Willie Burger kyk hierdie week na twee lekkerleesboeke
Willie Burger kyk hierdie week na twee lekkerleesboeke
Populêre fiksie, gewilde literatuur, lekkerleesboeke … noem dit wat jy wil, word meestal met ontspanning geassosieer. Ons lees hierdie boeke om ten minste tydelik so ’n bietjie uit ons eie wêreld te ontsnap en om in ’n ander wêreld gedompel te word waarin daar opwindende dinge gebeur – waar nuwe liefdes ontdek word, waar hartstog en avontuur ervaar kan word. Op ’n veilige manier kan jy iets van die opwinding van verbode liefde smaak of jou haat uitleef deur ’n skurk vir sy boosheid te laat boet, in benoudheid vir bedreigings vlug en tóg wegkom. Alles eindig gewoonlik met ’n mooi, heel en herstelde wêreld.
Maanschijnbaai: Jo & Sue en Maanschijnbaai: Nan & Jeannie deur Chanette Paul, Lapa Chanette Paul het haarself al bewys as een van die topvertellers van hierdie soort verhale met haar reeks oor die Davel-vroue en die Gys Niemand-reeks. Met die Maanschijnbaai-tweeluik doen sy dit weer.
Wanneer die vier Calitz-vroue ’n pienk Cadillac en ’n reusagtige strandhuis op Maanschijnbaai erf, verander alles op die rustige stranddorpie. Casper Calitz se dogters, Nan en Sue, is immers nie sommer vaal, vervelige vroutjies nie. Ook Nan se dogter, Jo, en haar kleindogter Jeannie, is opregte Calitze – of soos die skinderbekke van Maanschijnbaai na hulle verwys – die “Calitz-slette”. In die eerste van die twee dik boeke (elkeen van die boeke bied ’n hele 560 bladsye volgepak met verrassende wendings) val die klem, soos die titels aandui, meer op Jo en haar tante Sue terwyl Nan en Jeannie sentraal staan in die tweede. Sue stuit vir geen duiwel nie en kan enige man vinnig met haar ruie woordeskat of haar knie op sy plek sit. Sy en Jo onderneem die restourasiewerk aan die ou kasarm op Maanschijnbaai ten spyte van teenstand. Maar die Calitz-familie het ook nog ’n ander vertakking en jaloesie bring ’n verdere kinkel in die kabel. Smokkelary, ’n vreemde godsdienstige sekte wat vir Jeannie op sleeptou neem, die bonatuurlike, bedrog, brandstigting en poging tot moord, maak alles deel uit van die ingewikkelde lewens van die Calitz-vroue. Maar natuurlik gaan dit ook oor die liefde: Daardie liefde tussen man en vrou wat voel asof hulle mekaar eeue tevore in ’n ander lewe geken het. En die liefdesband tussen familielede in wie se are dieselfde bloed bruis.
Chanette vervleg die formules van romanse, avontuur en misterie tot ’n soort melodrama wat die leser meesleur en gee selfs kommentaar op die manier waarop stranddorpe hul karakter verloor wanneer dit ontwikkel. Maar veral opvallend is die manier waarop ook aan leserverwagtings van hierdie soort tekste getorring en dit verruim word: Hierdie vroue is nie onskuldige slagoffers wat wag om deur die groot liefde meegesleur te word nie – onskuld ken hulle nie op seksuele gebied, leefwyse of in hul taalgebruik nie. Die Calitze is sexy en hulle gebruik hul seksualiteit. Hulle het baie ervaring en erken dit. Hulle laat hulle nie deur die verwagtings van ander bind nie. Die Maanschijnbaai-tweeluik weerspieël ook hoe ons samelewingsnorme verskuif het: die deugdelikheid van kleindorpse en kleinburgerlike waardes word ondermyn en verruim – hoewel dit steeds binne die veilige grense van ware liefde bly.