Hannes Haasbroek En SJ Naudé Wen South African Literary Awards
Hannes Haasbroek En SJ Naudé Wen South African Literary Awards
Umuzi-skrywers Hannes Haasbroek en SJ Naudé het sopas elkeen ’n Sala ingepalm. Die toekenningsfunksie is op 10 November 2012 in Bloemfontein gehou. Hannes Haasbroek het ’n toekenning gewen in die kreatiewe nie-fiksie kategorie and SJ Naudé in die debuutkategorie.
Haasbroek se merkwaardige dubbele biografie van Bram Fischer en sy moeder Ella het in 2011 verskyn. Naudé se bakenverskuiwende bundel verhale het in 2011 verskyn en het reeds vanjaar se Jan Rabie Rapport-prys gewen, asook die UJ-debuutprys.
Steve Connolly, Besturende Direkteur van Random House Struik, sê: “Dit is met besondere trots dat ek van die Umuzi-span se sukses by vanjaar se South African Literary Awards verneem. Bevredigend was veral die kreatiewe nie-fiksie toekenning aan Hannes Haasbroek se ’n Seun soos Bram. Die boek het ’n ongewone reikwydte en benadering, en ons hoop dat die erkenning meer mense sal aanmoedig om hierdie roerende portret van die politieke- en familiegeskiedenis van die Afrikaanse struggle-held Bram Fischer te lees. Dit is ook ongelooflik verblydend om te sien dat SJ Naudé gewen het in die debuutkategorie – en dít benewens die twee pryse wat hy reeds verower het – vir die merkwaardige Alfabet van die voëls.”
Fourie Botha, Redaksiehoof van Umuzi, sê: “Ons by Umuzi is trots op ons skrywers wat wenners was in twee van die drie kategorieë waarvoor ons benoem is. SJ Naudé en Hannes Haasbroek se uitstekende boeke verdien die eer.”
Hannes Haasbroek is in Bothaville gebore. Hy behaal ’n doktorsgraad in Geskiedenis aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Hy is hoof van die Geskiedenisdepartement by die Nasionale Museum in Bloemfontein en lewer gereeld bydraes tot wetenskaplike joernale, tydskrifte en koerante.
SJ Naudé is in 1970 gebore. Hy studeer in Pretoria en voltooi meestersgrade aan Cambridge en Columbia. Na jare as regspraktisyn in New York en Londen keer hy terug na Suid-Afrika vir ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy werk tans as redakteur in Kaapstad.
Vir meer inligting besoek www.randomstruik.co.za
’N SEUN SOOS BRAM
ISBN: 978-1-4152-0147-3 (print) | ISBN: 978-1-4152-0217-3 (e-pub) | ISBN: 978-1-4152-0218-0 (PDF)
RRP: R220 | Category: Biography
ALFABET VAN DIE VOËLS
ISBN: 978-1-4152-0145-9 (print) | ISBN: 978-1-4152-0225-8 (e-pub) | ISBN: 978-1-4152-0226-5 (PDF)
RRP: R170 | Category: Short stories