Naas seks is gee die belangrikste in jul verhouding.
“Naas seks is gee die belangrikste in jul verhouding,” lui een van dié week se voorbladprikkels. Weet ons nie teen die tyd als omtrent dié onderwerpe nie, want daar is al miljoene boeke, artikels en flieks daaroor geskryf en gemaak (sommige beter as ander)? Duidelik nie, want staan jy in die supermarktou om jou inkopies te betaal, is die kans 90% dat jy steeds op een van die menigte tydskrifte op die rakke iets gaan raaklees oor seks, verhoudings of die liefde.
Kyk, ek is waarskynlik geen kundige op die gebied van verhoudings nie. Daarvan getuig die feit dat ek en my studenteliefde nie al 30 jaar dolgelukkig getroud is met twee van als nie – kinders, honde, katte, karre, en huise (’n strandhuis is mos deel van die “suksesvolle” pakket – dan nie?). Dít het vroeg-vroeg reeds nie gewerk nie. Die daaropvolgende samesyn het wel twee kinders opgelewer (en wonderlikes as ek dit self mag sê), maar kom ons sê dit was
’n leerskool.
Maar dalk mag ek juis daarom ’n mening oor verhoudings hê, want ná twee mislukte probeerslae is ek reeds agt jaar saam met ’n lewensmaat wat my steeds opgewonde maak en dink ek’s fantasties. So, ek weet hoe lyk verhoudings wat nie werk nie en ek weet hoe lyk een wat wel werk.
Laat my toe om te deel wat ek so ’n wyle terug deur ’n ene Lori Deschene op die web raakgelees het.
Dis tien maniere wat sy dink tot ’n vreedsame en liefdevolle verhouding kan bydra. Dalk is dit deel van die geheim van ’n tevrede samesyn, goeie seks en wederkerige liefde.