Breyten Breytenbach se werk sleur ‘n mens mee, dikwels bloot deur die klank daarvan of deur die spel met woorde
Breyten Breytenbach se werk sleur ’n mens mee, dikwels bloot deur die klank daarvan of deur die spel met woorde
Reeds in die eerste aflewering van hierdie reeks oor Hertzogpryswenners is opgemerk dat die toekenning van enige literêre prys, en juis ook die Hertzogprys, dikwels met omstredenheid gepaardgaan. Telkens word debatte gevoer oor die kriteria of die motiverings van die Letterkundekommissie. Hoewel die meeste skrywers, digters of dramaturge maar te dankbaar is vir die erkenning wat hul werk ontvang wanneer dit met ’n prys beloon word, was daar ook al gevalle waar omstredenheid juis veroorsaak is deur ’n pryswenner wat geweier het om die toekenning te ontvang. In 1984 is die Hertzogprys uiteindelik aan Breyten Breytenbach toegeken.
Volgens talle mense moes dit al veel vroeër gebeur het. Veral toe die Hertzogprys vir poësie in 1971 postuum aan Boerneef toegeken is, het baie kritici gemeen dat die prys eerder aan Breytenbach moes gegaan het. Reeds met die publikasie van sy debuutbundel, Die ysterkoei moet sweet (1964) was dit duidelik dat Breytenbach se poësie die gang van die Afrikaanse digkuns sou verlê. Teen 1984 was Breytenbach pas uit die tronk. Die bundel wat bekroon is (‘yk’), was die vierde van ’n reeks “tronkbundels” wat ook “die ongedanste dans” genoem word.
Dit het egter eers, saam met die derde bundel van die ongedanste dans, Eklips, in 1983 verskyn. Buffalo Bill, die tweede bundel van die “ongedanste dans”, het eers in 1984 verskyn terwyl die eerste van hierdie reeks tronkbundels, Lewendood, eers in 1985 verskyn het. Hierdie bundels bevat gedigte wat Breytenbach tydens sy sewe jaar tronkstraf geskryf het en word saam die “ongedanste dans” genoem juis omdat die lees van poësie vir Breytenbach soos ’n dans met die leser is. Die tronkgedigte mog nie tydens sy tronkstraf gepubliseer word nie en kon dus nie lesers vind nie. Geen dans kon plaasvind nie. Breytenbach het geweier om die prys te ontvang en het as rede daarvoor aangevoer dat die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir hom nog die “bolwerk van die Afrikaner-establishment” is en dat hy, as hy die prys sou aanvaar, daardeur erkenning sou gee aan ’n organisasie wat die uitsluitende beskouings van die Afrikaner beskerm en dat hy sodoende eintlik die apartheidstelsel sou steun. Ten spyte hiervan is die Hertzogprys daarna nog twee keer aan Breytenbach toegeken. Hy aanvaar in 1999 die toekenning vir Papierblom en Oorblyfsels: ’n roudig omdat hy meen dat die omstandighede verander het. Hy neem ook in 2008 die Hertzogprys vir Die windvanger in ontvangs.
Sedertdien het hy egter die mening gelug dat niemand eintlik meer as een keer met die Hertzogprys bekroon behoort te word nie en hy het ook al versoek dat sy werk nie meer vir pryse oorweeg moet word nie.
Breytenbach se werk sleur ’n mens mee, dikwels bloot deur die klank daarvan, deur die spel met woorde, of die emosies wat gewek word deur die mees onvoorspelbare beelde en vreemdste metafore. Sy poësie nooi jou om oor te gee aan die dans, eerder as om te interpreteer. In Die beginsel van stof definieer Breytenbach ’n gedig soos volg: (gedig is om met herhaalde vlegbewegings van stokkieswoorde tereg te kom in die voëlnes