Ons boekeredakteur Willie Burger kyk vandeesweek weer na die kortverhaal
Ons boekeredakteur Willie Burger kyk vandeesweek weer na die kortverhaal
Die Argentynse skrywer Julio Cortázar skryf oor die kortverhaal: “A story is meaningful when it ruptures its own limits with an explosion of spiritual energy which suddenly illuminates something far beyond that small and sometimes sordid anecdote which is being told.” Aanvanklik, gedurende die 19de eeu, is die kortverhaal geassosieer met ’n baie spesifieke struktuur. Omdat kortverhale dikwels in tydskrifte gepubliseer is, het daar “resepte” ontstaan waarvolgens kortverhale geskryf moes word sodat dit in die spesifieke tydskrifte pas en in die smaak van die lesers val. Later is daar ook in sommige skryfskole ’n spesifieke struktuur van die kortverhaal aan studente oorgedra. Soms is hierdie soort beskrywings van die kortverhaal verwar met vereistes waaraan ’n kortverhaal moet voldoen en gevolglik het sommige kritici die gehalte van kortverhale beoordeel aan hoe goed hulle by die vasgestelde struktuur aansluit. Volgens hierdie resepmatige benadering bestaan ’n kortverhaal uit die volgende elemente (wat baie ooreenstem met die klassieke eienskappe van die drama): Die kortverhaal begin met ’n uiteensetting waarin die ruimte, die situasie en die hoofkarakters aan die leser bekendgestel word. Die uiteensetting word gevolg deur ’n verwikkeling waarin die probleem bekendgestel word wat tot spanning en konflik lei. Die hoofkarakter kom voor ’n krisis te staan, ’n deurslaggewende moment waarin die hoofkarakter ’n besluit moet neem. Die stygende spanning loop uit op ’n klimaks, die hoogtepunt van die spanning en die punt waarop die deurslaggewende handeling plaasvind. Hierna volg die ontknoping waarin die afloop kortliks beskryf word en die konflik beëindig word. Hierdie “fases” waaruit ’n kortverhaal sou bestaan, stem so nou ooreen met klassieke beskrywings van ’n drama juis omdat die kortverhaal dikwels fokus op ’n enkele dramatiese moment. Al tref ’n mens dalk hierdie verskillende fases in sommige kortverhale aan, sê dit nog nie veel oor daardie verhale nie, en veral moderne kortverhale volg meestal nie dié struktuur nie. In die eerste plek ontbreek ’n lang uiteensetting in die meeste moderne kortverhale trouens heeltemal. Dikwels begin verhale eerder in medias res – met ander woorde, die verhaal begin sommer in die middel van die aksie. Veral in korter kortverhale is daar weinig ruimte vir ’n uiteensetting. Verder weerspieël ’n begin so in die middel van die aksie iets van ons wêreld waarin die dinge wat met ons gebeur nie altyd sonder meer inpas by die manier waarop ons onsself of die wêreld verstaan nie. Tweedens is daar ook wat slotte betref dikwels nie sprake van ’n “ontknoping” waarin die gevolge van die spesifieke gebeurtenis saamgevat word nie. Talle kortverhale eindig juis met ’n “knal”, ’n skrikwekkende slot wat met ’n verrassende draai aan die einde die leser heeltemal onthuts. In hierdie verband is die verhale van O’Henry seker die klassieke voorbeeld terwyl Roald Dahl se Tales of the Unexpected hierin spesialiseer. In baie ouer Afrikaanse kortverhale is daar nie so ’n onthutsende slot nie, maar word die leser eerder in die afloop weer ’n soort troos of versekering gebied. Talle kortverhale eindig egter nie met ’n verrassende knal of met ’n rustige ontknoping nie, maar eerder op ’n ambivalente manier, sodat verskillende moontlikhede vir ’n verdere verloop gesuggereer word sonder om enige uitsluitsel oor enige van die moontlikhede te gee. Juis omdat kortverhale kort is, word die taalgebruik, die titel, al die verskillende verteltegnieke, die woordkeuse en paragraafindeling ingestel op één enkele effek. Een stemming of atmosfeer word geskep, ’n enkele verrassende gebeurtenis word verhaal. Selfs as die gebeurtenis baie alledaags is, die beskrywing van gewone, bekende handelinge, plekke of voorwerpe, verkry dit juis deur die manier waarop daaroor vertel word skielik ’n besondere betekenis. Die woord “skielik” in my vorige sin is miskien besonder gepas vir ’n bespreking van kortverhale. Dit sluit ook aan by Cortázar se gebruik van die woord “ontploffing” waardeur iets anders as die storie “skielik belig” word. Nadine Gordimer het eens geskryf dat die kortverhaalskrywer slegs in die lig van ’n kameraflits waarneem. Dit maak nie saak of iets baie gewoon en alledaags of iets besonder onthutsend en buitengewoons in die lig van hierdie flits waargeneem en beskryf word nie, die vertel daarvan lei meestal tot ’n skielike insig oor ’n aspek van ons bestaan, ’n “epifane oomblik”. Hierdie insig is natuurlik nooit sonder meer vas te vat in ’n enkele sin of twee as ’n “waarheid” wat deur hierdie kortverhaal geopenbaar word nie. Die skielike “insig” is altyd deel van ’n ervaring wat nie sonder meer op ’n ander manier as juis deur die spesifieke kortverhaal uitgedruk kan word nie. Vk