Nou kyk, ons het nou al ’n paar woeste storms hier in Johannesburg beleef sedert die somer begin het. Dink ek toe gisteraand toe ek aan hierdie blog dink dis hoe dit nou oor die algemeen in my lewe gaan …
DEUR: CHRISTA SWANEPOEL
Nou kyk, ons het nou al ‘n paar woeste storms hier in Johannesburg beleef sedert die somer begin het. Dis donker dreigende onweerswolke, bliksemstrale, hael, verspoelings en stortreën. Dink ek toe gisteraand toe ek aan hierdie blog dink dis hoe dit nou oor die algemeen in my lewe gaan. Daar’s ‘n klomp goeters wat om my gebeur. Ek trek die muurproppe uit, maak vensters toe, durf nat paaie aan, maar die storm woed.
‘n Paar bliksemstrale het my geskud. Een goeie vriendin het pas gehoor sy het ná 15 jaar se remissie, weer kanker. ‘n Ander liewe vriendin wag vir haar uitslae, ‘n kollega het die stryd teen kanker en die chemo aangedurf. My swaer baklei verwoed teen aggressiewe kanker.
Die onmoontlike spertye by die werk wil-wil ons wegspoel. Ons laat sak ons koppe en werk verwoed om elke uitgawe op die rakke te kry. Senuwees is snaarstyf gespan, elke harde geluid irriteer ons.
LEES OOK: Die gemaskerde breier: ‘n Lewe
Die winde waai die kant toe en daaikant toe. Drie van my vier kinders trek in die volgende maand. Ons beplan en reël vir ‘n vale.
Laas week is sakke en nogmaals sakke wol by ontvangs afgelaai. Die volgende breiboek is op hande. Ek bedink, beplan en skryf patrone tot laatnag. Teen einde Januarie moet als klaar. ‘n Onstuimige Desember lê voor …
Ons gebied se WhatsApp-groep is bedrywig. Misdaad neem toe, soos elke jaar hierdie tyd. Ek kry kwotasies vir ‘n elektriese heining. Ons maak staat op ons woelige jong hond om ons te waarsku as gevaar dreig.
My liewe skoonma word 80 en hierdie naweek gaan ons haar bederf. Ons bepraat resepte en idees.
Maar dankie tog vir die welkome reën en dat ons steeds ‘n dak oor ons koppe het.
Die vriende bly moedig, ons Vrouekeur-span trek die wa deur die drif en ons haal nie ons frustrasies op mekaar uit nie – ons oorleef met humor.
Vir die kinders lê daar ‘n nuwe en opwindende lewe voor. Oudste seun en sy geliefde het pas huis gekoop en hy gaan vir die eerste keer oorsee om sy geliefde se ma te gaan ontmoet. Die ander twee trek na ‘n heerlike woonstel ‘n katspoegie van hul werke af.
Ons is (sover) gespaar van enige misdaad en wat ‘n seën dat skoonma nog so gesond is dat sy haar eie winkel bestuur.
En dit bly ‘n vreugde om die breipenne te laat klik en nuwe dinge te skep.
Volgende jaar sal daar sekerlik weer storms wees in my en jou lewe. Mag ons sterk genoeg wees om dit te trotseer.
Ouma se blokkie
Met eerste kleur maak 4 ks en gs in 1ste st om ring te vorm.
1ste rdte: 3 ks (tel as lb), 7 lb in ring. Heg af.
2de rdte: Heg tweede kleur in enige lb, *3 ks, 1 lb, 1 dubbelslag, 1 lb, 3 ks en gs in dies st, gs tot in vlg lb en herh van * rondom. Heg af.
3de rdte: Heg derde kleur in enige dubbelslagst, (3 ks, 2 lb, 1 ks, 3 lb) in dies st, *1 ks, 3 lb in vlg dubbelslag, 1 ks, (3 lb, 1 ks 3 lb) in vlg dubbelslag, herh van * en eindig met 1 ks, 3 lb in laast dubbelslag, 1 ks, gs in 3de ka aan begin.
4de rdte: gs tot in 1 ks-sp, (3 ks, 2 lb, 1 ks 3 lb) in dies sp, *1 ks, (3 lb, 1 ks in vlg ks-sp) 2 keer, (3 lb, 1 ks, 3 lb) in hoeksp, herh van * rondom, 1 ks, (3 lb, 1 ks in vlg ks-sp) 2 keer, 1 ks, gs in 3de ks aan beg. Heg af.
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …