Willie Burger kyk hierdie week na die enkeling in die groter geskiedenis
Willie Burger kyk hierdie week na die enkeling in die groter geskiedenis
Die idee dat enkelinge ’n belangrike invloed op die verloop van die geskiedenis kan hê, word dikwels bevraagteken. Daar is altyd so baie faktore – ekonomiese of sosiale of kulturele strukture wat mense se optrede bepaal, dat die enkelinge dikwels beskou word as mense wat maar bloot in hul tyd op ’n sekere manier móés optree – dat hulle nie regtig anders kon nie.
In twee onlangse boeke word hierdie beskouing uitgedaag. Die bekende historikus, Hermann Giliomee (skrywer van onder meer Die Afrikaners: ’n biografie) beklemtoon in sy jongste boek, Die laaste Afrikanerleiers, juis hoedat enkelinge wel ’n groot invloed op die verloop van sake kan hê. Die vyf Afrikanerleiers oor wie die boek handel, is Hendrik Verwoerd, John Vorster, PW Botha, FW de Klerk en Van Zyl Slabbert. Giliomee skryf meesleurend, soos in al sy werk. Hy toon aan hoedat die Nasionale Party eintlik van meet af aan, reeds in die jare veertig, met die idee en die praktyk van apartheid geworstel het. Talle wette is gemaak om op klein skaal dringende “probleme” (byvoorbeeld oor armblankes, verstedeliking, groepsgebiede, rasvermenging, kieserslyste) die hoof te bied, sonder om hierdie besluite in ’n groter ideologie te grond. Reeds van die begin af was daar ’n besef by baie dat dit nie ’n volhoubare rigting vir die land bied nie. Eers met Verwoerd word ’n sterk visie gevorm. Giliomee wys hoedat Verwoerd se persoonlikheid ’n groot rol gespeel het: Hy haal een kommentator aan wat geskryf het dat ons almal soms dink dat ons reg is, maar dat Verwoerd weet dat hy reg is. Verwoerd het ook sy menings van tyd tot tyd verander en dikwels individualistiese besluite geneem.
Vorster het veel minder ideologiese visie gehad terwyl PW Botha in sekere opsigte die onvermydelike veranderings aan apartheid begin deurvoer het, maar tog uiteindelik nie bereid was om van mag afstand te doen nie. De Klerk is die een leier wat sonder veel keuses gelaat is. Deur Slabbert te betrek – wat nooit president of eerste minister was nie, dui Giliomee ook aan dat alle Afrikanerleiers nie slegs op mag en selfbehoud gefokus was nie.
Willie Esterhuyse se boek Einds tryd oor die onderhandelings tussen Afrikaners en die ANC gedurende die jare tagtig – wat die weg berei het vir veranderings binne die NP en later gelei het tot die vreedsame onderhandelings en die skikking wat tot die nuwe SA gelei het, is veel meer anekdoties. Sy eie rol in die geheime gesprekke staan sentraal. Ook Esterhuyse lê klem op die rol van individue. Volgens hom is dit veral deur individue uit vyandelike kampe wat mekaar op ’n persoonlike vlak vind en begin vertrou wat die geskiedenis verlê word, nie deur beleidsdokumente nie.
Albei boeke word deur Tafelberg uitgegee en is ’n moet vir mense met ’n belangstelling in die Afrikanergeskiedenis. Die verlede word ondersoek, maar oor die implikasies daarvan vir die hede of toekoms word nie juis nagedink nie. Die twee boeke (veral Giliomee) bied boeiende insigte oor leierskap.