Willie Burger kyk na Toon van den Heever se kortverhaal “Werkstaking by die kleigat”
Willie Burger kyk na Toon van den Heever se kortverhaal ‘Werkstaking by die kleigat’
In Toon van den Heever se kortverhaal “Werkstaking by die kleigat” word vertel van twee seuns wat op ’n plaas speel. Die wit seun van die plaaseienaar speel saam met sy swart maatjie. Hul gunstelingspeelplek is ’n kleigat waar hulle kleiosse maak. Die twee seuns is in talle opsigte gelyk. Hulle het elkeen ’n werk op die plaas: Die wit seun is die skaapwagter en die swart seun die beeswagter. Al twee van hulle voel eintlik maar misken deur die baas van die plaas. Die swart seun voer (wanneer hy dink niemand hoor hom nie) ’n denkbeeldige gesprek met die “Oubaas” waarin hy weier om bevele uit te voer en sélf besluite neem terwyl die wit seun eweneens moeg is om skape op te pas en daarvan droom om weg te loop. Wanneer die wit seun verveeld raak met die spelery (eintlik omdat sy kleiosse nie so mooi soos die swart seun s’n is nie) vertel hy van sy dagdroom: Hy wil van die plaas af wegloop en in die buiteland as ’n generaal beroemdheid verwerf en dan met ’n koning of ridder se dogter trou. Daarna wil hy terugkeer na hul dorp waar almal hom ’n heldeontvangs sal gee voordat sy pa agterkom dit is eintlik hy. Dan begin die swart seun ’n soortgelyke dagdroom vertel, maar hy word kortgeknip deur die wit seun se opmerking dat hy nie ’n generaal kan word nie omdat hy swart is. Hy kan hoogstens die wit seun se agterryer word. Hierop breek ’n bakleiery uit wat onbeslis eindig omdat hulle skielik besef dat die skape weggeloop het. Vir ’n hele paar dae daarna was hulle kwaaivriende en het hulle nie by die kleigat gespeel nie – vandaar ook die titel van die verhaal. Die publikasiedatum van hierdie verhaal is belangrik. Dit het in 1948 verskyn. Gedurende die dertiger- en veertigerjare het die Afrikanerstrewe na mag gegroei en dit het uiteindelik in 1948 op die Nasionale Party se oorwinning uitgeloop. Hierna is die wetgewing wat later die apartheidsbeleid sou word, vinnig uitgebrei. Die vestiging van Afrikanernasionalisme het met die toenemende uitsluiting van swart mense gepaardgegaan. Hierdie verhaal is dus eintlik stroomop teen die algemene gees van die tyd, waarin die uitsluiting van swart mense as vanselfsprekend aanvaar is – ’n aanname wat eintlik nog uit ’n veel ouer koloniale beskouing voortspruit dat die “inheemse bevolkings” van die kolonies minderwaardig is en slegs geskik om agterryers te wees. Eintlik vra hierdie verhaal ’n ongemaklike vraag oor die toenemende uitsluiting van swart mense. Die twee seuns is immers gelyk, maar hulle durf nie dieselfde drome hê nie. Vir ’n swart seun is die droom om ’n generaal te word, ondenkbaar. Deur hierdie beperking op swart mense se drome aan die kaak te stel, word die onregverdigheid van uitsluitende nasionalisme blootgelê. Ook die sielkundige skade wat so ’n stelsel aanrig, blyk duidelik: Wanneer die wit seun hom daarop wys dat hy nie ’n generaal kan word nie omdat hy swart is, word die swart seun se reaksie só beskryf: “‘Ja, wragtag!’ sê Pens, langsaam en terneergeslae. ‘Wat kan ek dan word?’” Soos in die meeste Afrikaanse prosawerke van 1920-1950 oorheers die plaasruimte ook hier. Maar tog word die plaasruimte waaraan Afrikaneridentiteit so nou geknoop is en wat so dikwels in talle werke byna idillies uitgebeeld is, in hierdie verhaal gekompliseer. Die eerste paragraaf van die verhaal bestaan uit drie lang vraagsinne. Die leser word direk aangespreek: “Was jy al op die Hoëveld na die eerste reëns geval het …?” Hierdie uitgerekte vraagsinne maak ’n aanspraak op die leser, betrek jou by ’n nostalgiese verlange na die goeie ou dae op die plaas, waar die skape in groen grasvelde met botterblomme, blou lug en singende voëls wei. ’n Pastorale, idilliese bestaan word vir die leser opgeroep. Dit word dan gevolg deur ’n grap. Die swart seun word uitgevang waar hy sy denkbeeldige opstand teen die boer opvoer en klem word daarop gelê dat hy, ten spyte van sy verleentheid, nie kan bloos nie omdat hy swart is. Hierdie “grappie” bring die verteller en (wit) leser nóg nader aan mekaar. Wanneer die seuns se gesellige kleiosmakery hierna beskryf word, word die leser verder gesus in die nostalgiese verlange na ’n idilliese en bekende plaasbestaan. Die grap kry later ’n ironiese betekenis by. Die implikasie dat die swart seun minderwaardig is omdat hy nie kan bloos nie – ’n minderwaardigheid wat later bevestig word omdat hy ook nie durf droom van hoër aspirasies as om ’n agterryer, bediende en ondergeskikte te wees nie – word ondermyn deurdat hy veel beter kleiosse as die wit seun maak. Die nostalgie word uiteindelik eintlik ironies ondergrawe. Pens kom in opstand teen die idee dat hy net ’n agterryer durf wees, maar die bakleiery is nie deurslaggewend nie. Dit kan nie die verloop van die land se geskiedenis verlê nie en lei hoogstens tot ’n paar dae se spanning tussen die twee seuns. Die nostalgie wat by die leser opgewek is, word ondergrawe. Daardie verlange na ’n idilliese plaas kan nie meer ongekompliseerd wees nie. Vk