Daar is baie feite uit fiksie te leer, sê Willie Burger
Daar is baie feite uit fiksie te leer, sê Willie Burger
Ek sou bitter min oor die maak van afbeeldings in die Islamwêreld geweet het as ek nie Orhan Pamuk se My Name is Red gelees het nie. Oor die lewe van monnike in ’n Middeleeuse klooster sou ek nooit gedink het as dit nie vir Umberto Eco se The Name of the Rose was nie. Van die “Blou mense” van die Sahara en hul stryd teen Franse koloniale oorheersing het ek eweneens weinig geweet voordat ek JMG Le Clézio se Desert gelees het. Van Aspergersindroom het ek in Mark Haddon se The Curious Incident of The Dog in the Night-Time te hore gekom. En sou ek ooit regtig nagedink het oor Indiërs se rol in die Britse leër tydens die Tweede Wêreldoorlog as ek nie Michael Ondaatje se The English Patient gelees het nie?
Ek sou nie sommer uit my eie gaan oplees het in Xenophon se Anabasis oor die merkwaardige veldtog van Griekse huursoldate wat in 401 vC probeer het om die Persiese Ryk omver te werp nie. Maar toe skryf Dan Sleigh ’n roman daaroor, Afstande, en skielik weet ek nie net van hierdie reis nie, maar ook sommer veel meer oor die Griekse godsdiens, hul demokrasie, hul oorlogstrategie … Só kan ’n mens voortgaan, want in elke roman, selfs al is dit nie ’n historiese roman nie, is daar altyd baie verwysings na mense se doen en late en na hul manier van dink in ’n sekere tyd en plek.
Dieselfde Sleigh, wat in sy boeke Afstande en Eilande naby aan die historiese feite hou, versin in Wals met Mathilda ’n hele stuk geskiedenis oor die herkoms van die Australiese nie-amptelike volkslied Walzing Matilda. Hy laat ’n mens nogtans nadink oor die trauma van diegene wat tydens die runderpes die veekuddes moes doodskiet. In Ingrid Winterbach se Die boek van toeval en toeverlaat is daar baie inligting oor die ontstaan van die kosmos en evolusie. In elke fiksiewerk word feite opgeneem uit die wêreld waarin ons woon (anders sou ons dit beswaarlik kon verstaan). Dit kan feite wees oor enigiets onder die son: geskiedenis, ekonomie, politiek, menslike afwykings, siektes en gewoontes, natuurwetenskaplike kennis, godsdienstige en morele beskouings, sosiale ingesteldhede, genadedood vir honde, tuinmaak, toerisme, kookkuns, boukuns, oorlog of vrede …
Natuurlik word hierdie soort inligting (byvoorbeeld oor polisieprosedures in ’n speurverhaal) dikwels in veral populêre fiksie gebruik om ’n gevoel van realiteit by die leser te skep, maar in talle romans word sulke verwysingsvelde om ’n ander rede gebruik. Wanneer ’n spesifieke verwysingsveld, of ’n paar verwysingsvelde in ’n fiksieteks betrek word, het dit tot gevolg dat ’n mens soms vir die eerste keer daaroor nadink. So dikwels word sekere maniere van doen of sekere beskouings as “normaal” aanvaar. Of ’n mens is so gewoond aan ’n sekere manier van dink, dat jy nie eers daarvan bewus is dat dit net een manier van dink is nie. As jy nou hierdie manier van doen of dink in die fiksieteks waarneem, raak jy skielik daarvan bewus.
In André Brink se Duiwelskloof word ’n streng patriargale stelsel as manier om die samelewing te reguleer as verwysingsveld betrek. Die leser kan in die fiksiewêreld die gevolge van die stelsel raaksien. Die leser word daarvan bewus dat die patriargie, wat ook in sy eie wêreld in verskeie vorms bestaan en wat binne Duiwelskloof as normaal, as ’n gegewe, beskou word, bloot ’n konstruk is, ’n stelsel waarop hierdie mense hul wêreld verstaan. En dan kom die besef dat dit ook in jou wêreld bloot ’n konstruk is en dat die werklikheid ook anders bedink kan word.