Elsa Joubert het slegs een keer die Hertzogprys ontvang ten spyte van die bekroningswaardige roman Die swerfjare van Poppie Nongena
Elsa Joubert het slegs een keer die Hertzogprys ontvang ten spyte van die bekroningswaardige roman Die swerfjare van Poppie Nongena
Eintlik is dit verbasend dat Elsa Joubert slegs een keer die Hertzogprys ontvang het – in 1999 vir Die reise van Isobelle. ’n Mens sou kon verwag dat Die swerfjare van Poppie Nongena, een van die bekendste Afrikaanse romans, bekroon sou word.
Dié opspraakwekkende roman het in 1978 verskyn en toe die Hertzogprys in 1979 vir die beste prosawerk uit die vorige drie jaar toegeken moes word, het die Letterkundekommissie op Etienne Leroux se Magersfontein, o Magers- fontein! besluit.
Niemand sal stry dat dit ’n waardige bekroning was nie en dit is nou maar een maal een van die probleme met die manier waarop die Hertzogprys toegeken word. ’n Besonder belangrike publikasie kan onbekroon verbygaan omdat daar in dieselfde drie jaar ook ander indrukwekkende werke verskyn het. Gelukkig het Die swerfjare van Poppie Nongena baie ander pryse ontvang: die CNA-prys, die Louis Luyt-prys, die WA Hofmeyr-prys en die Winifred Holtby Memorial-prys van die Royal Society of Literature.
Poppie is in meer as tien tale vertaal en is as een van die 100 beste boeke uit Afrika in die 20ste eeu aangewys. Elsa Joubert is in 1922 in die Paarl gebore. Haar vormingsjare word grootliks beïnvloed deur die groeiende Afrikanernasionalisme wat uiteindelik sou uitloop op die Nasionale Party se oorwinning in 1948 en Republiekwording in 1961.
As trotse Hugenote-afstammeling word sy met ’n vurige ywer deel van die Afrikanerstrewe. Sy raak egter spoedig hierdeur ontnugter en veral danksy die talle reise wat sy onderneem, begin sy om die uitsluitende aard van die Afrikanerstrewe te bevraagteken.
Met Ons wag op die kaptein het Elsa, lank voor baie ander skrywers, die gevolge van kolonialisering bekyk en in al haar werk daarna blyk ’n steeds dringender ondersoek na wit en Afrikaner wees. In haar werk val die klem voortdurend op die individu se verhouding met ander, op die “verste reis wat ’n mens kan maak, (…) van een mens na ’n ander, deur die hart” (Die verste reis). Om hierdie rede is dit vir haar onmoontlik om blindelings aan ideologie vas te hou. In Die reise van Isobelle (1995:389), sê die karakter, Belle, in ’n stadium: “Sien jy, dis hoe ek grootgemaak is.
Dis hoe hulle ons emosies verfoes het. Hulle maak jou kleintyd met so ’n sterk lym vas dat as mens jou wil wegskeur, jy nie maklik van die wond herstel nie. As mens enigiets wil doen omdat dit vir jou persoonlik reg is, dan word jy skoon skisofrenies. Ek wonder of ander nasies ook so is, Franse of Dene of Spanjaarde? (…) Hierdie vaderland wat iets reins, iets moois, iets edels moet wees, is slegs ’n mite, ’n chimera, ’n opgeefsel. Iets soos…” van êrens kom die beeld, “soos 31 Februarie … ’n onmoontlikheid, onbereikbaar, waarin jy tevergeefs moet glo.”
Om aan die een kant aan jou eie mense, aan jou vaderland, jou volk “vasgebind” te wees, en om aan die ander kant ’n persoonlike morele kompas te volg wat wegwys van ’n uitsluitende en onderdrukkende nasionalisme, is ’n spanning wat sentraal staan in Joubert se oeuvre.