Willie Burger kyk na Eugené Marais se kortverhaal, Klein-riet-alleen-in-die-roerkuil
Willie Burger
Talle van die vroeë Afrikaanse kortverhale wat in tydskrifte soos Die Brandwag, Die Huisgenoot en Die Boerevrou verskyn het, het aangesluit by kampvuurvertellings, jagavonture (Sangiro), plaasbelewenisse (Lub), transportry (Leipoldt) en spookstories (Langenhoven). Dikwels is uittreksels uit plaasromans van Van Bruggen en CM van den Heever ook as kortverhale in tydskrifte gepubliseer. In die vroeë 20ste eeu is ook talle verhale uit inheemse volksvertellings opgeteken. Die bekendste hiervan is seker die versameling San-vertellings wat deur Wilhelm Bleek en Lucy Lloyd opgeteken is in Specimens of Bushman Folklore (1911). GR von Wielligh het ook San-verhale in Afrikaans opgeteken in sy vierdelige Boesman-stories wat tussen 1919 en 1921 verskyn het (en onlangs deur Protea heruitgegee is). Marais se vier “dwaalstories” (in 1921 in Die Boerevrou gepubliseer en in 1927 heruitgegee in Dwaalstories en ander vertellings) kom nie in enige van die ander versamelings voor nie. Marais beskryf ’n “dwaalstorie” as ’n soort inheemse sprokie waarin die betekenis net ’n “dowwe skaduwee” is. In sy voorwoord tot die bundel gee hy erkenning aan “Hendrik” by wie hy die stories gehoor het. Deur die jare het sommige Afrikaanse kritici egter gemeen (omdat hulle Marais graag as voortreflike Afrikaanse kunstenaar wou bevestig) dat Marais die verhale só kunstig gekonstrueer het dat dit nie sommer net die vertelling van ’n rondloper San-man kon wees nie. “Klein-riet-alleen-in-die-roerkuil” is seker een van die bekendste “dwaalstories” en dit is kenmerkend van die orale tradisie. Orale literatuur is vertellings en gedigte wat mondelings oorvertel word in samelewings waarin skrif nog nie ’n groot rol speel nie. Die meeste volksverhale en epiese gedigte het op hierdie manier ontstaan – soos ook groot dele van die Bybel wat van geslag tot geslag oorgelewer is voordat dit opgeteken is. Die meeste sprokies wat ons ken, is ook mondelings oorgelewer totdat dit byvoorbeeld deur die Grimm-broers opgeteken is. Dikwels moes die storievertellers in die gemeenskap die epiese gedigte en stories of geskiedenis van die groep mense memoriseer sodat dit oorvertel kon word om mense te vermaak, lesse te leer of te help om hul geskiedenis te onthou. Juis omdat dit onthou moes word, het die vertellings dikwels ’n eenvoudige struktuur, ’n bepaalde ritme en herhalende frases (“Hoekom is ouma se ore so groot, Hoekom is ouma se oë so groot, Hoekom is ouma se tande so groot …”). Verskeie variasies van dieselfde verhale kom dikwels voor omdat dit nooit presies dieselfde oorvertel word nie en die vertellers die verhale ook by omstandighede laat aanpas. Soms bied die verhale ’n morele vermaning en tradisionele wyshede word oorgedra – soms bied die slot ’n sedeles. Orale vertellings word ook gekenmerk deur vreemde ruimtes en ’n wêreld vol toorkrag. Soms is daar vaste openings- en sluitfrases (“Eendag lank, lank gelede …” en “… en hulle het lank en gelukkig saam gelewe.”) Partykeer maak liedjies deel uit van die vertelling. Soos in talle volksvertellings word die held, Klein-riet-alleen-in-die-roerkuil, gestuur om ’n belangrike taak uit te voer (dink aan Rooikappie wat kos vir haar ouma moet vat). Klein-riet-alleen-in-die-roerkuil is die naam van die vinnigste boodskapdraer in Gammadoekies. Toe daar ’n bedreiging vir die gemeenskap by Gammadoekies kom (ons weet slegs dat dit ’n “groot gevaar” is wat al die mense vreesbevange maak) word Klein-riet gestuur om ’n boodskap (hulpkreet?) na Rooi-Joggem te neem. Hy word gewaarsku teen die “triekster”, Nagali, wat hom langs die pad kan voorlê en dat hy doodgemaak sal word as hy nie suksesvol is nie. Met sy “uitspeelstel” (gelukbringer) in die hand hardloop hy so vinnig as wat hy kan. Soos in talle sprokies (en grappe) gebeur daar drie dinge. Hy ontmoet die triekster, Nagali, drie keer. Hy herken haar nie die eerste twee keer in die vorms wat sy aan hom verskyn nie en sy verlei hom om eers tyd te mors met dans en met resies hardloop (en hy laat hom verlei omdat hy wil wys dat hy die beste kan dans en hardloop). In die proses verloor hy sy uitspeelstel (’n slegte voorbode). Die derde keer, te laat, besef hy dat hy deur Nagali gekonfronteer word. Sy beheer egter die krokodil en laat hom in die roerkuil beland. Selfs sy “regmaakliedjie” help nie. Die krokodil gooi hom op die verkeerde oewer uit en hy hardloop, sonder dat hy daarvan bewus is, terug na Gammadoekies, waar hy doodgemaak word. Die leser voel eintlik dat dit onregverdig is dat almal – die oues en die grotes – so bang is vir die groot gevaar, maar dan van die kleinste (Kléin-riet) verwag om hulle te red en hom boonop doodmaak as hy nie daarin slaag nie. Klein-riet se ondergang is eintlik tragies, want dit word al aan die heel begin voorspel. Reeds sy naam, deur sy oupa aan hom gegee, voorspel al dat hy alleen in die roerkuil gaan beland.