Ons boekeredakteur Willie Burger kyk dié week na die werk van DJ Opperman
Ons boekeredakteur Willie Burger kyk dié week na die werk van DJ Opperman
DJ (Diederik Johannes) Opperman is ongetwyfeld een van die invloedrykste ouer Afrikaanse digters. Sy invloed strek verder as die nege digbundels en drie dramas wat hy geskryf het. Die bloemlesings wat hy saamgestel het, veral die bekende Groot Verseboek, wat hy aanvanklik in 1951 saamgestel het en wat daarna telkens hersien is, was vir baie van ons ’n voorgeskrewe boek en dit is vir talle mense wat nooit regtig digbundels koop of lees nie as ’t ware die begin en einde van die Afrikaanse poësie. Ook as keurder vir die uitgewers en as dosent aan die Universiteit van Stellenbosch (spesifiek deur sy werkswinkels vir voornemende digters) het hy ’n groot invloed uitgeoefen op talle ander digters, soos Antjie Krog. Die groot invloed van Opperman blyk ook uit die feit dat die Hertzogprys vier keer aan hom toegeken is, twee keer vir sy poësie en twee keer vir drama. Hy ontvang die Hertzogprys vir poësie die eerste keer in 1947 vir sy debuutbundel, Heilige beeste. In hierdie bundel se eerste gedig word “drie drifte” aangekondig as die belangrike motiewe in sy werk, naamlik “die aardse, die vrou en die Groot-Groot-Gees”. Reeds in hierdie bundel is dit opvallend hoedat Opperman gemoeid is met die Suid-Afrikaanse landskap, diere en mense. Later in sy oeuvre het hy ook toenemend gemoeid geraak met die maatskaplike en politieke probleme van die land – byvoorbeeld in die epiese gedig Joernaal van Jorik (1949). Ook in sy gewilde “Kersliedjie” waarin die Kersverhaal verplaas word van die Bybelse na ’n Kaapse omgewing is iets van hierdie bewustheid te sien. Hy het die neiging gehad om stof na die Suid-Afrikaanse milieu te verplaas. Klassieke en Middeleeuse Europese gedigte, mites, reisverslae en idees uit die Westerse wêreld word telkens deur Opperman verwerk tot baie konkrete beelde eie aan Afrika. Die mistieke belewenis (die Groot-Groot-Gees) na aanleiding van ’n Middeleeuse Nederlandse gedig word byvoorbeeld in “Kroniek van Kristien” in konkrete Afrikabeelde verwoord. In hierdie opsig verskil sy werk sterk van die Dertigerdigters wie se werk meestal nie so sterk deur die aardse deurdrenk is nie. Hy verwerk byvoorbeeld ook die geskiedenis van Shaka en gebruik telkens ook inheemse mites. Uit Negester oor Ninevé (1947) kom een van Opperman se bekendste gedigte, waaraan ek altyd herinner word wanneer ek uitkamp en in die donker met ’n flits loop. Die gedig laat blyk hoedat ons pogings om die wêreld te verstaan, om met behulp van ons rede die wêreld te begryp en met taal vas te vat, maar baie beperk is, “Man met flits”. In die klein wit kol van my wete stol bruin en skerp ’n klip soos ’n bok wat skrik, staan, vinnig weghol uit die klein wit kol. Aan ’n takkie hang twee ogies wat bang uit die klein wit skyn van my flits verdwyn. Oor waters wat glip soek ek klip na klip maar ’n duister land bedreig my alkant. Opperman se “Sproeireën” is onlangs in die 15de plek op die lys van die 100 gewildste Afrikaanse gedigte ingesluit en die sintuiglikheid van hierdie gedig is ook tipies van baie van Opperman se gedigte (en weer oor die vrou!): My nooi is in ’n nartjie, my ouma in kaneel, daar’s iemand … iemand in anys, daar’s ’n vrou in elke geur! In 1956 kry hy die Hertzogprys vir die versdrama Periandros van Korinthe en weer vir sy drama Voëlvry in 1968. Hy het baie hard aan sy gedigte gewerk en hulle telkens herskryf. Die gevolg is dat sy gedigte besonder goed afgewerk is. Ook sy bundels is dikwels as geheel deeglik bedink – veral sy laaste voltooide bundel waarvoor hy in 1980 met die Hertzogprys bekroon is, Komas uit ’n bamboesstok. Hy het hierdie bundel geskryf nadat hy (teen die verwagting in) van ’n ernstige siekte herstel het. Die bundel word aangebied as boekrolle waarin die reise van Brandaan en Marco Polo beskryf word. Hierdie reise word uiteindelik ook Opperman se eie reis terug uit die dood, maar ook die reis van die mensdom wat begin met die eerste diere wat uit die water kom om die land te bewoon, soos treffend beskryf in die gedig “Glaukus klim uit die water”: Hy skud die skubbe en die druppels af en lig hom teen ’n vin dié vaste wêreld in. En uit vier knoppe van die selekant knop voet na voet hand na hand kruip en waggel ek orent langs die eersterivier … Hierdie gedig eindig met die strofe: Klim in ’n groot wit bad, was af die slym, dep met ’n handdoek droog, trap versigtig vir die gly, vir die terugglip tot vis, tot jakopeweroog.