Ons boekeredakteur Willie Burger kyk dié week na Ingrid Winterbach se jongste boek Die aanspraak van lewende wesens
Werklike groot romans laat hulle nie maklik tipeer of opsom nie. Ingrid Winterbach se Die aanspraak van lewende wesens, is só ’n roman.
Dis nie dat daar geen verhaal is om op te som nie, daar is trouens sommer twee verhaallyne, en ’n mens word dermate deur die lot van die karakters daarin geboei, dat jy nie anders kan as om haastig na die einde voort te lees nie.
Maar jy kan nie hierdie verhale gou oorvertel en verduidelik waarom dit gaan nie. En nie een van die twee verhale bied die troos van ’n storie waarin elke gebeurtenis ’n vaste plek en betekenis kry nie. In die een verhaallyn vertrek Karl Hofmeyr uit Durban na Kaapstad om sy broer te gaan help. Hy kry bloot geheimsinnige oproepe dat sy broer besig is om moles te maak op die “plaas” teen Tafelberg waar hy woon. Die plaaseienaar sien nie langer kans vir Iggy nie en Karl moet hom kom haal. Karl is ’n kenner van Heavy Metal-musiek. Hy was sy hande obsessief en tel sy treë. As sy treë tot by ’n bepaalde deur byvoorbeeld op ’n ongelukkige getal te staan kom, kan hy nie ingaan nie. ’n Pakkie, hoe belangrik dit ook al vir hom is, kan hy nie ontvang as iemand met vetterige hande dit aan hom wil oorhandig nie. Gevolglik neem sy reis na die Kaap lank en word telkens op onvoorspelbare maniere onderbreek.
Onbewus van Karl se bestaan, vertrek Maria Volschenk op byna dieselfde tydstip ook uit Durban na Stellenbosch, ná ’n noodoproep van haar seun. Sy sukkel om met haar seun te kommunikeer, want hy praat “frustrerend onbeholpe”: “Hy’t actually soos in hierdie besigheid, hierdie kind of venture wat jy ’n besigheid kan noem, maar dis ook nie actually eintlik dit nie, ennieway hy en twee ander ouens het dit soos in eintlik ge-initiate, hy sal haar soontoe neem, die premises is shit great, dis actually shit hot en die prospects is soos van yslik, as hulle net, as dit actually net, as dit nie was, dis soort van vast, die possibilities is endless, dis net soort van hierdie initial stumbling blocks, soos in obstacles, net erger.”
Maria sukkel om die dood van haar suster, Sofie, te verwerk en bring onder meer besoek aan haar suster se man en aan die begraafplaas waar twee hawelose mense in een van die snaaksste tonele wat ek nog gelees het, haar palm lees. Soos in Ingrid se vorige romans, staan gesinsbande dus sentraal. Die gesinne is verbrokkel, kommunikasie is versteur en begrip vir gesinslede se optrede ontbreek. Familielede, lewend en dood, maak aansprake op ’n mens. Die karakters is sonder vaste verwysingspunte in die lewe (en sterwe) aan hul eie kompulsies en aan toeval oorgegee. Familielede, ander mense, ander lewende wesens, maak talle aansprake op ’n mens, maar begrip daarvoor bly uit en gevolglik laat die boek ’n mens met eindelose weemoedigheid. Terselfdertyd is ander mense, ander reisgenote in die lewe, ook vir ’n mens ’n aanspraak – in die betekenis van “aanspraak” as geselskap: kommunikasie waarsonder daar slegs skrikwekkende stilte is.
Onderweg word Karl gewond (ook in ’n begraafplaas as hy foutiewelik as dwelmsmous aangesien word – soos Gert Garies in Magersfontein). Die grense tussen positief en negatief, normaal en abnormaal, verstaanbaar en onverstaanbaar, bewus en onbewus, sinvol en sinledig word deurgaans vertroebel. Uiteindelik kom die twee verhaallyne in Kaapstad op ’n vreemde plaas bymekaar. Maar daar is geen ontknopings en singewende insigte nie. Alle bestaan, alle “samesyn staan in die teken van uitwissing en eindigheid”. Die mens leef in ’n “leegte”. Aan hierdie leegte waarin die mens in ons tyd sigself bevind, gee Ingrid op meesterlike wyse uitdrukking.