Willie Burger kyk hierdie week na vier boeke wat almal oor oorlog en vrede handel
Willie Burger kyk hierdie week na vier boeke wat almal oor oorlog en vrede handel
Oorlog het ’n manier om wonde te laat wat veel langer neem om te genees as ander traumatiese gebeurtenisse. Tydens die Groot Griep van 1918 het daar byvoorbeeld in Suid-Afrika binne ongeveer ses weke byna twee keer soveel mense gesterf as wat daar tydens die drie jaar van die Anglo-Boereoorlog aan al die kante dood is. Nogtans is die Groot Griep lankal vergete terwyl die Anglo-Boereoorlog meer as ’n eeu later steeds gemoedere kan opjaag.
Dit is baie moeilik om te verklaar waarom daar juis in die afgelope tyd so baie boeke oor die Anglo-Boereoorlog verskyn het. Miskien het dit met ’n nostalgiese verlange na ’n roemryke verlede te doen. Albert Blake beskou in sy jongste boek BOEREKRYGER (Tafelberg) die belangstelling as ’n “terapeutiese ontlading” vir die trauma wat steeds deel van die Afrikaner se psige is. Blake voer ook aan dat Afrikaners ná 1994 eintlik toeskouers op politieke gebied is en ook kultureel bedreig en gemarginaliseer voel en daarom opnuut in die verlede na ’n positiewe identiteit soek. Willie Burger kyk hierdie week na vier boeke wat almal oor oorlog en vrede handel boek Dié skrywer se opspraakwekkende boek Boereverraaier, wat in 2010 verskyn het oor die teregstellings van verraaiers tydens die Boereoorlog, was boeiend en ontstellend. Boerekryger bied nou ’n blik op hoe dit was om ’n gewone Boerekryger op kommando te wees, geskoei op die dagboeke van twee broers, Henning en Marthinus Viljoen. Blake is ’n deeglike navorser en hy het uit die dagboeke van hierdie broers inligting versamel oor verskeie veldslae, maar ook oor persoonlike ervarings – die meisies met wie hulle gevry het, oor hul perde en hul vrese en trauma. Boerekryger is nie so boeiend soos Boereverraaier nie, maar hiermee het Blake die dagboeke wat andersins ongelees in die argief sou gebly het, aan ’n wye gehoor beskikbaar gestel.
In 2010 het Chris Schoeman se Boerseun: Memoires van ’n Anglo- Boereoorlogseun verskyn en soos Blake volg hy dit twee jaar later met ’n volgende stuk navorsing op: BROERS IN DIE STRYD: HOLLANDERS IN DIE ANGLOBOEREOORLOG (Zebra Press). Ook Schoeman maak hoofsaaklik gebruik van dagboeke van Hollanders wat aan Boerekant geveg het. Dan het daar onder redaksie van Jeanette Ferreira die bundel BOEREOORLOGSTORIES 2 (Tafelberg) verskyn. ’n Heruitgawe van die eerste bundel Boereoorlogstories (1998), ook onder Ferreira se redaksie, het verlede jaar verskyn. Die feit dat daar nou nóg ’n bundel verskyn, wys net hoe graag mense skynbaar oor hierdie oorlog wil lees.
Maar nie net die Anglo-Boereoorlog word druk beskryf nie, ook die Grensoorlog word tans dikwels herbesoek. Jeanette Ferreira se bundel GRENSOORLOGSTORIES (Litera Publikasies) bevat ’n versameling van dié vertellings. Vir baie van ons wat nog ’n jaar of twee diensplig en wat daarna kampe moes doen, is die Grensoorlog nog nie vergete nie. Die letsels wat deur hierdie oorlog gelaat is – op dienspligtiges, professionele soldate, vryheidsvegters en op almal se geliefdes – het egter gou uit die openbare oog verdwyn. Gedurende die jare tagtig het ’n aantal skrywers in Afrikaans oor hierdie oorlog fiksie geskryf en daar is selfs van “grensliteratuur” as ’n soort subgenre gepraat. Sedert die politieke wending is veel minder oor die oorlog geskryf, maar die afgelope paar jaar is daar skielik ’n oplewing in publikasies oor die Grensoorlog. Boeke soos Anthony Feinstein se Kopwond (wat ook al hier bespreek is) en Jacqui Thompson se Dit was oorlog: Van afkak tot bosbefok, waarin gewone troepe van hul ervarings vertel, het skynbaar ’n soort rimpeleffek – al meer mense begin onderdrukte emosies onthou en daarvan vertel. Met Grensoorlogstories word die oorlog opnuut bekyk. Die meeste van ons wat nog oud genoeg is om die oorlog te onthou, of wat daaraan deel gehad het, sal hierdie verhale boeiend vind. En vir die jonger generasie sal dit help om hul ouers beter te verstaan.