Willie Burger kyk dié week na twee boeke, een wat oor deernis handel, en die ander oor misdaad
Willie Burger kyk dié week na twee boeke, een wat oor deernis handel, en die ander oor misdaad
Oskar en die pienk tannie, Eric-Emmanuel Schmitt, Human & Rousseau Oskar en die pienk tannie is die verhaal van die tienjarige Oskar wat aan bloedkanker ly. Hy besef dat die beenmurgoperasie op hom nie ’n sukses was nie en hy hoor hoedat die dokter vir sy ouers sê dat hulle niks meer vir hom kan doen nie. In hierdie omstandighede is daar slegs een mens wat hom kan troos – ouma Rosa. Ouma Rosa is een van die “pienk tannies”; vroue in pienk oorjasse wat die kinders in die hospitaal twee keer per week besoek. Ouma Rosa was op haar dag ’n stoeier van formaat – sy sê dat sy 160 van haar 165 gevegte gewen het. Sy is ook die enigste mens wat heeltemal eerlik met Oskar is. Sy kry spesiale toestemming om hom 12 dae lank elke dag te kom besoek – in plaas van die gewone twee maal per week wat “pienk tannies” pasiënte gewoonlik besoek. Hy lei hieruit af dat hy net 12 dae het om te lewe. Sy moedig vir Oskar aan om elke dag as tien jaar van sy lewe te sien, en om dus so veel as moontlik daarin te ervaar. Sy oorreed hom ook om elke dag ’n brief aan God te skryf. As hy teenkap dat God maar, net soos Kersvader, nie regtig bestaan nie, is haar antwoord dat Oskar Hom kan láát bestaan: “Elke keer wat jy in Hom glo, sal Hy bietjie meer bestaan. As jy aanhou, sal Hy naderhand heeltemal bestaan. En dan sal Hy iets vir jou kan doen.” Die briewe vorm Oskar se outobiografie, maar dit word meer as ’n storie oor ’n lewe vol gebeurtenisse, dit word ook ’n nadenke oor die sin van die lewe in die lig van die onvermydelike dood waarop ons almal afstuur. Die briefformaat en die insigte in die lewe wat Oskar verwerf, herinner ’n mens nogal aan Fynn se Mister God, This is Anna – ’n boekie wat ook met die eenvoud en eerlike, eenvoudige, reguit logika van ’n kind, talle mense geraak het. Die verhoogweergawe van Oskar en die pienk tannie, met Sandra Prinsloo, het reeds pryse op verskeie kunstefeeste ontvang.
Vuilspel, Bettina Wyngaard, Umuzi Daar gaan byna nie ’n maand verby waarin daar nie minstens een misdaadroman op hierdie boekeblad bespreek word nie. Dit bly nou maar een maal vir lesers boeiend om saam te wonder wie vir ’n misdaad verantwoordelik was en om die speurder te volg in al die pogings om die raaisel op te los. Maar soos ook al dikwels in hierdie rubriek geskryf is, is hierdie soort romans dikwels veel meer as blote spanningsverhale wat lesers se naels kort hou. Misdaadromans in ons land is ook dikwels die genre waarin die samelewing ondersoek word. Bettina Wyngaard se roman is presies só ’n roman. Spanning en raaisels is hier genoeg. Soos ’n goeie speurroman betaam, begin dit sommer met die raaisel van ’n vrou se lyk wat in die veld buite ’n township gevind word. Maar die gemeenskap is te bang om met inligting vorendag te kom. Die speurder, kaptein Nicci Wee, besef dat dit ’n opdraande stryd gaan wees om die misdadigers aan die pen te laat ry. Maar sy word ook persoonlik deur die misdaad geraak. Soos dit ’n goeie speurroman betaam, word die geheim geleidelik ontrafel, maar daar is ook meer geheime – soos Nicci se eie geheim. Die geheim van enige spanningsverhaal is dat die leser vir die karakters moet omgee. Anders laat al die gebeure ’n mens koud en gee jy nie regtig om of die moordenaars gevang word of nie. Wyngaard kry dit reg om sulke karakters te skep vir wie ’n mens gaandeweg al meer omgee. Vuilspel bied nie slegs spanning nie. Soos baie ander misdaadrillers is dit ook ’n ondersoek van belangrike maatskaplike probleme in ons samelewing – korrektiewe verkragting en regstellende aksie word op vernuftige wyse belig. Die roman gee ’n boeiende beeld van die situasie van lesbiese vroue in ’n onverdraagsame gemeenskap.