In die vyfde aflewering oor Hertzogpryswenners kyk Willie Burger na NP van Wyk Louw
In die vyfde aflewering oor Hertzogpryswenners kyk Willie Burger na NP van Wyk Louw
NP van Wyk Louw is die enigste persoon wat al vyf keer met die Hertzogprys bekroon is. Wat dié prestasie nóg merkwaardiger maak, is dat hy die prys vir al drie genres – poësie, prosa en drama – ontvang het! Louw het as “dertigerdigter” ’n sentrale rol gespeel in die ontwikkeling van die Afrikaanse poësie in ’n nuwe rigting. Hy is reeds in 1937 vir Alleenspraak, sy debuutbundel, met die Hertzogprys bekroon en het dit sommer drie jaar later weer vir Die halwe kring ontvang. Sy merkwaardige laaste bundel, Tristia, is in 1965 bekroon. Daar is weinig twyfel dat Louw een van die belangrikste Afrikaanse digters is. In die Groot Verseboek beslaan sy gedigte meer bladsye as enige ander digter. Hy het reeds in sy debuutbundel aangedui dat hy “die heilige, nooitgehoorde dinge” gaan sê “waarvoor die mense / huiwer, en wat om die grense / flikker van my duister woorde.” Jaarliks tydens die herfs weerklink sy “Vroegherfs” uit “Vier gebede by jaargetye in die Boland” in my ore: Die jaar word ryp in goue akkerblare, in wingerd wat verbruin, en witter lug wat daglank van die nuwe wind en klare son deurspoel word; elke blom word vrug… Ek het dié gedig die eerste keer op skool gelees en dit was op universiteit vir my voorgeskryf, maar dit was eers baie jare later wat ek die wending in die tweede deel van die gedig begin verstaan het: O Heer, laat hierdie dae heilig word: laat alles val wat pronk en sieraad was of enkel jeug, en vér was van die pyn; laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort my waan, tot al die hoogheid eindelik vas en nakend uit my teerder jeug verskyn. Talle versreëls uit Louw se gedigte het geleidelik ook ons gewone spreektaal binnegedring. Hoe dikwels hoor ’n mens nie iemand oor ons land opmerk nie: “O wye en droewe land”? Telkens wanneer mense geesdriftig raak oor een of ander nuwe filosofie, gier, godsdiens of party, herinner dit my aan die raad: “Ek sny die brood en drink die wyn / en hou my hart van gode rein”. Louw se geloof in die woord se krag om die wêreld te kan oopmaak, om met “die fyn net van die woord” groot idees te kan bedink, word in die bekende gedig “Die beiteltjie” verwoord wanneer “die klein klein beiteltjie” geslyp word totdat hy “klink en blink”. Die taal, geslyp en reg aangewend, kan uiteindelik rots breek en die hele aarde skeur, “met ’n bars wat van my beitel af / dwarsdeur die sterre loop”. Hierteenoor staan egter ook die besef dat die woord tekort skiet: “Iets staan in sterre-en-helderte geskryf / en ek skryf ná in stof”. Louw se versdrama Germanicus is in 1960 met die Hertzogprys bekroon. Die tragiese held, die fyn jong veldheer wat so graag suiwer wil bly, sy hande skoon wil hou en mag wat hom aangebied word nie wil gryp nie, maak vandag steeds ’n groot impak op die leser. Gevleuelde woorde kom nie net uit Louw se poësie nie. Sy kritiese prosa in Die mens agter die boek, Maskers van die erns, Lojale verset en Berigte te velde, wat in 1958 met die Hertzogprys bekroon is, het ’n groot invloed op Afrikanerdenke gehad. Louw word vandag soms verwyt dat sy verset té lojaal was, maar konsepte soos “die oop gesprek”, wat hy gemunt het, word steeds byna weekliks gebruik. Wat ook al oor Louw se idees gesê word, in sy poësie word die komplekse misterie van menslike bestaan deurtastend ondersoek in verse wat saam met die heel beste