Willie Burger kyk hierdie week na Nelson Mandela se No Easy Walk to freedom
Willie Burger kyk hierdie week na Nelson Mandela se No Easy Walk to freedom
Oor die afgelope twee dekades het Nelson Mandela ’n heldestatus bereik wat geen ander politieke leier van ons era beskore was nie. Oud en jonk, wit en swart, binne Suid-Afrika en ver buite die landsgrense word Mandela se lof besing. Soms voel ek so ’n bietjie ongemaklik oor al die lofsange: nie omdat ek dink dat dit onverdiend is nie, maar omdat dit partykeer vir my net te soetsappig op die oor val. ’n Blinde, onkundige gejubel en lofsange aan “Madiba” as ons land se redder, deur talle mense wat maar slegs ’n baie oppervlakkige beeld van die merkwaardige leier het, laat my soms onwillekeurig dink aan Milan Kundera se beskrywing van kitsch. Vir Kundera is dit nie kitsch as ’n mens deur iets ontroer word nie, maar wanneer ’n mens dit geniet om saam met baie ander mense om jou ontroer te word, as jy die tweede traan huil omdat dit so lekker is om saam met al die mense om jou te huil, dan is dit kitsch. Sommige mense se verering van Mandela – veral daardie mense wat nog nooit sy Long Walk to Freedom gelees het nie, of selfs enigiets gelees het wat hy geskryf het nie, wat nog nooit ’n stukkie ANC-geskiedenis bestudeer het nie en eintlik nie die moeite gedoen het om te probeer uitvind waaroor die Rivoniaverhoor gegaan het nie – se lofsange oor ons voormalige president wil vir my soms so ’n bietjie na kitsch klink. Hierdie oordeel is waarskynlik onregverdig, maar ek dink dat almal sal baat vind om ’n bietjie meer van Mandela se eie geskrifte te lees. No Easy Walk to Freedom is ’n versameling van Nelson Mandela se toesprake, briewe en transkripsies van sy getuienis tydens die Rivonia-verhoor. Al hierdie dokumente dateer uit die tydperk vóórdat hy tronk toe is. Hier hoor ’n mens dus ook sy eie stem baie duidelik (anders as sy latere presidensiële toesprake wat veel meer deur die party of die regering as slegs deur die individu bepaal is). Die boek is in 1965 vir die eerste keer uitgegee met ’n voorwoord deur Mandela se prokureursvennoot, Oliver Tambo. Die nuwe 2013-uitgawe is van ’n nuwe inleiding deur die akademikus William Gumede voorsien. Vir baie van ons wat eers ná die Rivonia-verhoor gebore is of wat nog maar taamlik jonk was in daardie jare, maar selfs ook diegene wat toe reeds volwassenes was, was toegang tot hierdie denke van Mandela onmoontlik. En dit is baie jammer. Dit is natuurlik altyd baie maklik om ná die tyd te sê “as dit maar net só verloop het”, maar ’n mens wonder tog hoe die geskiedenis van ons land sou verloop het as hierdie toesprake en idees die kans kon kry om destyds, in die vyftigerjare, wyd te sirkuleer, as dit byvoorbeeld oral in die Afrikaanse koerante gepubliseer sou kon word. ’n Fassinerende blik op die Suid-Afrika van die 1950’s en 1960’s word gegee. Die toesprake en briewe dek ’n wye terrein: In sommige stukke val die klem op die lotgevalle van ’n individu waardeur die aard van die lewe aan die ontvangkant van apartheidswetgewing beskryf word. In ander stukke word pleidooie gelewer, idees op gesofistikeerde wyse uitgespel of regsargumente gevoer terwyl taktiek vir die verset teen apartheid uitgespel word. Maar wat deurgaans uitstaan, is Mandela se onwrikbare geloof in die regverdigheid van die saak en sy kompromislose verbintenis tot die stryd. Gumede wys in sy voorwoord daarop dat die ANC se sukses grootliks daaraan toegeskryf kan word dat hulle die stryd teen apartheid as ’n morele stryd kon voer, want dit het hulle in staat gestel om die stryd teen apartheid meer te maak as die stryd teen ’n spesifieke politieke bestel in een land – die stryd het ’n universele morele stryd teen onreg geword. Hierdie strategie kon slegs slaag omdat daar leiers soos Mandela was, met besondere integriteit en persoonlike etiese gedrag. So maklik kan individue wat in ’n stryd soos hierdie gewikkel is alle waardigheid verloor en alle morele gedrag oorboord gooi. Mandela waarsku telkens daarteen en doen ’n beroep op individue en groepe om steeds eerbaar en waardig op te tree. Daarvoor kry ’n mens telkens tydens die lees van hierdie stukke opnuut respek. Maar, soos Gumede in sy besonder skerp voorwoord aandui, is hierdie soort leierskap en die demokratiese gees wat deur al hierdie stukke van Mandela skyn, tans van die ANC afwesig.