Wetenskaplikes het in ‘n onlangse studie bevind dat ons ongelooflik baie van ons na ons selfone oordra. Van spore van speserye tot sonroom
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Molekules wat op selfone gevind word, kan ‘n ongelooflike hoeveelheid inligting oor die eienaar daarvan se gesondheid en lewenstyl verklap. Selfs wat ons eet en watter medikasie ons gebruik.
Wetenskaplikes aan die Universiteit van Kalifornië het spore van omtrent alles – van kafeïen en speserye tot velrome en antidepressante op 40 selfone gevind wat hulle getoets het.
Die mens los spore van molekules, chemikalieë en bakterieë op alles waaraan ons vat. Selfs al was jy jou hande gereeld goed, sal dit nie hierdie oordrag voorkom nie.
Volgens een van die navorsers, dr Amina Bouslimani, kan hulle op grond van die toetse vasstel watter geslag die persoon is, watter grimering sy gebruik, of haarkleur gebruik word, of hy of sy koffie drink, bier bo wyn verkies, van branderige kos hou, sonroom gebruik en of hy of sy vir depressie behandel word.
Hulle het gevind dat veral muskietweermiddel en sonroom lank op mense se vel en fone bly, selfs al is dit maande lank nie gebruik nie.
Die meeste van die molekules word van mense se vel, hande en sweet op hul foon oorgedra.
BRON: www.bbc.com