In hierdie derde aflewering oor styl kyk Willie Burger na die verteller in Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena
In hierdie derde aflewering oor styl kyk Willie Burger na die verteller in Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena
Die swerfjare van Poppie Nongena het in ’n baie kort tydjie van Elsa Joubert een van die bekendste Afrikaanse skrywers gemaak. Die roman is in 1978 met die CNA-prys, in 1979 met die Louis Luyten die WA Hofmeyr-prys bekroon en sy het ook in 1980 die Winifred Holtby Memorial-prys van die Royal Society of Literature ontvang. Die werk is in meer as tien tale vertaal en in 2002 as een van die 100 beste boeke uit Afrika in die 20ste eeu aangewys. Die hele roman is as vervolgverhaal in Rapport aangebied. Dit is ook vir die verhoog verwerk en plaaslik en in die buiteland opgevoer – waar dit in Londen die Laurence Olivier-toekenning ontvang het. Dit was egter moeilik om die boek geskryf te kry. Joubert het drie oggende per week gesprekke met haar huishulp, Eunice Ntsatha, gevoer en dit op band opgeneem. Eunice het haar hele lewensverhaal vertel – in haar moedertaal, Afrikaans. Uiteindelik het Joubert uit al haar vertellings, maar ook uit die vertellings met van haar famililede Eunice se lewensverhaal gerekonstrueer. Sy het die vertellings oorgetik en aan Eunice teruggelees sodat sy ook korreksies kon aanbring. Verder het Joubert al die feite nagegaan uit vrees dat een feitefout die boek kan diskrediteer. Nog moeiliker was om die verhaal op die regte manier vertel te kry. Joubert het verskeie vertellershoeke probeer. Haar man, Klaas Steytler, het gemeen daar is te veel oor haarself in die roman en sy het dit uitgesny. Sy het ook probeer om Eunice se Afrikaans – beïnvloed deur Xhosa en Engels – te behou. Uiteindelik is die boek pakkend en een van die invloedrykste Afrikaanse romans. Daar is baie redes daarvoor. Joubert het haar posisie as gevestigde Afrikaanse skrywer gebruik om die verhaal te vertel van iemand wat geen toegang gehad het tot maniere om werklik gehoor te word nie. Poppie se lyding het baie mense laat besef dat apartheidswette ’n geweldig negatiewe impak op die grootste deel van die bevolking het. Die boek het kort ná die 1976-onluste verskyn en baie wit lesers het vir die eerste keer begin besef wat in hul eie land aan die gang is. Maar benewens die nuuswaarde en die onthullende aard van die roman, is dit die styl waarin dit geskryf is wat daarvan so ’n boeiende leeservaring maak. Gedeeltes is in eerstepersoonsperspektief geskryf en dele in die derde persoon. Wat maklik sou kon gebeur, is dat die wit vertellerstem te duidelik gehoor word – wat sou veroorsaak het dat ’n mens nie regtig Poppie se stem sou hoor nie. In die roman word die stemme van die wit skrywer en swart verteller egter onontwarbaar versmelt. Daar word nêrens van aanhalingstekens gebruik gemaak om direkte rede aan te dui nie en die gevolg is dat die leser nooit presies weet wie aan die woord is nie. Daar is ook dikwels ’n wisseling tussen eerste- en derdepersoonsvertelling, dikwels sommer in dieselfde paragraaf. Joubert sou ook bloot Poppie as eerstepersoonsverteller aan die woord kon stel, maar deur self in die teks teenwoordig te bly (waar Poppie haar teregwys of verdere verduidelikings op haar vrae gee), word dit duidelik dat sy haar eie status as bevoorregte wit vrou onthou en dit nie agter ’n seepgladde storie probeer verdoesel nie. Nog belangriker, ook die bevoorregte leser word sodoende telkens aan sy of haar posisie herinner. Die leser kry nie kans om bloot in Poppie se storie “in te kom” om met Poppie se lyding empatie te hê nie, maar word ook herinner aan sy of haar eie aandeel aan Poppie se situasie.