AG Visser het die Hertzogprys vir poësie twee keer gekry, in 1926 en 1928
AG Visser het die Hertzogprys vir poësie twee keer gekry, in 1926 en 1928
Toe ek so paar weke gelede ’n besonder oorgewig persoon met ’n diep sug in ’n stoel sien neersak, sê iemand saggies langs my: “Sy wou nog sit, toe sit sy al.” Net ’n paar dae later, toe ’n tweede atletiekbyeenkoms afgestel moes word omdat die laerskool se velde te nat en modderig is, skiet ’n vraag uit die grys lug my te binne: “Was die boere toe tevrede?”
Albei hierdie aanhalings kom natuurlik uit gedigte van AG Visser. Die eerste kom uit sy gedig “Vet” (met die speelse subtitel: ’n Swaar voorwerp as ligte onderwerp). As ou tant Siena straat-op loop Om antipon of spek te koop, Sê dié wat pad maak: Dank die Heer! En sit hul sware stampers neer. Verlede Sondag in die kerk Merk ek nog weer die wonderwerk, Die eienaardigste geval: Sy wou gaan sit, toe sit sy al! Kom stipte meester Van der Dool ’n Paar minute laat op skool, Dan sê die kinders: Weet jy wat? Tant Sien was seker in sy pad! ’n Wewenaar wou met haar trou; Die landdros sê: Nee, bog met jou! Dink jy miskien dis hier Turkei? Ons wet verbied veelwywery! Wil jy as Volksraadslid gaan staan, Roep haar byeen en spreek haar aan – Maar jy alleen met haar gaan trou …….! Jy laat my lag – wat pla vir jou? Een Psalm van Dawid maak haar boos: Dit stempel “vet” as “goddeloos”: “Indien men op hun voorspoed let, Hun oogen puilen uit van vet!” Suid-Afrika! So moes Van Wouw, Presies soos sy, jou beeltnis hou: Swaar die Verlede agter, hoor, Maar groter nog die Toekoms voor! Haar einde was besonder sag, Al was dit ook ’n sware slag, Haar val was sonder blaam of smet,
Die oorsaak van die dood: Net Vet! Visser word veral vir sulke grappige verse onthou, seker omdat hulle so maklik in ’n mens se geheue vassteek. “Was die boere toe tevrede?” is die vraag wat ’n seun in die katkisasieklas stel nadat die onderwyser vir die kinders vertel het dat dit tydens die sondvloed vir 40 dae en 40 nagte lank gereën het. Hoewel Visser vandag dikwels juis vir hierdie grappige verse onthou word, was hy aanvanklik eintlik as liefdesdigter bekend. En ook uit sy liefdesgedigte word dikwels aangehaal: “Maar eenmaal in die lewe kom / die liefde weergaloos.” In sý weergawe van “La belle dame sans merci” word die hardvogtige vrou só beskryf:
Ek het die roos met vuur sien gloei In tuine van verlange Maar teerder blos het ek sien bloei, Madonna, op jou wange. Koud is die Winterberg se top, Met nooit ’n lentebloesem, Maar kouer nog die hart wat klop, Madonna, in jou boesem! Visser het die Hertzogprys vir poësie twee keer gekry: in 1926 en 1928 (gedeel met CM van den Heever). André P Brink gee ’n aanduiding van Visser se invloed op latere digters in die inleiding tot die Groot verseboek: “Kan ons vandag die liefdespoësie van Van Wyk Louw, Blum, Jonker, Breytenbach en dies meer na waarde skat sonder om Visser daarby te pas te bring?”