Willie Burger kyk hierdie week na leesstof vir ‘n ieder en ‘n elk
Willie Burger kyk hierdie week na leesstof vir ’n ieder en ’n elk
BIKO – XOLELA MANGCU, NB-UITGEWERS Met die ANC se groot vergadering in Mangaung in byna elke politieke artikel, gee talle ontleders hul mening oor die kleiner binnegevegte en bespiegel oor nuwe vriendskappe en koue skouers. Alles klink so bekend – almal het maar enkele jare gelede oor Polokwane gesels. En oor vier jaar sal dieselfde gesprekke en berigte weer die rondte doen – waarskynlik net met ander rolspelers. In so ’n tyd is dit veel lonender om ’n boek te lees wat ’n breër perspektief en insig in ons land se politiek bied. Xolela Mangcu se Biko: A Biography is die soort boek wat elke wit Suid-Afrikaner behoort te lees. Ek dink ’n mens hoor te veel menings en te veel beskouings oor die verlede en die hede, wat eintlik uit louter onkunde spruit. Biko: A Biography is nie bloot ’n lewensverhaal van ’n persoon wat in die stryd teen apartheid dood is nie. (Die destydse minister van justisie en polisie, Jimmy Kruger, het in ’n toespraak gesê dat Biko dood is ná ’n hongerstaking en boonop dat Biko se dood hom “koud laat”.) Soos enige goeie biografie vertel hierdie boek veel meer as ’n lewensverhaal. Dit is ook ’n analise van die denke van “swart bewussyn” – die soort denke wat Biko daartoe gelei het om nie met die destydse studenteorganisasie Nusas saam te werk nie, maar eerder SASO te stig, wat slegs swart lede toegelaat het. Mangcu gaan haal die denke hieragter ver terug, by die eerste kontak tussen sendelinge en Xhosas in die Oos-Kaap. Hy bespreek die rol van die bevrydingsteologie en die invloed van Frantz Fanon se denke. Ná die lees van die boek kan ’n mens nie meer ’n begrip soos “nierassigheid” maklik gebruik nie. Dit gee baie insig in die spanning binne die ANC, asook agtergrond oor baie van die huidige prominente figure. Die belangrikste is dat Mangcu ’n “beeld van binne”
Die neus – Deborah Steinmair , Human & Rousseau Die neus word op die buiteblad as “’n raaiselroman” beskryf. Dit is inderdaad nie ’n gewone speurverhaal nie (al word ’n moord ondersoek). Die karakters is boeiend en uiteenlopend, van Aga Gruber, die vrou met buitengewone opspoorgawes, tot ’n dwerg in diens van die Chinese mafia. Op byna elke bladsy neem die vertelling ’n nuwe wending en die aksie verskuif van ’n Vrystaatse dorpie tot in ambassadegeboue in Pretoria. Daar is ook nie slegs een raaisel hier ter sprake nie. Lesers wat graag agter raaisels aan lees, sal meegesleur word deur hierdie onkonvensionele roman.
Nuut op die rak Oxford University Press het ’n deurbraak gemaak deur die eerste verklarende skoolwoordeboek in Afrikaans te publiseer, die tweede anderstalige woordeboek ná die een in Swahili. Die Oxford Afrikaanse skoolwoordeboek volg in die voetspore van die bekroonde Afrikaans-Engels-skoolwoordeboek wat in 2008 ’n ATKV-veertjie vir sy bydrae tot Afrikaans gewen het. Die nuwe verklarende skoolwoordeboek sluit moderne woorde (kweekhuiseffek), idiome (gogga maak vir baba bang), sportterme (baannommer, skepskop) en skoolonderwerpe (bioom, kansvariasie) in.
Dans met die rooi rok – Woutrine Theron, Lapa Sommige lesers wat ouer as 45 jaar is en die begin van TV-uitsendings kan onthou, sal Woutrine Theron ken as Grieta in die TV-reeks uit die sewentigs, Nommer asseblief. Sy het tevore al ’n roman geskryf, maar Dans met die rooi rok is haar eerste roman sedert 1983. Die hoofkarakter, Karolien, het gedink sy keer terug na die Suid- Kaapse kus om van haar sterwende moeder afskeid te neem, maar sy word meegesleur deur ’n raaiselagtige moord en die herontwaking van liefde. In die proses leer sy haarself ken.