Hier is lekker winterleesstof oor die liefde en die lewe
Hier is lekker winterleesstof oor die liefde en die lewe
FYN PORSELEIN – Helena Hugo LAPA Uitgewers Hier is ’n lekker dik boek vol wysheid en mensekennis wat ’n hele paar wintersaande gaan neem om deur te lees. Die vertelperspektief word afgewissel sodat die ervarings van ’n ouma, ma en kleindogter genaamd An, Hanna en Mariëtte om die beurt weergegee word en sodoende word die misverstande tussen die verskillende generasies verken. Uiteindelik gaan dit egter ook oor meer – hier val die klem op die moeite wat dit neem om ander mense werklik te verstaan. Dit is die soort roman wat daarin slaag om verwikkelde aspekte van verhoudings tussen mense, spesifiek tussen familielede, te verwoord. Sodoende bring dit talle insigte in menswees.
DIE KAMER LANGSAAN – Annemari Coetser LAPA Uitgewers Hierdie boek herinner nogal op ’n manier aan Verbeelde werklikheid, Eleanor Baker se boeiende roman uit 1996 waarin ’n vrou met ’n wankelende huwelik ’n roman skryf. In Die kamer langsaan besluit ’n vrou sy het genoeg gehad van haar sukkelende huwelik. Sy trek uit en begin ’n roman skryf. Geleidelik raak dit al moeiliker om die fiksie wat sy skryf en haar werklike ervarings uitmekaar te hou. Daar is heelwat liefde, genoeg aksie teen ’n snel tempo en telkens verrassende wendings om die leser enduit te boei.
MIEKE ROCK UIT – Jana du Plessis Tafelberg In tradisionele liefdesverhale, wat dikwels sterk deur 19de eeuse romans beïnvloed is, is die vroue se lot dikwels grootliks in die hande van mans. Die vroulike hoofkarakter wag as ’t ware op die prins op sy wit perd om haar te kom red. Oor die afgelope 30 of 40 jaar het die samelewing egter te veel verander om nog sulke verhale te kan vertel. Die vroulike hoofkarakters in verhale soos die gewilde Bridget Jones’ Diary is nie hulpeloos nie; hulle is dikwels professioneel, onafhanklik en kan hul eie besluite neem en wag nie passief op die liefde van hul lewens om hul weg te voer nie. In Afrikaans bied Jana du Plessis se Mieke rock uit ’n uitstekende toevoeging tot hierdie genre. Mieke is 25 jaar oud, pas geskei en weier om weer by haar ouers in te trek. Sy word deel van die gevolg van ’n rock band op toer, ontmoet rocksterre, raak met kitaarspelers deurmekaar en raak van baie van haar opvattings ontslae. Dit is nie alles blink ligte en opwinding nie. Mieke rock uit gaan ook oor Mieke se verhoudings, maar die fokus is nie daarop nie. Uiteindelik gaan dit nie oor die vind van die “regte” man vir haar nie, maar eerder oor hoe sy haarself vind en wat sy presies met haar lewe wil doen.
RUGBYBALLE EN BIKINI’S – Janie Oosthuysen Human & Rousseau Vir jonger lesers wat op die skool se eerstespanrugbyspelers verlief is en sukkel om raakgesien te word, is hierdie boek net die regte leesstof. Anelle hoop dat die vakansie op Duinebaai, weg van Jenni en Simone, wat Pierre du Toit se aandag op hulle vestig, rus vir haar gemoed sal bring. Maar hier raak haar hart op loop en Jenni daag sowaar weer op om alles deurmekaar te krap. Rugbyballe en bikini’s is die eerste in ’n reeks van ses boeke oor liefde en liefdesdriehoeke. Daar is dus nog baie leespret op pad.