Hier is twee oulike nuwe boeke ideaal vir die kinders
Hier is twee oulike nuwe boeke ideaal vir die kinders
Dit is waar dat Wikipedia vir die meeste kinders die vernaamste bron van inligting geword het. Natuurlik is dit ’n gerieflike naslaanbron vir daardie alewige take wat hulle telkens moet doen en saamneem skool toe. So ook is Mieliestronk en die ander plekke waar taaklinligting geredelik op die internet bekombaar is vir baie kinders – en ouers! – van onskatbare waarde. Die probleem is egter dat hierdie inligting dikwels so ’n bietjie buite konteks, haastig en broksgewys versamel word: Die kinders soek gou ’n brokkie inligting oor die brulpadda of vlermuise en een of twee foto’s daarvan en hulle is meestal tevrede met die eerste brokkie inligting en foto. Maar ’n uitgebreide geheelbeeld van die diereryk, wat oorkoepelend op kleurryke en verstaanbare manier inligting op ’n samehangende manier aanbied, kry hulle nie so maklik daar nie. Daarom is hierdie twee nuwe uitreikings so goed.
Diere: ’n Ensiklopedie vir kinders – Human & Rousseau Die pragtige kleurryke Diere: ’n Ensiklopedie vir kinders is nou heruitgegee deur Human & Rousseau. Dit is die soort boek wat jy sommer permanent op die koffietafel in die sitkamer wil los. En in die speelkamer en in jou kinders se kamers en sommer in die skooltas ook wil pak. Dit is oorspronklik in Brittanje uitgegee en het reeds in 2009 een uitgawe in Afrikaans beleef. Die 2012-uitgawe is hersien en is ’n moet vir enige huishouding. Eintlik is dit nie net ’n ensiklopedie vir kinders nie; die meeste volwassenes wat nie grade in dierkunde het nie, sal dit eweneens leersaam vind. ’n Eenvoudige logika word gevolg (wat ongelukkig meestal nie in die meeste laerskoolhandboeke die geval is nie): ’n Oorsig oor die ganse diereryk word gegee, beginnende by ’n definisie van wat ’n dier is, ’n indeling in soogdiere, voëls, reptiele, amfibieë, visse en ongewerweldes tot dieregedrag, habitat en talle interessante brokkies inligting oor buitengewone diere of dieregewoontes.
Sterrekunde binne bereik deur Neville Young – LAPA Nog ’n boek wat ’n ongelooflike bron van inligting is, is Neville Young se boek oor die sterrekunde. Dit is weliswaar nie in die eerste plek vir jonger lesers geskryf nie, maar Young plaas werklik, soos die titel aandui, sterrekunde binne bereik van die gewone leser wat nie in die fisika of sterrekunde opgelei is nie. Daar was al voorheen pogings om die sterrekunde vir die leek verstaanbaar te maak, soos Die groot gedagte van Gideon Joubert en Ontsluier die heelal van JE van Zyl. Eersgenoemde het ’n bietjie swaar gedra aan die “boodskap” wat Joubert met die wetenskaplike inligting wou tuisbring en laasgenoemde is nie so maklik om te lees nie. Nie een van die twee werke is ook ’n praktiese gids vir die amateursterrekyker wat soms in die nag opkyk en vir hom of haarself vra: “Ek wonder …?” nie. Young se boek help ’n mens om op ’n praktiese manier by sterrekunde betrokke te raak. Die eerste afdeling oor “perspektief” plaas die aarde, van waar ons alles waarneem, binne die kosmiese perspektief. Young gebruik telkens praktiese voorbeelde en vergelykings. Hy gee ook heelwat nuttige inligting oor hemelliggame, ruimtereise, sterrekaarte en toerusting wat jy kan gebruik om sterre dop te hou: van ons gewone verkykers tot kragtige teleskope en kameras. Daar word ook aandag gegee aan die voordele wat die mensdom uit die kennis put wat deur die wetenskap van sterrekunde versamel is. Les bes is daar ook inligting oor sterrekundige organisasies in Suid-Afrika en hoe jy te werk moet gaan om met jou naaste sterrekundeklub in verbinding te tree. Die boek is mooi uitgegee, met baie kleurfoto’s, tabelle, diagramme en selfs 3D-foto’s, en ’n bril om hulle te bekyk, word agterin die boek in ’n koevertjie verskaf. Die lettertipe is egter baie klein en kan beslis nie sonder leesbril aangepak word nie.