisabeth Eybers is die eerste vrou aan wie die Hertzogprys ooit toegeken is. Sy was ook die eerste ontvanger van die PC Hooftprys wat nie in Nederlands gedig het nie. Sy is ses jaar gelede, aan die begin van Desember, in die ouderdom van 92 oorlede. In haar lang lewe het sy meer as 25 digbundels geskryf en daar is ook verskeie versamelbundels en vertalings van haar gedigte uitgegee.
Eybers is die digter met die meeste gedigte onder die 100 gewildste Afrikaanse gedigte wat deur ’n Leserskringpeiling saamgestel is, naamlik agt. Dit is meer as enige van die digters wat dikwels as die “grootste Afrikaanse digters” beskou word, soos Van Wyk Louw, Opperman of Breytenbach. Dit mag wel te doen hê met die manier waarop lesers gestem het en wie die lesers was, maar dit bly nietemin ’n aanduiding van hoe gewild haar poësie onder Afrikaanse lesers is. Die gewildheid het waarskynlik te doen met die klankrykheid en toeganklikheid van haar poësie, maar beslis ook omdat sy soveel ervarings van veral vrouwees, so identifiseerbaar onder woorde bring.
Eybers is in 1915 op Klerksdorp gebore en het in Schweizer-Reneke grootgeword voordat sy aan Wits studeer het en vir ’n ruk lank as joernalis gewerk het. Sy het op die ouderdom van 21 met Die stil avontuur gedebuteer. Een jaar later is sy met die sakeman Albert Wessels getroud. Hulle het vier kinders gehad en is in 1961 geskei. Hierna het sy na Amsterdam vertrek en het tot haar dood in 2007 in Nederland gebly. Sy het dus byna net so lank in Suid-Afrika as in Nederland gewoon – 46 jaar in elk – en het Nederlandse burgerskap gehad. Ten spyte hiervan het sy tot aan die einde in Afrikaans bly skryf. In 1946 ontvang sy die Hertzogprys vir haar eerste twee bundels, Die stil avontuur (1936) en Belydenis in die skemering (1939). Uit hierdie bundels kom verskeie van haar bekende verse wat oor die jare baie gewild geword het en wat deur geslagte kinders op skool geleer is – gedigte soos “Maria”, wat dikwels in Kerstyd voorgelees word: ’n Engel het dit self gebring, die vreugde-boodskap – en jy het ’n lofsang tot Gods eer gesing, Maria, nooi uit Nasaret! Die twee laaste strofes van die gedig lui: En toe hy in jou arms lê, sy mondjie teen jou volle bors, het jy geweet dat hy sou sê, toe dit te laat was: Ek het dors! Toe dit verby was en jy met sy vriend Johannes huis toe gaan – Maria, vrou van smarte, het jy tóé die boodskap goed verstaan? In die eerste strofe is Maria die “nooi van Nasaret”, wat in die laaste strofe die “vrou van smarte” word. Hierin val die voortdurende verwoording van die belewenis van vrouwees wat so sentraal in haar oeuvre staan reeds op: Geen Afrikaanse digter het voor haar die belewenis van vrouwees: van jong meisie, verliefde vrou, opgewonde moeder, ontgogelde eggenote, onvervulde vrou en ouderdom so treffend verwoord nie. Van die uitbundige liefde en optimisme oor vrouwees bly later ál minder in haar verse oor – die vergeefse wag op vervulling word in
Die ander dors baie duidelik in ’n gedig soos “Verhaal”: ’n Vrou het stil geword van baie wag: die aarde het gegly deur die spiraal van dag en nag, was beurtelings groen en vaal, en sy het soms gehuil en soms gelag. Ook was sy dikwels wakker in die nag, maar sy het in haar woning en op straat gewoon gehandel en gewoon gepraat en niemand het geweet hoedat sy wag. Verlange word aanvaarding, langsaamaan, want wag is beurtelings hoop en wanhoop, tot die twee versmelt en stilte alleen bestaan. En deur die jare het sy self die slot van die verhaal geword: haar stilte en krag was skoner as die ding waarop sy wag. In 1971 het Eybers vir ’n tweede keer die Hertzogprys gekry – hierdie keer vir Onderdak (1968). Onderdak is reeds volledig in Nederland geskryf en hierin word onder meer die moeite om “onderdak” in ’n nuwe land te vind, betrek.
Die merkwaardige van Eybers se oeuvre is dat sy as Dertiger gedebuteer het en dat haar laaste bundel 69 jaar later verskyn het. Sy het telkens nuwe lewensfases verwoord en is in ’n groot mate die moeder van die vrouedigters ná haar. In haar laaste bundels word ouderdom met ’n rypheid verwoord, soos in “Bewussynstroom”: Met verloop van tyd gaan alles verby wat verdrietig maak en tewens ook bly is daar dan in godsnaam niks wat bly tensy jy dit op papier kan kry wat selde luk dus raai ek jou aan laat die fatale tyd maar begaan tot jy eendag – al is dit ondenkbaar nou – alles laat vaar en die res behou.