Willie Burger kyk na die werk van die Hertzogpryswenner CM van den Heever
Willie Burger kyk na die werk van die Hertzogpryswenner CM van den Heever
Die insteller van die Hertzogprys, generaal JBM Hertzog, se biograaf is self ook twee keer met die Hertzogprys bekroon. CM van den Heever se omvangryke biografie oor Hertzog het in 1943 verskyn. Hy het die Hertzogprys een keer vir poësie (1928) en een keer vir prosa (1945) ontvang. Van den Heever was ’n besonder produktiewe skrywer. Hy debuteer in 1926 as digter met Stemmingsverse. Sy laaste werk voor sy dood op 55-jarige ouderdom in 1957 was ’n kortverhaalbundel wat in 1956 verskyn het. In die 30 jaar tussen sy debuut en sy laaste werk het nie minder nie as 36 boeke uit sy pen die lig gesien! wenner Die 36 boeke sluit sewe digbundels en 22 prosawerke (15 romans/novelles en sewe bundels met kortverhale of sketse) in. Daarbenewens het hy ook die genoemde biografie, ’n bundel met aforismes en ’n aantal boeke met opstelle oor die letterkunde en Afrikaanse kultuur geskryf. Soos dit egter dikwels met skrywers gaan wat so baie publiseer, is alles nie van gelyke gehalte nie en die werk ná Laat vrugte (1942) word met weinig waardering beskou. Dit is veral vir die bekroonde Laat vrugte wat Van den Heever vandag onthou word. Saam met Somer (1936), tel Laat vrugte onder die klassieke plaasromans in Afrikaans. Die plaasroman vul ’n sentrale plek in die Afrikaanse romantradisie en Van den Heever is een van die vernaamste vestigers van dié tradisie. Plaasromans is nie bloot romans wat teen ’n plaasagtergrond afspeel nie; hierin word die plaasruimte ’n bron van betekenis en sin. Die 1930’s en 1940’s was ’n tydperk van toenemende verstedeliking onder Afrikaners. Die gewoonte dat plase tussen ’n plaaseienaar se kinders verdeel is wanneer hy sterf, het daartoe bygedra dat plase al hoe kleiner en minder lewensvatbaar geword het. Voorts het langdurige droogtes in hierdie tydperk ook die landbou ernstig geknou. Op die platteland is daar gevolglik dikwels ’n bitter stryd oor grondbesit gevoer: broer teen broer, tussen ’n ouer generasie en ’n jonger generasie, tussen grondspekuleerders en kleinboere. Gevolglik het ’n klasbewustheid tussen grondbesitters en “bywoners” onder Afrikaners ontstaan. Die realiteit dat dit onmoontlik is dat elke Boer ’n plaaseienaar kan wees, lei ook tot die toenemende bevraagtekening van identiteit onder ’n groeiende groep mense wat ontmagtig voel. Iets hiervan eggo ook natuurlik vandag in oproepe oor die herverdeling van grond. In romans soos Droogte, Somer, Op die plaas en Laat vrugte roer Van den Heever herhaaldelik hierdie probleme aan. Telkens word die harde plaaslewe en stryd om teen die natuurkragte te oorleef en die opkoms van kapitalisme ook ’n stryd van die individuele mens om sin en liefde te vind. ’n Romantiese verlange na ’n ander en ’n beter manier van bestaan kom dikwels in sy werk, veral in sy poësie, voor. Gebondenheid aan die grond word deurgaans as die enigste teenvoeter beskou vir wat voorgehou word as die korrupterende wêreld van die stad, die delwerye, die myne met hul blink aanloklikheid, maar morele holheid van dobbel, prostitusie en drank. Afrikaners se liefde vir die grond is egter, soos JM Coetzee eens aangedui het, by Van den Heever nie ’n algemene liefde vir die natuur nie, maar ’n liefde vir die eie grond, wat van die voorgeslagte geërf is en wat as kosbare erfenis vir die nageslagte nagelaat word. Enersyds is Laat vrugte ’n beskrywing van die stryd tussen generasies: Oom Sybrand veg verbete om die alleenheerskappy van die grond teen sy ma, teen “swakkelinge” wat “agteruit boer” en teen sy seun wat besig is om hom in krag en vermoë verby te steek. Maar uiteindelik is dit ook ’n roman waarin die sin van elke generasie se geswoeg in die verbete strewe om vooruit te kom, bedink word.