˜Vir wat doen jy dit? Jy weet ek hou nie van vreemde situasies nie!” ˜Soms gebeur die beste goed in vreemde situasies,” antwoord Santie filosofies
Deur GUILLAUME SMIT
‘Vir wat doen jy dit? Jy weet ek hou nie van vreemde situasies nie!’ ‘Soms gebeur die beste goed in vreemde situasies,’ antwoord Santie filosofies
Deur GUILLAUME SMIT
“Jy glimlag verniet so, vriendin!” ruk ʼn stem Santie Coetzee terug werklikheid toe.Sy kyk vas in die kwaai gesig van haar beste vriendin, Ansie Roodt. “Ek gaan my g’n in ʼn toe-oë-afspraak met ʼn ou man begewe nie.”
Oeps, sy het nie gedink Ansie gaan haar foonoproep met Wimpie de Lange afluister nie.
“Wimpie is nie ‘n ou man nie, Ansie. Julle verskil net sewe jaar.”
“En dan is hy nog nie eers geskei nie. Ek het waardes, jy weet!” Ansie vee vererg met haar hand deur haar donker hare om haar verontwaardiging te beklemtoon.
“Ek glo nog altyd daarin dat ‘n mens ‘n tweede kans in die lewe het. Jy weet mos dat sy vrou hom met kinders en al gelos en agter ʼn ander man aangeloop het.” Santie is onverstoorbaar. “Wimpie is die soort man wat jou waardes onderskryf.”
“Ja, die soort man wat nie iets slegs van sy vrou wil glo nie,” hap Ansie. “As hy dan so ‘n goeie man is, hoekom het sy hom gelos?”
“Dis ʼn goeie punt.” Santie ken haar vriendin en weet sy is nie regtig so hardvogtig nie. Haar vorige seerkry met Jan Brand is egter nog vars in albei se geheue, dus span sy al haar beste tegnieke as berader in om haar vriendin rustig te maak. “Inderdaad … hoekom het sy?” Sy bly ʼn oomblik stil vir dramatiese effek. “Want sy vrou het dalk ernstige probleme. Of sy is nie die soort mens wat te lank by een persoon kan bly nie. Wie sal weet? Al wat ek weet, is dat Wimpie my kom sien het omdat hy desperaat is om sy huwelik te red, want sy vrou het daardie oggend uit die huis getrek sonder dat hy geweet iets is fout.”
“Ja-ja, mevrou die sielkundige!” Ansie snork, darem al minder verontwaardig. “En nou probeer jy Cupido speel. Jammer, dit gaan nie werk nie. Kyk watse gemors het jou laaste poging veroorsaak.”
“Ek is jammer as Jan jou om die bos gelei het.” Santie voel sommer van vooraf sleg oor haar vriendin se seerkry-ervaring. “Hy het regtig na ʼn aangename man gelyk. So betroubaar en standvastig.”
“En toe ly hy aan bomskok van al die sekuriteitswerk in Irak!” Ansie weet sy oordryf, maar ‘n mens moet Santie aan ‘n kort halsriem vashou, anders gaan sy heeltemal op loop met haar planne.
“Wimpie moet eers vraestelle merk, en dan is dit vakansie. Teen die tyd dat julle mekaar ontmoet, is dit al maande later as vandag …” Santie hoop dít sal die knoop deurhak.
“Gmf.” Ansie glimlag egter: “Ek dink ek gaan ʼn ander afspraak hê wat bots met jou braai!” Albei lag en begin dan oor ander dinge praat.
“Wimpie! Wat ʼn verrassing! Ná al die maande!” Santie stap spontaan deur die restaurant na waar Wimpie alleen by ‘n tafel sit. Hy kyk vervaard op en glimlag bly toe hy haar herken.
“Sit sommer hier by my,” sê hy. “Dis net ek en die seuns en hulle is in die speelkamer.”
“Ek is nie alleen nie,” verduidelik Santie. Sy draai om en wink Ansie, wat nog in die deur staan en wag, nader.
“Hier is sitplek vir vyf,” glimlag Wimpie. “Laat ek net eers die koeldrank uit die seuns se skoene haal en dit wegsit.” Hy beduie verleë na die koeldrankblikkie-en-tekkie-torings wat die tafel vol staan.
Almal het pas orde geskep en sitplek gekry toe ‘n blondekop-orkaantjie van agter af op Wimpie spring en skree: “Pappa! Jy moet kom kyk!”
“Wat moet ek kom kyk, seun?” vra Wimpie geduldig. “Ek gesels eers gou met die tannies.”
“Pappa moet kom kyk hoe Bernard bollemakiesie slaan op die trampolien!”
Wimpie kyk hulpeloos na sy gaste.
“Gaan gerus,” glimlag Santie.
Skaars is Wimpie weg of Ansie draai na Santie toe. “Vir wat doen jy dit? Jy weet ek hou nie van vreemde situasies nie!”
“Soms gebeur die beste goed in vreemde situasies,” antwoord Santie filosofies. “Dink jy nie hy is aantreklik nie? ‘n Mens kan sien hy gaan gimnasium toe.”
“Ek stel nie belang nie!” Ansie is op die oorlogspad. “Kyk hoe wild is sy kind! G’n maniere nie!” Sy wou nog iets sê, toe sluit Wimpie weer by hulle aan.
“Verskoon my seuns,” sê hy sag, “maar hulle is ‘n bietjie ontwrig vandag.”
“Bietjie!” grom Ansie onderlangs. Gelukkig hoor net Santie dit en pomp haar vinnig in die ribbes.
“Dis jammer, wat het gebeur?” vra sy.
“Nie veel nie,” skerm Wimpie. “Dis maar net huishoudelike goed. Hul ma …” hy laat die sin in die lug hang.
“Toemaar wat, ons begryp,” paai Santie. “Kan ons vir jou koffie koop?”
Die res van die kuier gaan sukkel-sukkel. Kort-kort is een van die seuns bo-oor hul pa en moet hy na hul manewales in die speelkamer gaan kyk. Santie probeer moedig die gesprek vlot hou, maar Ansie sit toemond en koffie drink terwyl Wimpie heeltyd die seuns se gedrag probeer verduidelik. Hoe vertel ‘n mens in elk geval vir vreemdelinge dat hulle pas gehoor het hul ma trek saam met haar nuwe man na Alaska om ysbere te gaan merk?
Toe Wimpie ná ‘n uur met ‘n seun aan elke hand wegstap, sê Ansie kwaai vir ]Santie: “Jy doen dit nooit weer aan my nie!”
“Ek het vir Koos gesê dit gaan nie maklik wees nie,” antwoord sy teatraal.
“Koos het geweet jy moenie jou neus in my sake steek nie!” Ansie sluk haar laaste koffie af. “Die arme man gaan nooit weet wat hom getref het nie!”
“Wie?” vra Santie onskuldig, “Koos of Wimpie?”
“Jy weet wat ek bedoel!” raas Ansie, “Ná tien jaar se getroude lewe weet Koos presies hoe jy is. Ek meen Wimpie. Moenie vir die arme man probeer vrou soek nie. Hy kan dit self doen!”
“Kan hy?” vra Santie filosofies en gryp haar handsak. “Ons is laat vir die fliek!”
ʼn Week later stap Wimpie en die tweeling weer by die restaurant in. Hulle het na die jongste kinderfliek gaan kyk.
Wimpie het skaars die seuns se tekkietoring van die tafel afgehaal toe hy hulle agter hom hoor praat. Hy kyk om.
“Hallo, tannie! Hoe sit tannie so alleen?” vra Bernard.
Ansie sit met haar rug na Wimpie toe by die tafel agter hulle. Wimpie hoor nie wat sy sê nie, maar uit Cornel se reaksie lei hy af sy is alleen.
“Kom sit by ons, daar is baie plek by ons tafel,” sê Bernard.
Ná ʼn oomblik se gekibbel met twee vyfjarige seuns wat nie nee vir ʼn antwoord aanvaar nie, hoor Wimpie hoe sy bes gee en verskonend by hom aansluit. En daar is die seuns weg speelkamer toe.
“Ai!” probeer Wimpie die ongemaklikheid wegpraat, “hulle is nie gewoonlik so vrypostig nie.”
Maar Ansie glimlag. “Toemaar wat, hulle is eintlik oulik.”
Binne vyf minute vlot die gesprek. Eers gesels hulle oor die seuns. Toe oor sy werk. Ná hamburgers praat hulle oor haar werk. In ‘n stadium kom die seuns sit, moeg gespeel. Bernard maak homself onder sy pa se arm tuis, en vinnig-vinnig is hy aan die slaap.
Cornel skuif tussen Ansie en Wimpie in en gaan lê teen Wimpie. Die volgende oomblik laat rus hy sy kop teen Ansie se skouer en maak sy oë toe. Sy kom dit nie eers agter nie en druk hom stywer teen haar vas terwyl sy vertel van haar jongste navorsingsprojek. Vinnig-vinnig is drie uur verby.
“Gits! Kyk waar is die tyd heen!” Ansie kyk vat-vat om Cornel se slaaplyf na haar handsak. “Kan ek jou help om die seuns kar toe te dra?”
“Ag, baie dankie!” glimlag Wimpie dankbaar. “Ek sal weer vir jou koffie koop net daarvoor!” Ansie bloos bloedrooi. Sy sien nou eers raak hoe die spiere oor sy bo-arms rimpel.
“Ons kan so ‘n plan maak, ja!” antwoord sy spontaan en wriemel ‘n seunslyf in haar arms in. Hulle stap gesels-gesels na Wimpie se motor toe.
“Jy weet, ek het nog nooit voorheen so lekker saam met ‘n onbekende persoon gekuier nie. Ek hou glad nie van vreemde situasies nie,” sê sy toe hy die deur van sy motor toedruk nadat Cornel in sy karstoel gesit is.
“Ek ook nie,” erken Wimpie.
“’n Goeie vriendin het eenkeer gesê die beste goed gebeur soms in vreemde situasies.”
Ansie is bly dis donker in die parkeerterrein sodat Wimpie nie sien hoe haar oë traan nie.
“M’m,” glimlag Wimpie se stem in die donkerte. “Dit klink soos iets wat Santie sal sê. Ek dink sy is reg. Sy het ook gesê daar is altyd ʼn tweede kans vir alle mense. Ek hoop jy sien kans om my en my wilde kinders ‘n kans te gee vir vriendskap?”
“O, ek dink ek sal,” glimlag Ansie terug, en voel die warm blos op haar wange versprei. “Ek dink ek sal!”