Ons boekeredakteur Willie Burger kyk hierdie week na Die wonderwerker
Ons boekeredakteur Willie Burger kyk hierdie week na Die wonderwerker
Die onlangse uitreiking van die rolprent Die wonderwerker, het opnuut belangstelling in die lewe en werk van Eugène Marais laat opvlam.
Die draaiboek vir hierdie fliek, geskryf deur Chris Barnard, het pas by Penguin verskyn. Die gepubliseerde draaiboek bied aan diegene wat die rolprent gesien het, ’n kans om die ervaring te herleef en om die fyn intrige en subtiliteite van die draaiboek te kan volg. Maar ook vir diegene wat die fliek (nog) nie gesien het nie, bied die draaiboek ’n maklik leesbare verhaal. Selfs al weet jy niks van Marais af nie, is dit ’n boeiende vertelling oor ’n kortstondige vriendskap tussen mense, wat ’n lewenslange uitwerking het.
Eugène Marais se lewe en werk het nog altyd belangstelling gewek. Leon Rousseau se bekende biografie, Die groot verlange, het die belangstelling in Eugène opnuut laat opvlam toe dit in 1974 verskyn het. Dit is ongetwyfeld een van die gewildste biografieë oor ’n Afrikaanse skrywer en lees soos ’n goeie roman. Die boek is herhaaldelik herdruk en is een van die min Afrikaanse boeke uit die 1970’s wat steeds beskikbaar is. Leon Rousseau het later die biografie met Die dowwe spoor van Eugène Marais (1998) aangevul.
Die rede vir die durende belangstelling het sekerlik daarmee te doen dat daar soveel onsekerheid oor Eugène se lewe is. Hy is al beskryf as ’n bedrieër wat homself voorgedoen het as dokter en as wetenskaplike; as ’n verraaier wie se simpatie tydens die Boereoorlog eintlik by die Engelse was, en as ’n dwelmslaaf wat ander mense uitgebuit het. Aan die ander kant word hy as die eerste groot Afrikaanse digter gevier, as grondverskuiwende natuurwetenskaplike, as iemand met ’n ruim visie wat sy tyd (en sy mense) ver vooruit was; die slagoffer van plagiaat wat aan depressie gely het en wie se lewe met ’n tragiese selfmoord geëindig het.
Sy werk oor bobbejane (Burgers van die berge) word vandag erken as een van die voorlopers van Dianne Fossey se werk oor gorillas (soos weergegee in die fliek Gorillas in the mist). Sy “navorsingsmetode”, om as ’t ware saam met die diere in die veld te leef, hul vertroue te wen en dan waar te neem, lyk in ons tyd vanselfsprekend, maar aan die begin van die 20ste eeu was dit revolusionêr.
Selfs meer invloedryk was Eugène se werk oor termiete. Hy het in 1925 ’n reeks artikels vir Die Huisgenoot geskryf waarin hy sy waarnemings van termietkolonies beskryf het. Hierdie reeks artikels, Die siel van die mier, was ook in Vlaandere beskikbaar waar die Nobelpryswenner Maurice Maeterlinck toegang daartoe gekry het. In 1926 het sy boek La Vie des Termites (in Engels vertaal as The Life of White Ants), verskyn. Maeterlinck gee nêrens erkenning aan Eugène se werk nie, maar hy was self nooit in Afrika nie en het nooit termiete waargeneem nie. Die plagiaatsaak teen Maeterlinck is weens die hoë koste daarvan laat vaar. (Lees gerus ook Dawid van Reybrouck, ’n Belgiese wetenskaphistorikus, se boeiende verhaal oor die plagiaatsaak: Die plaag. Die stil geknaag van skrywers, termiete en Suid-Afrika.)
Benewens sy roem as digter, word sy hervertellings van Boesmanverhale, Dwaalstories, as ’n hoogtepunt in die Afrikaanse prosa beskou. Hy het ook talle kortverhale vir koerante en tydskrifte geskryf. In Die beste verhale van Eugène N Marais, word ’n versameling van 11 kortverhale en vyf “dwaalstories” opgeneem. Hieronder tel sy bekendste verhale soos “Diep Rivier” en “Salas y
Gomez”. As jy dus deur Die wonderwerker geïnspireer is om meer te lees oor en van dié merkwaardige digter, wetenskaplike, joernalis, dwelmslaaf, en sy stryd teen die “donker stroom” sal die genoemde boeke die regte vakansieleesstof wees.