Veroudering is onvermydelik, maar ons het meer uitgevind oor die kosmetiese behandelings vir plooie en fyn lyntjies.
Natasha van Wyk
Ons gesels met Caroline Van Hove; senior direkteur van bemarking en gesigsestetika vir Allergan Europa, Afrika en die Midde-Ooste
1) Wat doen botoks en dermale vullers?
“Botox” is eintlik ‘n handelsnaam en dit hou verband met Allergan se “botulinum toksien”, vandaar “botoks”. In Suid-Afrika is botoks goedgekeur om die fronslyne tussen die wenkbroue te behandel. Dit is die enigste estetiese aanduiding vir botoks.
Botulinum toksien word vir kosmetiese doeleindes gebruik as ‘n inspuiting wat plooie “ontspan”. Dit ontspan die spiere tussen die wenkbroue (die fronslyne) tydelik, wat jou sagter en minder moeg of kwaai laat lyk.
Inspuitbare dermale vullers vul plooie en fyn lyntjies in en word direk in die plooi of vou ingespuit. Dit vul en verbeter die gedeelte tydelik vir ‘n gladder, jonger voorkoms. Die algemeenste dermale vuller is hialuronsuur- (HA) gegronde vullers. HA is ‘n stof wat natuurlik in die liggaam voorkom en die vel bevogtig. Hierdie vullers help om die liggaam se natuurlike vlakke van HA aan te vul.
2) Wie kan hierdie behandelings oorweeg?
Die besluit om ‘n kosmetiese inspuitbare behandeling te laat doen, is persoonlik en verskil van mens tot mens, afhangende van ouderdom, huidige toestand en velveroudering. Allergan beveel aan dat mense wat belangstel met ‘n betroubare, gekwalifiseerde estetiese praktisyn praat.
3) Hoe dikwels moet jy vir hierdie prosedures gaan?
Dit hang van die aard van die behandeling af. Die hialuronsuur- dermale vullers hou tussen 4 en 12 maande, want HA is herabsorbeerbaar. Dit hang af van die produkte wat gebruik word en die diepte van die plooie wat behandel is. Behandelings met plooi-ontspannende inspuitings kan tot vier maande hou. Resultate sal ook van ‘n mens se gesondheid en lewenstyl afhang.
4) Wat kan jy van ‘n behandeling verwag?
KIES REG
Dit is belangrik dat jy na ‘n betroubare, opgeleide en gekwalifiseerde mediese praktisyn gaan wat ervaring in gesig-inspuitbare behandelings het. Sy of haar metodes moet aan plaaslike regulasies voldoen. Vra altyd hoe lank die praktisyn al in dié veld is en bevestig dat hy of sy ‘n gemagtigde mediese praktisyn is. Jy kan ook vir registrasievorms vra. Behandeling moet slegs in ‘n kliniese, higiëniese en professionele omgewing uitgevoer word. Wees versigtig vir gesiginspuitbare behandelings wat deur jou plaaslike salon of skoonheidsterapeut aangebied word.
VOOR DIE BEHANDELING
Wees bereid om inligting oor jou mediese geskiedenis of huidige gesondheidsprobleme te voorsien. Besonderhede van enige allergieë of medikasie wat jy neem moet ook bekendgemaak word. Jou gekose praktisyn moenie druk op jou plaas om ‘n prosedure onmiddellik te ondergaan nie. Dink na oor die inligting wat jy gekry het en besluit of die aanbevole prosedures reg is vir jou.
DIE PROSEDURE
Oor die algemeen neem die proses tussen 15 en 30 minute, maar jy sal ook konsultasietyd voor die behandeling moet inreken. Dit kan dus tot ‘n uur duur. Jy kan waarskynlik ‘n graad van ongemak ervaar omdat die behandelings met inspuitings gedoen word, maar dit is gewoonlik tydelik.
DIE RESULTATE
Met dermale vullers is die estetiese resultate onmiddellik sigbaar. Jy sal direk ná jou afspraak die verskil agterkom.
Die plooi-ontspannende inspuitings neem ‘n bietjie langer om resultate te wys. Die maksimum resultate kan tot twee weke ná behandeling steeds sigbaar wees, maar jy moet ‘n verbetering ongeveer vyf dae ná behandeling begin sien.
5) Het jy enige veiligheidswenke ten opsigte van die prosedures?
Dit mag effens rooi, opgeswel of bloederig wees waar jy ingespuit is. Hierdie newe-effekte is gewoonlik tydelik, maar kan tot twee weke duur. Moet nooit huiwer om jou praktisyn te kontak as hierdie reaksies langer as ‘n week duur of as jy enige ander newe-effekte ervaar nie. Die eerste 24 uur ná behandeling moet jy verkieslik strawwe oefening, oormatige son- of hitteblootstelling en alkohol vermy. Probeer om temperature onder 0 °C ook te vermy.
6) Wie mag hierdie prosedures uitvoer?
Allergan meen slegs opgeleide en gekwalifiseerde mediese personeel mag hierdie inspuitings uitvoer. Dit sluit estetiese dokters, dermatoloë en plastiese chirurge in. Botoks is ‘n skedule-4-medisyne in Suid-Afrika. Alle mediese praktisyns, wat by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika geregistreer is, word volgens wet toegelaat om hierdie produk voor te skryf. Allergan is betrokke by die tegniek- en vaardigheidsopleiding van mediese praktisyns wat tans die produk gebruik om optimale resultate vir pasiënte te verseker.
7) Wat is die nuutste in teenverouderingbehandelings?
Allergan sê die “opvul”-neiging om die vel jonger te laat lyk, is ‘n groot tendens. Plooie is nie die enigste sigbare tekens van veroudering is nie. Soos ons verouder, verloor ons die strukturele ondersteuning in ons wange, wangbene en kakebeen, wat tot ‘n moeë, ingesonke voorkoms kan lei.
Dit kan met die nuutste dermale vullers soos Juvederm® VOLUMA®, wat Lidocaine bevat, herstel word. Allergan het onlangs Juvederm® VOLBELLA™ met Lidocaine bekendgestel wat die lippe en mondgedeelte behandel. Natuurlike lipvolume en -kontoere kan herstel en gedefinieer word.
Nog ‘n belangrike skoonheidstendens is die “nuwe natuurlike voorkoms”. Tegnologie verbeter só om dermalevullerjel te bevorder en dit gladder te maak, wat tot ‘n natuurliker, blywende resultaat lei. Hierdie jongste tegnologie voldoen aan vroue se behoefte om jonger te lyk, maar dit nie wil oordoen nie.
8) Na watter bestanddele moet jy uitkyk in teenverouderingsprodukte?
SBF is ‘n belangrike bestanddeel. Die son is een van die grootste onderliggende oorsake van ‘n verouderde voorkoms. Baie nuwe produkte bevat HA bevat. Hoewel dit baie belangrik is vir hidrasie, besef mense nie dat as dit op die oppervlak aangewend word dit nie dieper, onderliggende hidrasie verskaf nie.
9) Watter soort teenverouderingsprodukte behoort elke vrou te hê? Een room of ‘n hele reeks?
Wat ook al haar behoeftes en begroting pas. Dit is ook belangrik om produkte te vermy wat velreaksies veroorsaak.
10) Hoe kan vroue die verouderingsproses vertraag?
Hidreer die vel en gebruik ‘n goeie sonskerm. Dit is die geheim tot die handhawing van ‘n goeie, gesonde vel en voorkoms. Dit is belangrik om met ‘n gekwalifiseerde velspesialis te praat om te verseker dat jy produkte gebruik wat by jou individuele behoeftes pas.
Vir meer inligting besoek www.allergan.co.za
SOURCES
Elmarie Knapton