Een van die belangrikste romans wat in 2011 verskyn het, was Dan Sleigh se Wals met Matilda
Die roman Wals met Matilda (Tafelberg) was die wenner van die Groot Roman-kompetisie en is ook met die UJ- en die WA Hofmeyr-prys bekroon. Dan is veral bekend vir sy historiese romans, Eilande en Afstande. Wals met Matilda is verrassend anders as sy vorige romans. Twee verhaallyne vervleg.
Aan die een kant gaan die roman oor ’n romanskrywer, Koos van der Merwe, wat sukkel om weer aan die skryf te kom ná die dood van eers sy dogter en kleindogter in ’n motorongeluk en toe van sy vrou. Aan die ander kant word die verhaal van Japie vertel, ’n boerseun uit die Oos-Kaap wat aan die einde van die 19de eeu na Australië gestuur word om oor skaapboerdery te gaan leer. Volgens laasgenoemde verhaal, wat eintlik Koos se roman is, was Japie uiteindelik in Australië vir die bekende liedjie Waltzing Mathilda verantwoordelik.
In Wals met Matilda is Dan in verset teen alle clichés. ’n Mens kan ’n cliché egter alleen herken as jy van die geskiedenis kennis dra, as jy die taal in al die vorms waarin dit reeds gebruik is, ken. Met spot, met humor en ’n verrassende ligtheid vir so ’n swaarwigtige tema, word die verlies aan gevoeligheid vir die cliché blootgelê.
Verlies aan gevoeligheid vir die cliché maak die verbeelding dood. En verbeelding – die vermoë om alternatiewe te bedink, om jou in ander se posisies te kan indink – is ’n noodsaaklike laaste verweer, die laaste anker van hoop vir die mens wat nie verswelg binne ’n gelykmatige, eensydige wêreld wil leef nie.
In Wals met Matilda word wanhoop oor die toekoms van taal, van die boek, van met moeite verworwe kennis, op verskeie maniere uitgespreek. In hierdie opsig is dit ook ’n hartseer boek, ’n elegie, ’n boek oor verlies van geliefdes, van die historiese en natuurlike omgewing en van hoop.
Wals met Matilda is, soos Eilande en Afstande, ’n verkenning van die menslike bestaan as ’n lewe in te klein bootjies op ’n oorweldigende oseaan. Dit is ook ’n roman oor die kreatiwiteit. Kunstenaars word toenemend uitgelewer aan die druk van uitgewers, van marknavorsers, van die hele korporatiewe bestel waarbinne hulle veronderstel is om net ’n ratjie te wees, soos lynwerkers in ’n fabriek.
Die kreatiewe proses, die rol van die verbeelding en die vryheid om onafhanklik te dink, word bedreig wanneer almal taal op dieselfde manier gebruik. Daarom is taal so belangrik in hierdie boek. Wanneer taal nie meer lewenskragtig en baldadig en morsend en speels aangewend kan word nie, word die verbeelding aan bande gelê, word clichés aaneengeryg. Dan word alle denke clichématig en uiteindelik word ons bestaan ’n cliché. Wals met Matilda is ’n pleidooi aan die leser om nie in die cliché te verval nie, en die roete uit ’n clichématige bestaan word ook aangedui: Ons hoop is op kreatiewe taal, taal wat stroomop en dwars soos ’n vreemde matafoor ander moontlike maniere van bestaan bedink.