Willie Burger kyk die week na die werk van die Hertzogpryswenner Toon van den Heever
Willie Burger kyk dié week na die werk van die Hertzogpryswenner Toon van den Heever
Een van die voordele wat die lees van gedigte inhou, is dat daar soms sekere reëls in ’n mens se geheue bly vassteek. Dit is daardie versreëls wat jy nooit eens probeer memoriseer het nie, hulle bly sommer ná een lees in jou kop en roep die helderste beelde by jou op. Die wenner van die Hertzogprys vir poësie in 1951 was Toon van den Heever. Sy bekende gedig “In die Hoëveld”, is een van daardie gedigte waaruit die klinkende versreëls sommer ná een lees ’n mens vir altyd bybly: In die Hoëveld, waar dit oop is en hemel wyd daarbo, waar kuddes waaigras huppel oor die veld, Waar ’n mens nog vry kan asemhaal en aan ’n God kan glo, Staan my huisie, wat ek moes verlaat vir geld.
Die gras wat beskryf word as diere wat in groot kuddes oor die veld huppel, onder ’n oop en wye hemel, was vir my as kind een van die treffendste beskrywings van die Oos-Transvaalse hoëveld waar ek dikwels gaan vakansie hou het. Van den Heever het baie min werk gepubliseer. In 1919 het hy met Gedigte gedebuteer. Hierdie bundel is verwerk en later heruitgegee as Eugene en ander gedigte (1931). Daarna het net nog een digbundel van hom verskyn, Die speelman van Dorestad (1949). Sy beste gedigte kom egter uit die eerste bundel. Die gedigte uit 1919 het ’n soort filosofiese inslag wat later belangrik in die werk van die dertigerdigters soos Van Wyk Louw geword het. Hy is dikwels in opstand teen die aanvaarde opvattings oor die Afrikanervolk, oor godsdiens en oor die menslike bestaan. In sy “Die beeld van oom Paul” is daar weinig tekens van hoop vir die Afrikanervolk.
Meer as sy pessimisme oor die Afrikanervolk, het sy idees oor godsdiens en sy twyfel oor die sin van menslike bestaan sommige van die destydse kritici ontstel en hy is van “volksvreemdheid” beskuldig wanneer hy byvoorbeeld die mens in “Die lof van verganklikheid” as “’n hanswors vir die gode” beskryf: Die heelal waai soos ’n wasem deur die tregter van ’n God En die newels in die engte word wat ons “die hede” noem, Waar die mens sy klein toneeltjie speel en op sy rede roem Alvermoënd soos ’n suigeling, alwetend soos ’n sot, ’n Hanswors vir die Gode, ’n selftevrede sot.
In die slotstrofe word die enigste verweer teen hierdie sinlose verganklikheid in kortstondige sinlike liefde gevind: Maar daar het ek vir jou gevind. Sal ek my lot betreur, Beween wat nie kan wees nie of sanik sonder sin? As die dag nie sterflik was nie kon hy westergloor nie win, As die dood nie erflik was nie het ons nooit mekaar bemin: En, as rantsoen vir jou liefde sou’k die god’likheid verbeur, Vir die wellus van jou lippe bly die ewigheid verbeur.
In “Wis uit!” spreek hy eweneens die idee uit dat die lewe slegs tydelik geniet kan word omdat alles tot stof gedoem is en hy beskuldig God van gevoelloosheid omdat hy onbewoë toesien dat die mens voortdurend aan sy kortstondige bestaan herinner word.
Merkwaardig is Van den Heever se kortverhale wat in 1948 verskyn in die bundel, Gerwe uit die erfpag van skoppensboer. In die verhaal “Werkstaking by die kleigat” is daar ’n besondere bewustheid van die rasseproblematiek in die land. Dat die wit kind kan droom om ’n generaal te word, maar sy swart speelmaat nie toegelaat word om dieselfde te droom nie – hy durf hoogstens daarvan droom om die generaal se agterryer te word – wys binne die vorm van ’n oënskynlik rustige, byna nostalgiese vertelstyl op die onreg in ons land en voorspel die onrus wat dit tot gevolg gaan hê. Die verhaal verskyn in 1948; die jaar waarin die Nasionale Party aan die bewind gekom en begin het om al meer wette te maak wat op die volskaalse apartheidsbeleid sou uitloop.